RSS

Bly by my – Deel 1

09 Oct

surferBly Bly my het oorspronklik in Huisgenoot van 21 Desember 2006 verskyn. Ek het die storie (met hulle verlof) so ‘n bietjie afgestof en opgekikker. Die idee van die eensame surfer het ek uit ‘n kortverhaal van ‘n geliefde skrywer geleen. Hoe hy minder eensaam geword het, is my eie storie.

Kom, my meisie, ons tweetjies gaan sommer motor toe, ek’s tog nie lus vir die kamer nie.”

Luide aanmoeding van die ouens, oordrewe ekstatiese sugte en gerolde oë van die meisies af. Net Julie kyk met harde oë na Belinda. Dis immers Julie wat hom op die strand opgetel en saamgesleep het na dié simpel party toe.

Christopher. Nog mooier as sy naam.

Nie dat sy seker is Julie sal weet wat om nou eintlik met hom te maak nie. Of dat syself nou eintlik weet wat om met hom te maak nie. Maar sy weet darem minstens wat sy nié wil doen nie, selfs nie met hom nie.

“Vat sommer jou handsakkie, ek en jy gaan lekker lank wegbly.” Hy lyk so op sy gemak, jy sal sweer hy ry elke aand met ‘n vreemde meisie by ’n partytjie weg. Koel soos ‘n komkommer, waai ewe vriendelik vir die halfdronk spul blikskottels om die tafel. Niemand lig ‘n vinger om haar uit die verknorsing te help nie; almal dink dis vreeslik great en vreeslik snaaks. En sy dag hulle is haar lewenslange pelle.

Die wêreld wil-wil om haar draai, die trane stoot branderig in haar oë op.

Haar hele helse matriekjaar flits by haar verby: die Valentynsdans toe haar pa geweier het dat sy after party toe gaan, die Winterbal waar sy die enigste meisie was wat actually effens warm aangetrek was, die forty days-viering toe haar date haar gedrop het, die matriekafskeid waar sy weggehol het van die after party toe die klomp kaalgat in die bondel in die swembad begin vry.

En hier is sy op sleeptou agter ‘n wildvreemde mansmens wat te oud en te slim is vir haar, op pad na sy gehawende Volla met die surfboard op die dak. En nie vir ‘n entjie gaan ry in die maanskyn nie.

Op Oukersaand, nogal.

Miskien kan sy hol, dis darem een ding wat sy met haar regaf voëlverskrikkerlyf kan doen: hardloop. Maar sy wil nie aan die weghol bly nie, sy wil super cool en als gewoond met elke situasie cope. Tot dusver ontwyk dié vermoë haar egter.

Sy glimlag met haar laaste asem floutjies vir die moroniese spul om die tafel, maar hulle’t klaar van haar vergeet. Die bottel is alweer onder luide gelag en simpel kwinkslae aan die draai. Sy klou haar sakkie soos ‘n reddingsboei vas en laat haar deur die mooie Christopher by die voordeur uitsleep.

Sy sal haar hol moet ken, hy’s so vervlaks nugter. Hy het omtrent niks gedrink nie, sy het hom gewatch. En dan is hy seker nog fiks ook, die surfery lyk vir haar na baie moeite vir min plesier.

Toe die voordeur toeslaan, ruk sy los en trek weg dat die klippers spat, by wyse van spreke. Sy vorder presies twee treë. ‘n Seningtaai arm katrol haar in tot teen sy lyf. Sy vergaan byna van skrik en lekkerkry, haar verraderlike lyf sukkel om te registreer die man is besig om te lag, nie om te verswelg in die hartstog wat sy in hom ontketen nie.

“Komaan, wil jy stoot of stuur?” Hy los haar soos ‘n warm patat en draai om na sy karretjie toe.

“Wát?” Nou is sý die moroon.

“As hulle ons hoor wegtrek, gaan die hele spul by die voordeur uitpop, en ek het regtig nie meer krag vir hulle nie. Watter kant toe is jou huis?”

“Jy bedoel …”

“Ek gaan jou nie in die kar plattrek nie, kindjie, ek gaan jou huis toe vat.” Sy wens sy kan die grinnik van sy bakkies afvee, maar natuurlik is sy te chicken, staan net daar soos ‘n idioot. ‘n Baie verwarde idioot, totaal verskeur tussen skrik en lus en kuisheid.

“Vir wat?” kry sy darem uit. Seker oor sy te lelik is.

