Katalaya het silwerwit hare en dra funky klere, maar sy ís sestig jaar oud. En alleen. Soms wens sy Franco het eerder mooi ordentlik doodgegaan, as om die pad te vat. Al wat vir haar oorbly, is ’n miniatuurgrootte gaatjie in die meenthuiskompleks vir weduwees, weggooivroue en lelike vroue wat nie mans kon kry nie.
Haar kinders gee haar grys hare, wat sy juis nie wil hê nie. Verder worstel haar bejaarde ma met seniliteit en lap alles uit wat hulle ’n leeftyd lank geheim wou hou; ook oor Ben wat in die buitekamer gebly het toe haar pa die stadsklerk van die dorp was. Dit was net Jan-Adam Vermeulen wat vermoed het Ben was soveel meer as net ’n chauffeur, maar ná ’n tragedie wat die hele dorp geskud het, het hy uit hul lewe verdwyn.
Nou beweer haar ma ’n man met ’n Elvis-kuif was in haar besemkasgrootte kamertjie in Huis Herfsblaar, en later kom sy met ’n vreemde versoek – Katalaya moet na Ben gaan soek voordat dit te laat is.
Katalaya se pelgrimstog lei haar na die laaste skakel wat die legkaart van haar lewe voltooi, net om te ontdek dat die liefde en die begeertes van die lyf nie sommer tot rus kom nie én dat die lewe so veranderlik soos kwiksilwer is.
Chanette Paul oor Foxtrot van die liefde: “Katalaya se verhaal word veral in die begin by tye so eg aangebied ek het gevoel ek betree heilige grond. Asof ek ʼn voyeur is wat inkyk op haar pyn, haar worsteling om vrede te maak met die ouderdom, haar huwelik, haar kinders, haar verlede en haar vrees vir eensaamheid. Dis egter nie ʼn swaarmoedige storie nie danksy die humor wat ook oopgeboor word.”
Oor die skrywer
Foxtrot van die liefde is Kristel Loots se sewende moderne “liefdesroman” – die soort wat skaamteloos skryf oor die liefde, maar ook die alledaagse omarm. Met Aspoesterskoene het sy die leefwêreld betree van gewone vroue van verskillende ouderdomme en figure wat die wonder van die liefde opnuut ontdek. Ná Sjokoladesoene en Lemoenseisoen, wat sy met die tong stewig in die kies skryf, volg die suksesvolle tweeluik, Eendagmooi en Die ander vrou. Daarin word die verhaal vertel van twee vroue – en hul gesinne – aan weerskante van die spektrum wanneer ’n huwelik op die rotse beland.
’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans word aan Eendagmooi toegeken en Die ander vrou is ’n finalis in dieselfde kategorie. Die lag-met-’n-traan-aanslag word voortgesit in Katerina se mojo en nou ook in Foxtrot van die liefde. Haar lesers verlekker hulle aan Loots se humoristiese skryfstyl wat aan die tragikomedie raak.
Kristel skryf ook verhale en artikels vir verskeie vrouetydskrifte. Meer as veertig romans van haar het al onderskeidelik by LAPA Uitgewers, Tafelberg en Carpe Diem verskyn.
* * *
Foxtrot van die liefde is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za
Persvrystelling van LAPA Uitgewers