Die (moontlike) ondenkbare: Wanneer die water ophou vloei …

Saliger.jpgDibi Symington, skrywer van die spanningsromans Saliger en Vrediger.jpgVrediger het op Vryheid in Noord-Natal die ondenkbare oorleef: Die dag wanneer daar nie meer water by die kraan uitkom nie. Sy het vir my die onderstaande stuk geskryf oor presies hoe sy daardie “oorleef” aangepak het. Ek dink ons hier in die Kaap moet so stadigaan (of redelik vinnig!) begin gewoond raak aan die gedagte dat dit dalk op ‘n kwade dag by ons ook kan gebeur. En ten minste in ons koppe begin planne maak.
Baie dankie, Dibi!

Hoe om te oorlewe in die Einde der Dae

Ek is ‘n vreeslike angstige mens. My lewensbeskouing is apokalipties. Dit was nog altyd. Selfs as kind het ek bevestigend saamgeknik as die dominee Sondae in die kerk preek oor die ellende en plae wat sondaars te wagte kon wees. Die eindtye was van my komdae af net ‘n dagreis ver. Ek het die Oordeel al drie keer aan eie bas gevoel.

Die eerste keer was die enorme droogte van vier en tagtig in Noord Natal, toe ek dertien was. Ek kan onthou hoe die mense gemurmureer het oor die drakoniese waterbeperkings wat destyds deur die munisipaliteit ingestel is: ses kiloliter per gesin per maand, of jy betaal ‘n boete wat jou laat bid vir genade. Op die een of ander manier het ons dit oorlewe. As ek nou daaraan terugdink, was ses kiloliter ‘n hengse klomp water. Deesdae oorlewe ons op vier. As kind het hierdie droogte ‘n geweldige diep indruk op my gemaak en het veroorsaak dat ek in my volwasse lewe geweier het om ooit iewers te gaan bly waar die jaarlikse reënval minder is as 1000mm per jaar is.

Die vier en tagtig-droogte is gebreek met ‘n vloed van Bybelse proporsies. As laerskoolkind in Newcastle het ek in die klas gesit en kyk hoe die sikloon Domoina strome van seën uit die hemele laat val. Waterbeperkings is opgehef en die droogte is iets wat ek in my agterkop gebêre het, vir baie jare. Toe, in 2015, in Vryheid, Newcastle se buurdorp waar ek nou bly, hoor ons die eerste rommelinge van ‘n naderende ramp. Die dam is besig om leeg te loop, fluister mense agter bakhande. Daar is net genoeg water tot Desembermaand.

Niemand het dit ernstig opgeneem nie. Waar in jou lewe het jy al gehoor dat daar nie water is nie? Dit is tog ‘n basiese mensereg. Die rommelinge het egter nie verdwyn nie en in Oktober 2015 het die bo-deel van die dorp se water eerste opgeraak. Weereens het niemand dit opgeneem nie. Mense in die onderdorp het maar aangeneem dis die rykgatte wat weer kla uit gewoonte en goed so. Hulle sit verniet so lekker op hulle troontjies. En toe, in Meimaand 2016 is die hele dorp se water heeltemal klaar. Een oggend het die mense die krane oopgedraai en toe is daar net…niks.

Interessant genoeg het ek iets van hierdie ontkenning van die werklikheid gedurende Maartmaand in die Kaap ervaar toe ek daar was vir die Woordfees. Dit was asof die erns van die situasie so groot is dat mense dit nie kan snap nie. Ons het dit ook hier belewe. Alhoewel groot elektroniese borde langs die snelweg van die lughawe na Stellenbosch op daardie stadium gewaarsku het dat daar slegs 28% bruikbare water in die damme oor was, was daar geen beperkings op waterverbruik in die gastehuise of enige van die fasiliteite wat ek besoek het nie, geen onrustige kyke na die bitterblou hemel nie.

Die munisipaliteit se oplossing vir ons probleem was om groot watertenks op strategiese punte op te rig waar water uit ‘n noodvoorraad onder streng beperkings beskikbaar gestel is. Dit was ‘n groot gelykmaker want skielik het almal in waterdraers verander. Diegene met watertenks (wat ek sterk kan aanbeveel) het dit die maklikste gehad, want hulle het hulle tenks een keer elke twee weke volgemaak, afhangende van die grootte van die tenk. Die klank van drukpompe het so algemeen geword soos hanekraai. Dit het natuurlik ‘n florerende klein besigheidsfenomeen tot gevolg gehad: dié van waterafleweraars – mense wat namens jou in die tou gaan staan by die waterpunte en jou watertenk by die huis kom volmaak, teen ‘n prys, natuurlik. Dit is vrye onderneming op sy beste. Wat kan ek sê? Belê in ‘n Jojo-tenk en ‘n drukpomp. Dit gaan jou baie ellende spaar.

