Bly by my – slot

really_big_wave“Hoekom was jy Kersoggend so hartseer?” Al is dit donker, weet Christopher hoe lyk die oë wat vraend na hom opkyk: diepbruin en ‘n bietjie seergemaak. Een of ander tyd sal hy móét antwoord, sy stilswye begin aan onbeskoftheid grens.

Dis amper middernag. Oujaarsaaand. Hulle sit-lê langs mekaar op die bank met hulle kaal voete op die stoepmuurtjie voor hulle, hulle oë op die donker oseaan, wagtend vir die fakkels wat met die aanbreek van die nuwe jaar van verbygaande skepe afgevuur word.

Haar ma-hulle se kamervenster is reg agter hulle, maar dis nie vir hom ‘n issue nie. Hier gaan nie vanaand gevry word nie. Hierdie girl is te kosbaar vir casual vryerasies.

Sewe dae leef hy nou al in ‘n lugborrel van vrede en liefdevolle sorg. Maar die oomblik waarop die borrel noodgedwonge moet bars, kom met ‘n hengse spoed nader. Hy kan nie aanhou misbruik maak van hierdie mense se goedheid sonder dat hulle ‘n snars van sy lewe weet nie.

Dat die oom hom nog nie uitgegooi het nie, sê veel vir sy insig en mensekennis. Verkrampte ou boere-omie, het hy daardie eerste aand gedink. En hom lelik misgis. Daar skuil ‘n vlymskerp brein onder die blink pankop en ‘n hart so ruim soos die waenhuis op sy plaas in die groot ou borskas.

Toe Belinda Kersoggend op die verlate kuspad na hom toe aangehardloop kom met haar musiek in haar ore en onbegrip en vasberadenheid op haar natgeswete gesiggie, het hy geweet hier maak sy lewe ‘n draai. Maar die rigting van die draai kon hy nog nie so lekker kleinkry nie.

Sy’t nie uitgefreak oor ‘n uitgegroeide mansmens wat langs die see staan en grens nie. Sy’t langs hom bly staan en haar asem teruggekry en stilgebly tot hy homself min of meer bymekaar gehad het.

‘n Meisie wat weet wanneer om stil te bly, is ‘n kosbare verskynsel.

Dit het niks gekos om hom te oorreed om saam te gaan terug huis toe nie. Hy het gesmag na die warmte, die geborgenheid, die lekker kos, die obvious liefde tussen hulle drie.

Niemand het buitengewoon verbaas gelyk toe sy weer met hom daar aankom nie. Die oom het woordeloos nog ‘n koppie koffie uit die warmfles langs hom geskink. Die tannie het haar bril afgehaal, haar laptop afgesit en terstond die oom begin rondorder – van die honger het hy beslis nie hier vergaan nie.

Hy het die spul vuil klere en stink tekkies op sy kar se agtersitplek in sy arms bymekaargemaak en op sy bed in die buitekamer gaan dump, die Volla op die oom se instruksies langs die huis ingetrek en sy branderplank stoep toe gedra. Toe het hy langs die oom op die stoep gaan sit en hulle het in gemeensame stilte oor die see gestaar met die tweede koppie koffie byderhand.

“Jy’t seker nie klere vir kerk nie, kind?” het die tannie naderhand kom vra, haar arms vol van sy gemors.

Hy het sy kop verleë geskud, skielik weer bewus daarvan dat hy eintlik inbreuk maak op mense wat hy van g’n kant af ken nie.

“Toe maar, ons luister sommer vandag die radiodiens,” het sy net gesê, teruggedraai en die spul vuil klere vir die wasmasjien gaan voer. Hy het nie eens probeer teenstribbel nie; hy wou tog nie regtig nie.

Hy was bewus van ‘n reusagtige behoefte om ‘n bietjie gemother te word.

Niemand het gekarring oor waar Belinda hom weer gekry het nie, ook nie sy ongeskikte vertrek van die oggend opgehaal nie. Natuurlik het sy hulle eenkant vertel van sy grensery, hierdie mense het nie geheime vir mekaar nie.

