RSS

2016 was ‘n riller … And so say all of us …

31 Des

Want to inspireLyk my dit het mode geword om vir mekaar te vertel wat ‘n dolle jaar dit was.

Tot op ‘n punt het ek hartlik meegedoen.

Maar toe besef ek moet verder dink. Ja, daar was moeilike dinge. Maar daar was altyd ‘n MAAR.

  • 2016 het begin met my eerste ervaring van angs. Angs wat jou beheer laat verloor, angs wat jou laat glo jy is nou al jou varkies kwyt, wat jou keel laat toetrek en jou hart op loop laat sit en jou vir die toekoms laat vrees.

Maar dit het verby gegaan. (Met die regte pilletjie en heelwat vasbyt.)

  • Die Swart Hond was vanjaar nie net op my spoor nie; hy het kom intrek. Hoe beskryf mens die donkerte? Dag en nag? Come rain or shine? Die doelloosheid, die moegheid, die uitsigloosheid. Terwyl jy met jou verstand goed weet jy het tonne en tonne seëninge om voor dankbaar te wees? Maar dit help jou niks. Behalwe om jou ongelooflik skuldig te laat voel.

Maar ek is nog hier. Ek het my No Surrender-tattoe gekry en ek sal seker die kommapunt ook moet kry. (As jy nog nie weet van die kommapuntprojek nie, Google gerus. Semicolon.) My storie is nog nie klaar nie.

  • Drie nuwe soorte pille wat net moegheid en wanhoop bring, het my teen die planke gehad. Terapie het my by ‘n lieflike persoon uitgebring, maar nie veel verder verander nie. Die raad wat ek so graag uitdeel van drink jou pille en sien jou terapeut het nie meer vir my gewerk nie.

Maar ek is nog hier. Die ou pilletjies is genadiglik ook nog  hier.

  • Die nuus wou my vanjaar oorweldig. Dit terwyl ek myself so ver as moontlik daarteen probeer beskerm. Mens wil tog ook nie volkome onkundig wees nie. Ek gaan nie begin opnoem wat my ontstel het nie. Jy kan jou eie lysie maak. Ons weet almal dis ‘n flippen lang lys.

Maar ek kan ook ‘n indrukwekkende dankbaarheidslys maak:

  • Ek het my vrese vir alleen reis en moontlike angsaanvalle oorwin en na die kinders toe gevlieg. En daar die busse (soort van) bemeester en die plek platgeloop en ongelooflike vreugde ervaar.20160724_131426.jpg
  • Ek het my min geloof in my fisieke vermoëns oorwin en weer ‘n Springsteen show van drie en ‘n halwe ure deurgestaan terwyl ek nie so fiks was soos die vorige kere nie. Plus die drie uur vooraf. En nie siek of seer gevoel die volgende dag nie. Dankbaarheid.20160726_224142.jpg
  • Ek het uit Bruce Springsteen se musiek dieselfde vreugde geput as in vorige ligter jare. Daarby het hy ons (= die fans, miljoene van ons, duisende van hulle baie meer manies as ek) bederf met sy outobiografie. Nie net wonderlik oor ons fans is nie, maar oor dit ‘n lieflike, lieflike, egte, eerlike, fantasties geskrewe boek is. En toe sit hy die kersie op die koek: Hy lees dit self voor vir die oudioboek. Al 16 uur en 15 minute daarvan. So ken ons hom – die Amerikaners sê “He empties the tank.” Hy gee alles. Hy bly vir my ‘n voorbeeld en ‘n inspirasie.
  • Ten spyte van die dreigende donkerte kon daar twee romanses en ‘n roman van my verskyn. Ten spyte van die donkerte kon ek twee nuwe romanses en ‘n kortetjie (nuwe konsep – interessant) geskryf kry. Ek het die helende krag van ontvlugtingsleesstof eerstehands ervaar. Dit help net soveel om dit te skryf. Romanses is nie gemors of kaf of niks werd nie. Romanses bied ontvlugting uit ‘n wêreld wat vir ons te veel geword het.NET 'N MENS voorblad.jpg
  • Ja, die kinders is steeds in Noorweë. Nou is daar drie van hulle, met die toevoeging van die amper-skoondogter in Junie. Maar hulle hou kontak, hulle kom huis toe, hulle lewe hulle lewens toegewyd na die beste van hulle vermoë. En met die troureëlings was Jongste gereeld hier, meer gereeld as wat enige ma kan verwag. En toe was daar die troue. Wat ‘n vreugde om my kind so gelukkig te sien. Wat ‘n voorreg om te weet hy het iemand met integriteit en opregte liefde gekies.Paartjie.jpg
  • Ek het gesukkel om fisiek aan die gang en fiks te bly. As mens depressief is, wil jy net een ding doen: LÊ. Maar die Parkrun het in ons lewens gekom. Vyf kilo’s teen jou eie pas op ‘n mooi plek. Elke Saterdagmôre.