In die dae net nadat die water heeltemal opgeraak het (dit was ‘n Saterdag. Ek was nog besig om wasgoed te was, toe is daar skielik niks meer water nie) was ons verplig om soos die meeste mense in die dorp ons water met vyf liter-houers of enige ander hol ding by die versamelpunte te gaan haal. Ek sal nooit die gesig vergeet van die ou gogo’s en die kinders wat die sware waterkanne op hulle koppe na hulle huise toe dra nie.

Dertig vyfliterhouers was genoeg water vir ons huis met sy vier inwoners en twee troeteldiere vir vyf dae (Op daardie stadium het ons nog nie ‘n tenk gehad nie.) Nou dat ek daaraan terugdink is ek nogal beïndruk met ons ondernemingsgees, maar toe was dit nie pret nie. Dit het só gewerk: elke persoon in die huis het ongeveer drie liter water gekry om mee te stort in die oggend, miskien ‘n bietjie minder. Hoe ek weet dit is drie liter, is omdat dit die grootte van die kastrol was waarin ons water warm gemaak het. Dis iets wat niemand vir jou vertel voordat dit gebeur nie: Wanneer daar geen water in die pype is nie, moet jy jou geyser afskakel anders brand hy uit. Daarby moet jy ook jou stopkraan toemaak, want die lug wat deur die pype stroom veroorsaak ‘n enorme waterlesing in jou meter – self al tap jy nie ‘n druppel water nie.

Ek wyk af.

My man het vir my ‘n induksieplaat gegee vir Kersfees die vorige jaar, en daarop het ons ons stortwater warm gemaak. Die stortwater is in ‘n emmer gegooi en na die stort aangedra waar ons ‘n kampstort met ‘n dompelpomp ingerig het (vryelik beskikbaar by kampwinkels). Só het die storter (is daar so ‘n woord?) dan binne-in ‘n skottel gestaan (ook spesiaal vir dié doel aangeskaf) en stort – so ‘n tipe van “wax on, wax off” – operasie. Die stortwater in die skottel is dan in ‘n houer met ‘n deksel langs die toilet gegooi vir latere gebruik. Toilette is net gespoel as dit regtig nodig was. Dustin Hoffmann het dit in “Meet the Fockers” só uitgedruk: “If it’s yellow, let it mellow. If it’s brown, flush it down.”

Natuurlik het dit probleme van sy eie veroorsaak, want jare se ingeburgerde toiletmaniere moes afgeleer word. Glo my, ‘n mens maak baie vinnig vrede met jou meer basiese kant. Toiletpapier is nie in die toilet gegooi wanneer die toilet nie gespoel sou word nie, want dit veroorsaak die allerverskriklikste blokkasies wat in die afwesigheid van spoelwater ‘n enorme ramp is en die vrede in die huis tot die uiterste beproef. Die oplossing vir dié probleem in my huis was by Checkers te vinde. Hulle verkoop sulke pikante Italiaanse asblikkies met opwipdeksels by name van Ecobins. Toiletpapier vir neuse en nommer eens het daarin geland en om later diskreet verwyder te word en asblik toe te gaan. Natuurlik vertel niemand jou van die toiletpapiersituasie tot jy dit nie self belewe het nie, maar glo my vry: dis nie iets wat jy wíl ervaar nie.

Wanneer die water in die pype heeltemal opdroog, beteken dit by implikasie dat skottelgoed met die hand gewas moet word. Vir mense met tenks en drukpompe is dit nie ‘n probleem nie, en dit bespaar nogal water ook, want die meeste skottelgoedwassers gebruik bitter min water. Vir die tenkloses beteken dit egter nie dat die skottelgoedwasser oorbodig is nie. Wanneer water min is, was ‘n mens eenkeer per dag skottelgoed. My skottelgoedwasser het ‘n handige bêreplek vir vuil skottelgoed geword tot vanaand wanneer die noodsaaklike opruimoperasie kon plaasvind.

Ek het twee skottels binne-in my wasbakke gesit (wasbakke vat BAIE water, veral as jy dit self by ‘n waterpunt moet loop haal. Jy wil maksimum myle uit uit jou moeite put). Dan het ek kookwater gemaak om die vuil borde in te was (met handskoene, natuurlik) en suurlemoensap of witasyn in my afspoelwater gegooi om die seep te neutraliseer. Dis verbasend hoeveel skottelgoed ‘n mens so gewas kry. ‘n Mens spaar nogal op skoonmaakgoed, want 2,5ml Sunlight liquid was deksels baie borde in 3 liter water. Die gebruikte afspoelwater is natuurlik ook na die toilet se waterhouer toe.