“Oor ek dadelik gesien het dié soort party is nie jou scene nie.” Doodernstig en vaderlik.

So ongeneeslike kloosterkoekie staan op haar voorhoof gegrafeer, al haar dapper pogings tot uitrafel ten spyt. En die arme fool dink hy doen haar ‘n moviese guns. “Loop terug en sleep vir Julie kar toe. Ek weet waar’s my huis, ons kom al van voor die skepping af elke jaar hiernatoe.”

“Julie se lus hang darem te ver uit, genoeg om enige man die wilde weghol te gee. Ek wil nie by wees as die rowwe manne op varsity haar beetkry nie. Hoe oud is julle klomp?” Hy klim in, haal die Volla uit rat. “Toe, stoot. Ek wil bed kry, môre vroeg wil ek weg wees.”

“Waarnatoe?” Sy stoot maar ewe gedwee, tjoef-tjaf toe hoes die Volla en sy kan inspring. En angstig terugkrimp in haar hoekie, die grote man so naby haar rattle haar geheel en al. Dat sy hom sowaar kon glo. Hy gaan nou natuurlik reguit bosse toe met haar. Haar klamgeswete hand krul om die deurknop.

“Waar’s jou huis? En los maar die deur, ek gaan jou nie ontvoer nie.”

“Vierde straat regs, derde aan linkerkant.” Waar haar ma-hulle se monde gaan oopval as sy so vroeg terugkom. “Waarheen gaan jy môre? Dis Kersfees.” Sy het so lank baklei om Oukersaand te kan uitgaan, en hier kom sy skaars tienuur druipstert by die huis aan.

“Ek gaan waar die branders is. En ek weet dis Kersdag, ek vra hoe oud is julle klomp?” In die doflig lyk hy sagter, nie heeltemal so gevaarlik nie. Of dalk raak sy te gou gerus.

“Die meeste van ons het nou matriek geskryf.” Hy was van sy instap af hartlik verveeld met die infantiele geselskap. En nie soos sy te pateties om dit te wys nie.

“En jy?”

“Ook matriek geskryf.” Koponderstebo, asof dit ‘n sonde is.

“Hoeveel onderskeidings verwag jy?” So akademiese wrak staan ook op haar voorkop.

“Ek hoop vir agt.” Dat sy sowaar kan skaam wees daarvoor.

Hy stop voor hulle strandhuis, vanaand vol lig en warmte, soos haar hele lewe nog. Sy klem haar arms koulik om haar lyf.

“So ek neem aan jy gaan varsity toe? Stellenbosch?” Hy leun so ewe oor en maak die deur vir haar oop.

“Ja, Ingenieurs.” Haar pa wou die horries kry, hy glo sowaar nog dis ‘n man se werk.

Nou-nou kom hy nog hier uitgestorm, reg om sy laatlammetjie se eer te beskerm. Soos hy darem kan aangaan oor die gevare van die ou wêreld! Dat hy dalk reg kan wees, is lankal meer as net ‘n vermoede. En het vanaand ‘n nare sekerheid geword.

“Dan beter jy hierdie soort pret uit jou gestel kry. Op varsity vreet die seniors eerstejaartjies wat probeer cool wees lank voor brekfis op. As jy dink spin the bottle waar die ouens kamer toe gaan, is rof, dan moet jy liewer weer dink.”

Sy wil nie vaderlik aangespreek wees nie, sy kry oorgenoeg daarvan by die huis. “Los maar die preke, ek weet wat ek doen.”

“Jy’t nie ‘n kat se clue wat jy doen nie.” Die Volla brul ongeduldig. En die voordeur gaan oop, soos voorspel.

Sy spring uit en blits die trappies op, maar sy’s klaar te laat. “A nee a, Bollie, wie’t jou huis toe gebring?” Ja, sy ís agtien en haar pa noem haar nog Bollie.

“Nooi die mense in vir koffie, hoe’s dit dan met jou?” En af met die stoep stoom hy, sy gul boerestem rol voor hom uit: “Kom nader, kom nader!”

En sowaar, haar redder klim uit en steek sy hand soos ‘n ware boerseun na haar pa uit. Op met die trappies, in by die helder verligte woonkamer gaan haar pa met hom. Sy sluip agterna en kyk benoud hoe haar pa se oë oor die lang, sonverbleikte hare gaan, oor die oorring, die baggy shorts, die bandjie om die enkel, die kraletjies om die nek. Maar hy hou nogal sy pose: “Sit, Kêrel, sit. En vanwaar is jy, het jy gesê?”