Sy afgeskakelde selfoon lê al die hele week beskuldigend op sy bedkassie waar die tannie dit neergesit het toe dit tussen sy spul goed uitgeval het. Hy sien hoe kyk sy die foontjie as sy hom soggens met koffie in die bed bederf. ‘n Mens kan sien hierdie tante het seuns grootgemaak, sy weet om nie te karring nie, al brand sy hóé.

Langs hom wag Belinda op ‘n antwoord. Die eerste fakkel red hom hierdie keer. “Kyk!” Hy wys na die eerste ligstippel ver oor die see, toe nog een, nader, en nog een en nog een. ‘n Klein fees van nuut begin.

“Gelukkige Nuwejaar, kinders!” roep haar ma-hulle uit die kamer agter hulle. Na die hotel se kant toe begin ‘n paar toeters blaas, ‘n motor jaag brullend verby. Dis die somtotaal van die dorpie se naglewe. Maar hy worry nie, hy het als wat hy wil hê. Vir die oomblik.

“Gelukkige Nuwejaar, Bollie.” ‘n Ademlose, eindelose oomblik is sy in sy arms, sy lippe rus ‘n klein ewigheid op hare. Kophou, Christopher, kophou, moenie verwagtinge skep nie, sy’s te jonk vir jou. Miskien nie soseer in jare nie, maar beslis in ondervinding.

Hy is een-en-twintig. ‘n Deel van hom voel vyf en ‘n deel van hom voel vyftig. Of honderd.

“Gelukkige Nuwejaar, Stoffeltjie,” sug sy teen sy skouer. Hy gaan hierdie lieflike meisiekind seermaak. Haar pa gaan hom vrekmaak, en hy sal dit verdien.

Ja, hy noem haar Bollie en sy noem hom Stoffeltjie. Soos sy ma hom noem. Genoem het in beter dae. En dít is die somtotaal van die inligting oor homself wat hy die afgelope week met hierdie gasvrye mense gedeel het, in ‘n simpel poging om ‘n boetie-sussie-verhouding tussen hom en hulle kosbare laatlamdogter te vestig. Wat nie gewerk het nie.

Hy is te bewus van haar hier teen hom. Hy lig sy lyf teensinnig van die bank af. “Kom, ons gaan stap gou ‘n draai voor ons kom slaap.” Sy vat sy hand vertrouend, soos die aand toe hy met haar by die spin-the-bottle party uit is. Sy vertrou te maklik, hy ys as hy dink hoeveel sy nog moet leer.

Dis laagwater, die see sug rustig om hulle voete. Op die horison gaan ‘n skip verby, op die verste duin raas ‘n klomp jonges om ‘n yslike bonfire. Hulle begin stap met hulle voete in die ysige Weskuswater, al vinniger soos die briesie kouer word, tot hulle laggend hardloop dat die boë water om hulle voete staan. Sy’s ‘n flippen goeie atleet, sy sleep gou-gou vermakerig onder hom uit. Soms dink hy water is sy eintlike habitat, hy hardloop lomp en halfdom in die sand.

Hy het hierdie week lieflike surf-dae gehad . Soms het Belinda saamgegaan, daglank teen ‘n duin gelê en lees en droom terwyl hy agter die branders bly tot hy voel hy is gevries tot in sy diepste binnewerke. Soms het hulle ander surfers ontmoet. Vir ‘n paar uur het die groepe saamgevloei, dan weer vanself geskei. Soms het sy tuis gebly, altyd verlig gelyk as hy terugkom.

Hy dink hulle verwag almal hy gaan weer ‘n disappearing act op hulle trek.

Sy ego sorg dat hy haar inhaal, atleet of te not. Hy kan die versoeking nie weerstaan nie, hy duik haar plat dat hulle saam oor die klam sand skuif. Meteens is sy hande vol van haar meisielyf, die planklyfie wat sy onder oorgroot klere wegsteek skielik vol onverwagse sagte plekkies. Hy soen haar voor hy lekker weet wat hy doen. Haar lippe is sag en sout en oop onder syne. Dit voel soos kleintyd se kondensmelk steel uit Ma se koskas. Verbode. Maar lékker.

“Kom, ons vat ‘n dip!” Hy skil sy klere af, hy is gewoond aan- en uittrek op rare plekke, dit pla hom nie. Hy storm soos ‘n mal ding die ysige water in, enigiets om net ‘n grip op homself te kry.