Nog vreugdes?

Ja, daar is baie as ek net onthou om te kyk.

  • Hartsvriendinne wat baie jare aankom. Nuwes wat nuwe vreugde bring.
  • Om sestig te kan word met baie van hulle rondom my.20160430_120851.jpg
  • My lesers. Ek voel steeds skaam om van fans te praat. Maar daar is mense wat geld uithaal vir my boeke, wat hulle kosbare tyd gebruik om dit te lees, wat die moeite doen om te laat weet as die lees lekker was.
  • Die stapeltjie Moeder Teresa-truitjies wat my artritisvingers kon brei.
  • Die twee en dertig flieks en vyftig boeke wat my siel verbly het. Veral die Afrikaanses onder hulle.
  • My kwynende hond wat steeds met ons is. En steeds ‘n daaglikse voorbeeld is van leef sonder terughou.
  • Die gemmerkaters met al hulle streke. En hulle absolute genieting van die goeie dinge in die lewe. Eet … slaap … repeat …
  • My huis. Aan die oudword en vol skete. Maar stewig in ons goeie aarde geanker.
  • My familie. Niemand het vanjaar weggeval nie. Groot dankbaarheid.
  • En veral: My goeie, goeie man. Altyd hier, altyd geduldig, altyd hard aan die probeer om te verstaan. Sewe en dertig jaar se dankbaarheid.

Ja, 2016 was nie maklik nie. Maar wie het ‘n wet gemaak dat die lewe maklik moet wees?

Ek is nog hier. No surrender.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

5 responses to “2016 was ‘n riller … And so say all of us …

  1. Marietjie Ackermann

    31/12/2016 at 12:19

    Baie dankie baie geniet. Jy help my so baie om die siekte te verstaan.

    2016-12-31 12:05 GMT+02:00 Alta Cloete :

    > Alta Cloete posted: “Lyk my dit het mode geword om vir mekaar te vertel > wat ‘n dolle jaar dit was. Tot op ‘n punt het ek hartlik meegedoen. Maar > toe besef ek moet verder dink. Ja, daar was moeilike dinge. Maar daar was > altyd ‘n MAAR. 2016 het begin met my eerste ervaring ” >

     
  2. kristelloots

    31/12/2016 at 13:30

    Sjoe, Alta, eintlik het jy teen `n merkwaardige huppelstap geLEEF hierdie jaar wat verby is. I’m okay, you’re okay, we’re all okay. Blessings!

     
  3. travel460

    31/12/2016 at 15:04

    Ek lees jou skrywe en ek erken so baie van myself daarin. Al verskil ons as mense se lewens meestal radikaal, vind ons tog aanklank by mekaar in ons hoog en laagte punte. Seën vir julle in die nuwe jaar.

     
  4. Leeukind

    31/12/2016 at 20:10

    Woorde wat raak aan die hart. Dankie xx

     
  5. KleinKitti

    01/01/2017 at 16:47

    …. en so besef ek maar weereens dat ons almal net vlees en bloed is.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: