Feestyd – gevaartyd!

kersfees-saHierdie tyd van die jaar is alles erger. As jy bly is, is jy baie bly. (Of jy voel jy behoort eintlik BAIE bly te wees.) As jy hartseer is, is jy baie hartseer. Dinge is geneig om in uiterstes te gebeur en emosies geneig om intens te wees.
Verliese wat mens hierdie tyd van die jaar tref, voel ook erger as gedurende die jaar. Want jy weet vir die res van jou lewe gaan die feestyd vir jou met daardie verlies geassosieer wees. (‘n Sinvolle stukkie raad wat ek iewers gelees het, sê mens moet liewer die rituele van Kersfees, ens. probeer verander wanneer jy dit die eerste keer sonder ‘n spesifieke geliefde vier. Dan sit jy ten minste nie aan daardie selfde tafel met al dieselfde trimmings en ‘n leë stoel nie. Probeer skep liewer ‘n nuwe gewoonte. Wat nie beteken dat jy ooit gaan vergeet nie.)
Vir depressievegters is dit ‘n gevaartyd. (Soos die lente vir sommiges.) Ons is mos hoeka goed met uiterste emosies, nie juis mense wat neutraal staan teenoor dinge nie, ook nie dinge louwarm ervaar nie. 
Na my mening lê die grootste gevaar van die feestyd in die ou kwessie van onrealistiese verwagtinge. Die hele wêreld is (oënskynlik) so gelukkig … almal gaan see toe, of familie toe, hou partytjies, kry presente, eet oordadige maaltye … Nou hoekom voel ek dan nie so gelukkig soos die res van die wêreld nie? Ek gaan tog ook see toe en my matriekkind het deurgekom en niemand in die familie is dood nie … maar steeds kry ek dit nie reg om so stralend gelukkig te voel nie.
Ek probeer deesdae hard veg teen daardie begeerte om ALLES so VREESLIK WONDERLIK te wil hê. Want die lewe gee ons op sy beste hier en daar ‘n perfekte OOMBLIK. Die res van die tyd moet ons maar tevrede wees met effens (of heelwat!) minder as die volmaakte. Dit voel vir my ‘n mens moet bly wees oor die lekker en maar probeer om die minder lekker te aanvaar. Dan is jy nie so geskok as die familie nie almal in ekstase oor hul geskenke is nie, of as dit reën by die see of as die matrikulant ‘n ietwat uitrafel nie. En dan mors ‘n mens nie soveel energie met selfbejammering en wroeginge nie.
Nee, ek bepleit nie ‘n kleurlose lewe van vaal emosies en geen plesier nie. En ek bepleit definitief nie negatiwiteit nie. Ek dink net ‘n mens moet versigtig wees om intense emosies by jouself aan te blaas in hierdie tyd. En die vreeslike verwagtinge so ‘n klein bietjie probeer afskaal.
Dan is dit hopelik makliker om bloot dankbaar te wees vir wat jy het – en nie heeltemal in sak en as te sit oor al die ellende wat steeds in hierdie tyd in die wêreld is nie.

6 gedagtes oor “Feestyd – gevaartyd!

  1. Of, geniet dit wat jy geniet voluit, want daarin is jy mos baie goed.
    Maarrrr waak teen die negatiewe gedagtes wat jou op ‘n verkeerde stasie laat uitkom.
    Sterkte!

  2. Goeie dag,
    Ek is tans besig om deur die boek “In die Donker put” te werk. Ek ly al baie jare aan depressie en hierdie boek vat dit so perfek saam. MAAR ek gebruik al jare medikasie, was al in kliniek opgeneem maar dis asof ek net nie heel kan word en begin lewe. Ek was bv nou vir 2 weke met verlof waarvan ek net 2 keer klere aangetrek het. Verder het ek slaapklere aangehad geslaap geslaap gehuil bekommer paniekerig geraak noem maar al die simptome en ek het dit. Ek het komplekse verlede met huwelik kinders werk ens. Ek weet nie meer watter kant. Ek is dae in my kamer. Ek kan net nie beter voel nie.

    1. Elri, ek voel jou pyn. Ek weet waarvan jy praat. Ek het self die afgelope jaar baie swaargekry.
      Al wat ek kan sê is dat ek gevind het NET ek alleen kan myself help. EK moet uit die bed opstaan, aantrek, koffie maak … aangaan met die dag. En ja, dit vat ongelooflike vasbyt. En ek kry dit ook nie altyd reg nie. Maar wanneer mens ten volle verantwoordelikheid vir jouself neem, besef jy: It’s up to me. Dis my keuse. Dis natuurlik terwyl jy op die regte medikasie is en verkieslik ook ‘n terapeut sien. As dié goed in plek is, kan mens jouself begin help.
      Ek sluit ‘n paar skakels in met my gedagtes. Dalk het jy dit al gelees. Dalk is daar iets wat jou kan help.
      https://altacloete.wordpress.com/beveg-depressie/random-gedagtes-wat-jou-kan-help/
      https://altacloete.wordpress.com/beveg-depressie/die-bose-sirkel/
      https://altacloete.wordpress.com/beveg-depressie/as-jy-aanhou-gly/
      https://altacloete.wordpress.com/2014/05/04/wat-is-die-verskil-tussen-n-depressielyer-en-n-depressievegter-2/
      Baie sterkte vir jou! Onthou, jy is nie alleen nie!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s