Haar lyf glim ‘n oomblik in die spooklig voor sy gillend die vlak water inhardloop na hom toe. Hy gryp haar hand, trek haar dieper in, maar meteens is sy bibberend teen sy lyf. O Vader tog, hy verdrink, hy verdrink in die ysige water en die meisiekind wat soos ‘n sussie is maar nie regtig nie. Dan maar weer weghardloop. Dis al wat hy die afgelope jaar al doen. Probeer weghol – of wegsurf – van sy probleme. Maar hulle haal jou in, Boetie, hulle haal jou in.

“Kom, ons gaan vrek van die koue!” Klappertand sukkel hulle hul klere oor nat lywe aan en hardloop die entjie terug huis toe. Hy dink sy huil, maar hy waag nie om te kyk nie. Idioot, idioot, klap sy kaal voete op die sypaadjie.

In die kombuis knipper hulle oë verbouereerd in die skerp lig, hulle kyk half verleë na hulle sanderige voete op haar ma se skoon kombuisvloer. Die gemaklikheid tussen hulle is uitgewis. Deur sy onnoselheid.

“Bollie, ek moet môre ry,” sê hy toe sy sy beker koffie aangee. Dae lank oefen hy al die woorde in sy kop, en nou kom dit op die simpelste manier denkbaar uit. En op die heel verkeerdste tyd.

“Waarheen?” Net ‘n bietjie té casual vra sy dit.

“Kaap toe. Ek vlieg oormôre terug Jo’burg toe, my ma-hulle land die aand van Perth af.” Hy sluk die koffie kokend af. Daar is nie ‘n maklike manier om dit te sê nie. “Ek los die Volla by my meisie se huis. Valerie.”

Sy roer haar koffie om en om, om en om. “En dan?”

“Dan vlieg ek weer af as die varsity begin.” Hy voel laer as brommerbollie.

“Valerie.” Sy rol die naam op haar tong. Hy het nie ‘n idee wat sy dink nie. “Is sy mooi?”

Hoekom moet hy eers ‘n oomblik dink hoe sy meisie van die afgelope drie jaar lyk? Of course weet hy sy’s blond met blou oë, maar die uitdrukking in die oë ontwyk hom, die trekkie om die mond het vaag geword, die beweging van die hande skimagtig. “Ja, jy kan seker so sê,” antwoord hy vaag.

“Genade, jy kan darem meer entoesiasties klink.” Wil sy nou kom staan en opkom vir Valerie!? “Surf sy ook? Hoekom is sy nie saam met jou nie?”

“Nee, sy surf nie, en sy wou nie saamkom nie. Dis nie te lekker tussen ons op die oomblik nie.” Hoe meer hy verduidelik, hoe lamlendiger klink hy.

“Jy beter daardie dooie selfoon van jou gaan aansit, dalk het sy jou lankal in jou peetjie gestuur.” Dit klink nie of dit haar enigsins traak nie, sy voel wragtig vere vir hom.

Op varsity dra hy swaar aan sy image as die ewige chick magnet, maar hy het altyd gesweer hy sal nooit windgat raak nie. En hier het hy sowaar aangeneem hierdie meisiekind smaak hom. Vermetele bobbejaan wat hy is. Hy kom hier met sy lendelam kar en gehawende surfboard aangesit, eet die mense se kos op en neem aan die girl van die huis moet vir hom val. Dom.

“Nag, Stoffeltjie.” Met klem op die verkleinwoord.

Hy sluip buitekamer toe soos die hond wat hy is. Daar maak hy die deur toe en staar lank na die selfoon op die bedkassie. Die ding lê roerloos daar, sy gevreet gee niks weg nie. Hy haal die voosgevatte foto uit sy beursie, die laggende gesigte wil hom ook nie sê hoe vorentoe nie.

Hy het die foon skaars aangeskakel, toe begin dit soos ‘n besetene piep: Ma, Pa, Valerie, Ma, Valerie, Ma, weer ‘n slag Pa … Valerie, Valerie … Die een verwytende SMS en missed call na die ander.