Ek het aanvanklik papierborde en weggooibare messe en vurke oorweeg, maar dit was nie vir my ekologies vriendelik nie. Wat betref potte en panne het catering-foelie in 100m rolle my beste vriend geword, want ek het dit gebruik om die kookware mee uit te voer (in dubbellae) ten einde my skottelgoedlading te verminder. “Waterlose” skoonmaakgoed soos pine gel het ook baie gehelp, en my gesin het baie vinnig geleer om in sulke droë toestande nog skoner as gewoonlik te lewe omdat die middele om ‘n gemors op te ruim bloot nie daar was nie.

Vir wasgoed het ek twee vyftig liter asblikke met roldeksels gaan koop wat ek volgemaak het aan die begin van die week: een vir was en een vir afspoel. Ek het my masjien gebruik ( ‘n Samsung-bolaaier) op sy laagste waterverstelling. In droogtetoestande is ‘n dubbelbalie egter ‘n wenner. Witgoed is Maandae en Dinsdae gewas en die water weer teruggetap in die drom; ligte goed Woensdae en Donderdae en donker goed Vrydae en Saterdae met dieselfde water totdat dit soos Coke gelyk het. Daardie water is dan uiteindelik toilet toe en die spoelwater het die nuwe waswater geword. Dis maar wat almal gedoen het.

Die ergste ding van die droogte was egter die effek op mense se gemoed. Ons dorp het ‘n geweldige klomp mense verloor hierdie afgelope twee jaar; besigheidsmense en ou inwoners wat al vir dekades hier bly. Niemand weet hoe bleek die lug kan raak en hoe giftig siaanblou kan wees tot dit nie meer reën nie. En die droogte is nydig. Hier by ons het ons in die middae die allermooiste opbou van donderwolke gehad en elke middag het die donderwolke weggedonder; miskien ‘n druppel hier en ‘n druppel daar asof die hemele vir ons lag. Steeds wantrou ons enige aanduiding van reën; weier ons om opgewonde te raak oor weervoorspellings. Ons is te veel kere teleurgestel.

‘n Wenk: ‘n Teelepel Jik kry die reuk uit die vrotste water uit. Soos wat julle nader aan die bodem van julle damme kom, mag die kraanwater al meer na slik ruik. Jik werk daarvoor soos ‘n bom!

Die beste van alles was dat ons buurdorpe baie water gehad het en steeds het. Dis net in Vryheid waar daar geen druppel water was nie. Ek is vas oortuig daarvan dat soos in die dae van Noag, daar ‘n reusagtige heiden in die dorp was wat veroorsaak het dat dit nie reën nie. Ek dink die fecker het intussen getrek of ten minste met vakansie gegaan, want die dam is darem alweer amper tagtig persent vol.

Dit was ‘n wilde twee jaar. Regtig. En ‘n gelykmaker. Wanneer jy daar by die waterpunt staan, is jy bloot mens met dieselfde basiese behoefte as die persoon voor jou en die persoon agter jou, of jy nou dokter, dominee, huishulp of werklose is. Ek is egter intens dankbaar dat ons vir nou weer water in ons pype het. Hoe lank dit gaan hou is natuurlik ‘n raaiskoot in die donker.

Ek dink aan julle, Kapenaars. Verskriklik.

Sterkte.

4 gedagtes oor “Die (moontlike) ondenkbare: Wanneer die water ophou vloei …

  1. Hierdie is ‘n “eye-opener” soos min. Ons spaar reeds baie water op maniere reeds hier genoem. Ek was reeds skottelgoed met die hand in ‘n sentimeter water, dis verbasend hoe skoon mens tog goed kan was met min water. Dan het ek ‘n beker water eenkant waarmee ek die seep bietjie bietjie afspoel. Omdat ons reeds 7 jaar ‘n huis op ‘n plaas huur, ken ons reeds van droë krane. Die waterpomp was al vir twee dae stukkend oor ‘n naweek. Dus staan daar nou altyd 15 vol 5 liter kanne in my huis rond. Weggesteek in die badkamer en in ander hoekies. Klein bietjie jik hou die water skoon. Tot onlangs het ons gereeld die kanne omgeruil en die water vir die tuin of toilette gebruik. Ons het ook al die skotteltjie stort aan eie bas ervaar. Ons kook twee ketels water en gooi dit in ‘n emmer en vul emmer dan op met koue water en skep so uit die emmer en gooi oor onsself. Die hele stort proses vat so 5 liter water. Ons het ook ‘n gasstofie vir die kokery. Ons doen so voort. Mag dit ons gespaar bly dat die krane heeltemal opdroog.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s