“Ek het nie gesê nie, Oom, maar ek’s van Gauteng.” Vir haar word die lang, sonverbleikte hare, die oorring, die baggy shorts, die bandjie om die enkel en die kraletjies om die nek by die minuut mooier.

Vir haar ma ook, sy kyk haar so onderlangs. Haar ma skryf vrystories vir die Huisgenoot. Sy’t ‘n oog vir ‘n mooi man, sy maak hulle in haar kop bymekaar vir latere gebruik.

“Julle ook hier vir die vakansie?” Haar pa ken elke mens wat vir die afgelope honderd jaar sy voet op hierdie plekkie gesit het.

“Nee, Oom, my ouers is op ‘n LSD-trip Australië toe; ek is op my eie.”

Drugs is een van haar pa se favourite topics. “LSD? My magtig, Bollie, watse mens het jy hier aangebring?”

“Look, see and decide, nie drugs nie. Hulle wil emigreer, Oom.”

“Nou vir wat? Ek dag die chicken run is lankal verby, mens hoor heeldag hoe kom die ouens terug.” Ná hy uiteindelik die kopskuif baasgeraak het, is haar liefste pa ‘n begeesterde lid van die reënboognasie en sy oordeel oor weglopers is genadeloos.

“Sal nie weet nie, Oom.” Christopher se antwoord is kortaf, amper ongeskik. Sy lewendige gesig het toegemaak. Hy vat darem die skinkbord by haar ma. Belinda sien hoe sy in haar kop vir hom ‘n punt bysit.

Haar pa weet nie van laat los nie, hy skuif vererg vorentoe in sy stoel: “Wil jy vir my sê jy laat jou sommer net saamsleep land uit? Ag nee, man, het julle kinders van vandag dan wragtig g’n murg in julle pype nie?” Haar dierbare pa het die sensitiwiteit van ‘n renoster op volspoed. Sy cringe in haar stoel, haar ma vroetel onnodig met die koffiegoed; hulle ken hom lánk.

Hulle gas ledig sy koppie met ‘n paar slukke, plak dit neer met ‘n beleefde “Dankie, Tannie” wat hom nog ‘n punt besorg, en kom vinnig orent uit sy stoel. Hy is ‘n goeie kop langer as haar pa, wat nie ‘n klein mannetjie is nie. En hy’s behoorlik die hel in.

“Ek laat my van niemand nêrens heen saamsleep nie, Oom, my ma-hulle se planne het niks met my te make nie. Nag, Oom, Tannie, nag Belinda.” En daar gaat hy, die man van haar drome, om nooit weer terug te kom nie. Danksy haar liewe ou vader.

Maar sy het nie rekening gehou met haar liewe, liefste ma nie. Dié haal hom op die laaste trappie in. “Seun, die oom bedoel nie kwaad nie. Waar is jy tuis so alleen?”

“Ek slaap sommer in my kar net waar ek kom, Tannie.”

“Ag nee, my kind, met daardie lang lyf in dié petieterige ou karretjie? Vannag slaap jy by ons.”

“Dankie, maar ek is fine, Tannie.”

“Ek vat nie nee vir ‘n antwoord nie, kind, kry jou goedjies bymekaar. Kom, Belinda, vat hier aan.” Sy begin sommer uitlaai uit die deurmekaar mossienes op die Volla se agtersitplek. As hy nie pasop nie, doen sy nog sy wasgoed ook vanaand.

“Nou maar goed, dankie, Tannie, maar môre vroeg moet ek weg wees.” Dalk is die alleenryery ook maar nie so danig lekker nie, dit het nie veel gevat om hom om te praat nie. Sy kan haar ma gerus soen.

“En waarheen nogal, as ek mag vra?” Haar ma is soos ‘n stoomtrein as sy eers koers gevat het. Onstuitbaar. En dan kla sy oor haar pa.

“Net waar die branders my vat, Tannie.”

Sy skud haar kop ferm. “Die branders gaan nie weghol nie. Môre staan jy by ons oor, vir ‘n ordentlike Kersmaaltyd. ” Haar ma verlang na iemand om te voer, haar broers en hul gesinne is vanjaar by die onderskeie skoonouers vir Kersfees.

Die oomblik toe die buitekamer se deur agter Christopher toeklik, takel hulle haar arme pa. “Jy het niks met die kind se persoonlike sake uit te waai nie, waar kom jy daaraan om ‘n vreemde so uit te vra?”

“Pa, hierdie ou het my vanaand uit groot strooi gered, en kyk hoe behandel Pa hom nou!”

Oeps. Haar pa en ma vergeet hul verskilletjie onmiddellik, en draai soos een man met pieringoë en grootskrik-monde na haar toe. “Wát, Belinda?!”

Play it cool, Belinda, play it cool. Sy haal haar skouers ewe nevermind op. “Aag, niks vreesliks nie. Dit was net ‘n simpel party. Ek gaan ook maar inkruip.” Sy maak ‘n bee-line vir haar kamer en maak die deur ongeskik voor haar bekommerde ouers se neuse toe. Hulle sal nie besonderhede oor vanaand se party oorleef nie.

Dis ‘n droom, ‘n aaklige nagmerrie wat net aanhou en aanhou. Tot sy die stem herken: Julie. ‘n Julie wat beslis nie haarself is nie.

Hulle is voor haar venster, haar strandmaters van baie sorgvrye Desembervakansies. En hulle serenade vir haar. ‘n Aaklige, aaklige dronkserenade. Don’t forget to remember us … Die mooi ou liedjie van ‘n kant af opgefoes. Opsetlik trekkerig, die valsheid iets verskrikliks. Pure kattekoor in Augustus.

Haar venster is direk langs haar ma-hulle s’n. Deur die genade is Christopher veilig in die buitekamer om die hoek. Maar sy Volla staan lewensgroot voor die deur.

Hulle’s nou klaar gesing. Daar’s ‘n dowwe gestommel, onsamehangende stemme praat deurmekaar. Gaandeweg word dit duideliker. Julie: “Pelle maak nie so nie – jy’t hom net vir ‘n halfuur gekry, Bollie!”

Bertus: “Ek wou darem ook nog ‘n beurtjie by jou gehad het!” En dan sing hy so vals-vals: “Sê net of jy dit wil doen …” Nicholis Louw sing van úítgaan in daardie liedjie, maar dit sal jy nooit raai as jy vannag na Bertus luister nie.

Julie: “Jy’t hom sowaar vir die hele nag gesteel!” en: “Christopher! Weet die oom waar jy vannag slaap?” En Julie was haar pel van doekedae af.

Vannag maak haar pa haar dood. Sy panic so, sy’s skoon verlam.

Die volgende oomblik slaan haar ma se stem soos ‘n sweepslag agter haar: “Belinda, wat gaan hier aan? Spill the beans!” As haar ma eers begin Engels praat, dan weet Bollie Ma meen besigheid. Haar pa verskyn onheilspellend stil agter Ma.

Dus spill sy maar: “Ons het spin the bottle gespeel, Ma.”

Haar pa ontspan merkbaar. “O, dan moet jy die outjie soen? Groot sports gewees in my dae.” Hy is dadelik reg vir ‘n trip down memory lane. Siestog, so onskuldig nog.

“Deesdae soen hulle nie meer nie, ou man, deesdae gaan hulle kamer toe.”

Hy staan ‘n oomblik heeltemal verstom. Sy voete staan nog stewig in die vorige eeu geanker. Vróég in die vorige eeu.

Toe brul hy ‘n groot brul: “En jy’s met hierdie klein .. klein … windlawaai kamer toe?” Windlawaai is nie eintlik wat hy wou gesê het nie.

“Nee, Pa.”

“Wat dan, Belinda?”

“Hy’t gemaak of hy my kar toe vat om te … Pa weet … en toe bring hy my huis toe.”

“En jy stap maar ewe saam?”

“Nee, ek het probeer weghol.”

“En toe vang hy jou en vry jou vuurwarm en bring jou huis toe?” Daar’s sowaar ‘n lag in haar ma se stem.

“Toe vang hy my en lag hom half dood vir my en bring my huis toe.” Teen dié tyd loop die trane.

“Ag, my arme kind.” Haar ma se liefhê-arms is nog net so sag soos kleintyd. Buite teem die kattekoor entoesiasties voort.

Opeens in die nag die onmiskenbare geluid van ‘n tuinslang wat oopgedraai word. Wýd oopgedraai word. Gevolg deur onaardse gille, ‘n paar gedempte en minder gedempte kragwoorde, geluide van val en opstaan, ‘n motor wat brullend vertrek, laggende dreigemente agterna geslinger. Toe stilte. Salige stilte.