 

Toe hy en sy hoofpyn laatoggend die woonkamer instrompel na ‘n nag vol angs en spoke, wag hulle vir hom. Skynbaar ‘n rustige gesinnetjie wat om die ontbyttafel kuier, maar hy weet sy uur het geslaan.

Vandag is die dag vir derms uitryg voor drie amper-vreemdes. Die vooruitsig is angswekkend. Of is dit?

Belinda lyk mooi, sy het glad ‘n bietjie grimering aan. En sy is lus vir baklei. “Hoe lyk dit, hét jy darem nog ‘n meisie?”

Hy gaan sit, steek sy hand uit na die vars roosterbrood wat die tannie aangee. “Nee.”

“Wát?” En haar oë is sommer vol trane: “Skuus, Stoffeltjie, ek dag ek maak sommer ‘n simpel grappie.”

Hy het naglank met die gevoel van vernedering gestoei, vir die oomblik het hy dit redelik onder beheer. Die pyn wat hy verwag het, het nog nie gekom nie.

Het Valerie hom ‘n yslike guns gedoen?

“Kêrel, ek dink jy moet by die begin begin.” Die oom, streng bo-oor die brilletjie.

Die happie brood word dik in sy mond. Hy reik soos ‘n drenkeling na die beker tee, die tannie het stilweg ‘n ekstra lepel suiker ingegooi. Die drie gesigte wat hy die afgelope week begin liefkry het, is afwagtend na hom gedraai.

“Ek het ‘n tweelingsussie gehad.” Sy ander helfte.

“Gehad?” Belinda se verskrikte oë is steenbokkiebruin, met digte, kort wimpers.

Hy sluk. “Sy’s verlede jaar op Kersdag in ‘n kaping dood.”

‘n Sonbruin meisiehand skuif oor syne. Die tannie se oë raak nat. Niemand praat nie.

“Ek was te lui om saam te ry kafee toe.”

Stilte.

“Dit was my skuld. As ek saamgery het, kon ek dalk iets gedoen het.” Hy kon dit nog nooit oor sy lippe kry nie. Maar elke dag, elke oomblik brand dit in sy hart.

“Ag my kind, teen kapers kan ‘n mens mos nie veel doen nie.” Die tannie huil openlik bo-oor haar roosterbrood. Die oom maak hewig keelskoon.

“In ons gesin word nie gehuil nie. Kersdag was ‘n helse glips.”

“Trane is gesond, kind, dit reinig die gemoed.” Die tannie skink nog tee.

“My ma praat nie en sy huil nie. Sy wil net wegkom, land-uit, asof dit Christelle sal terugbring. My arme pa wil net die vrede bewaar, hy sal teen sy sin Australië toe trek as dit haar sal plesier.”

“Christopher en Christelle.”

“Toe ons tieners was, het ons ons vreeslik geskaam vir die corny name wat hulle ons gegee het.” Die herinneringe sal nooit opgebruik word nie.

“Jou hele gesin is uitmekaar geskeur.” Ja, dis presies hoe dit is.

“Valerie het verwag ek moet na ‘n paar maande daaroor wees. Sy’t geduld verloor met my buie, my aanhoudende praatjies oor Christelle.”

“Sy’t dalk lankal bedreig gevoel deur die spesiale band tussen julle.” Die tannie is reg daar, dink hy.

“Het sy ook geswot? Jou sussie?” Die oom vee sy brilglase met aandag skoon.

“Ja, Ingenieurs, saam met my op Maties. En my gereeld uitgestof.”

“Hoe het sy gelyk?” Belinda bly maar ‘n meisiekind.

“Nes ek, net baie mooier.” Hy staan op om die foto te gaan haal. Hulle twee op Jeffreys se strand, hare verwaaid, oë laggend geskreef teen die son, elk met sy surfboard in die arm. “Sy’t gesurf ook. Sy’t die lewe oophand aangepak.”

“Jy moet verskriklik alleen wees sonder haar.” Belinda verwoord sy gevoel perfek.

“Jy het eintlik jou ma ook verloor.” Die tannie blaas haar neus in ‘n stuk kombuishanddoek.

“Kêrel, jou pa sal sy voet moet dwars sit.” Natuurlik die oom.

“Jy sal moet bel, Christopher, vir Valerie en jou ouers.” Belinda.

“Ek het reeds laasnag met Valerie gepraat. Sy’t hierdie ou ontmoet wat nog nooit naby ‘n surfboard gekom het nie. En wat g’n susters het waaroor hy hangups kan hê nie.”

“Is jy hartseer?”

Hy dink. Is hy hartseer? Ja, hulle was drie jaar saam. Dooptyd ontmoet, dadelik verlief gewees. Maar eintlik was dit lankal verby. Hy het net nie kans gesien om nog iemand te verloor nie.

“Net ‘n bietjie.”

“Jy sal jou ouers moet bel, Seun.”

“Ja, Oom.”

 

Toe hy terugkom, is die ontbyttafel opgeruim en alles lyk vreeslik normaal. Die tannie het agter haar rekenaar ingeskuif, die oom is besig met ‘n blokraaisel, Belinda leun teen sy bene met ‘n Huisgenoot met een van die tannie se vorige stories.

Maar hulle wag eintlik vir hom.

“My ma-hulle sê groete. En dankie dat julle so goed vir my is.”

“Enige Christenmens se plig,” brom die oom. Dierbare ou knorpot, hy skrik lankal nie meer vir hom nie.

“My ma haat Australië. Sy sê die mense is arrogant, die spoedbeperking belaglik en die vlieë iets verskrikliks. Sy sê die meeste expats verlang hulle half dood, al ontken hulle dit hóé.”

“My pa sê hy’t sy voet dwars gesit, sy gaan ‘n terapeut begin sien vir rouberading.” Goedkeurende knik van die oom.

“Hulle vra of Belinda nie vir ‘n paar dae wil saamkom nie.” Op hierdie oomblik begeer hy niks meer as juis dit nie.

“Nee magtig, kêrel, dis darem eens te erg. Sy ken jou skaars.” Natuurlik is die oom heilig op sy laatlam, hy kan hom nie kwalik neem nie.

“Wag, Pappie, ons kan dit later rustig bespreek.” Pappie het nie ‘n kans nie, sy saak is klaar gewen.

Hy steek sy hand na Belinda uit. “Kom, ons gaan loop ‘n ent.” Soos altyd, plaas sy haar hand vertrouend in syne. Maar hy weet nou van die verborge krag agter die dogtertjievoorkoms.

“Ek gaan haal gou my iPod. Daar’s iets wat ek vir jou wil speel.” Dis dansmusiek waarna sy luister, iets waaraan hy nie veel erg het nie.

Sy kom druk die oorstukkies in sy ore. Hulle stap straat-af in die sonskyn. Die musiek begin nie met die gewone donderende ritme nie. Hy luister verstom. Dis so goed soos sy suster wat uit die ander, beter lewe met hom praat:

Babe, jy huil want jy verstaan nie

Jy dink alles is verby

Maar ek’s nie in ‘n kis in die grond nie

en Liewe Jesus sorg vir my  

Hoe dit gebeur het, maak nie saak nie

Hy’s jou engel, Hy kyk na jou …

 Sou jy kon keer wat met my gebeur het as jy by was

Sou dit die trane op jou wang dalk net kon wegvat …

 Jy verstaan nie hoe dit voel nie

Om hier voor jou te kan staan

Maar ek mag nie met jou praat nie

Want ek praat nou ‘n ander taal … probeer verstaan …

Hy sien sy suster glimlag in die son, haar blonde hare nat slierte oor haar gesig, haar arms om die twee goed wat sy die liefste gehad het: haar broer en haar surfboard.

Hy draai blindelings om huis toe. Hy sit lank op die bed in die buitekamer, luister die liedjie oor en oor en oor. Belinda kom sit later stil langs hom. Hierdie keer probeer hy nie sy trane wegsteek nie.

“My pa sê ek kan met liefde saam met jou huis toe gaan. Hy sê julle klomp kort ‘n normale mens om julle bietjie reg te ruk.” Hy het geweet die tannie sal die oom gou-gou regsien.

“Kom, ons gaan sê dankie vir jou pa.” Hy steek sy hand vertrouend na haar uit.

 

Hy’s nog hier van Nicholis Louw se CD My hart is aan die brand.

 

 

6 gedagtes oor “Bly by my – slot

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s