Sy en Ma vou dubbel in hulpelose lagbuie. Dit sal die blikskottels leer! Pa grom iets onhoorbaar, maar hy kan nie sy glimlag heeltemal wegsteek nie. En nie ‘n geluid kom uit die buitekamer nie.

“Kom, ons gaan slaap. Pa sal môre met Christopher regmaak. Nè, Pappie?” As Ma eers vir Pa begin Pappie, dan Pappie beter spring.

“Reg, Mammie.” Foei tog, hy berou seker daagliks hierdie laatkind wat hy op sy oudag moet grootworstel. Dit word skoon sag in haar van liefgeit vir die ou korrelkop.

“Hy het regtig niks verkeerd gedoen nie, ek sweer.” Sy het nooit geweet wat hulle dink is vir haar so belangrik nie.

Die ou groot, grofgewerkte hand vee lomp oor haar hare. “Ons glo jou, my kind.”

Douvoordag gee die Volla net een brul en weg is hy. Die bed in die buitekamer is netjies opgemaak. Op die kussing lê ‘n enkele lang, goue haar. Sy gaan sit dit met eerbied in haar Bybel. Sy voel baie, baie ouer as haar agtien opstandige jare.

“Wat sal tog die kind so jaag?” sug Ma in haar kamerjas agter haar. Niemand het ‘n antwoord nie.

‘n Uur later jaag haar deurmekaar hart haar ook uit die huis. Sy het lankal agtergekom ‘n mens kan enige geraas in jou kop tjoepstil hardloop as jy rêrig wil. Sy haak haar oorfoontjies in haar ore en vat die grondpad kuslangs. En sy hárdloop hom. Met die musiek dreunend in haar harsings hardloop sy blindelings in die opkomende son in. “Kom bly by my …” sing Nicholis haar grootste begeerte uit. Te laat, helaas, te laat.

Sy val omtrent oor die Volla voor sy dit raaksien. Teen die ou karretjie se stomp neusie leun die liefde van haar lewe. Sy skouers ruk en sy wange is nat. Heeltemal onverhoeds betrap.

Sy skrik haar oor ‘n mik. Sy weet nie of sy moet weghol of stilstaan nie, sy het nog nooit ‘n groot man sien huil nie. Haar pa is nou nie een wat die huilding doen nie. Toe staan sy maar en sweet en blaas tot hy homself bymekaar het. Ek voel so sterk as jy langs my staan … sing Nicholis in haar ore.

Na wat soos ‘n eeu voel, kyk Christopher op na haar. “Ek is jammer ek was gisteraand so hardegat met jou pa. Onbeskof.” Die son kom goud op in sy hare, die nat omkrulwimpers is vir haar vreeslik mooi.

“My pa suffer bietjie met al my dinge, jy weet, hy’s amper oud genoeg om my oupa te wees.”

“Shame, en hy kon nie weet my ma-hulle se trip is ‘n teer puntjie nie.” Verdomp of sy sal vra hoekom.

“Kom saam huis toe, my ma smag na nog iemand om te mother.”

“Nee dankie, ek soek nie die huislike scene nie.” Rou verlange skuif vir ‘n oomblik oor sy gesig, hy check homself te laat om haar te bluf. “En ek’s ‘n vreemdeling vir julle.”

“Nie na gisteraand nie. En jy’s nogal knap met ‘n tuinslag ook, selfs my pa was beïndruk.“ My hart is aan die brand oor jou …

Weer vat dit nie veel om hom te oorreed nie, die ou is seker maar lekker alleen. “Jy’s ‘n special girl, jy moenie dat pelle jou in ‘n blik druk nie.“ Hy maak die Volla se deur vir haar oop. “Kom, ons ry.”

Die doodgewone somerdag is meteens in suiwer goud gedompel. Die see breek stralend oor die rotse, die meeue sing ‘n vreugdelied, die Volla spin soos ‘n vet, tevrede kat.

Ek kan my geluk nie glo … Die ritme in haar ore pols tot binne-in haar blye hart.

-oOo-

Musiek van die Bee Gees en van Nicholis Louw se CD My hart is aan die brand.   

 

Etikette: , , , ,

2 responses to “Bly by my – Deel 1

  1. Adel

    16/10/2016 at 07:59

    Oe Alta, ek het nou hierdie storie vreeslik geniet. Ag man, dis amper soos “down memory lane”

     
    • Alta Cloete

      16/10/2016 at 18:43

      Ek is bly, Adel! Ek plaas nou-nou die laaste deel.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: