RSS

Net een kans – slot

20 Sep

ATT00342.jpgComien staan verstom en kyk hoe die motor die figuurtjie in die groen skoolrok rakelings mis en skuins-skuins teen die sypaadjie tot stilstand kom, net ‘n tree of wat van die lamppaal af.

“Mathildie!” Haar stem klap soos ‘n sweep in die stilte. Sy het haar altyd daarop geroem dat sy elke dogter in haar skool se naam ken. Met haar geheue is daar genadiglik toe niks verkeerd nie. Mathildie Hanekom, graad tien, enkelma wat te hard werk, onbetrokke pa, swak motivering, gebrekkige toesig tuis.

Die meisiekind was sowaar van plan om te maak dat sy wegkom. Nou draai sy stadig om, kyk ongelowig na Comien. “Mevrou? Wat maak Mevrou dan hier?”

“Dis wat ek van jou wil weet, kindjie.”

“En ek ook.” Sy herken die stem voor sy nog kan omdraai. Dis wragtigwaar die krukkeman. Sonder sy krukke en bleek om die kiewe. “Comien? Dis nou onverwags.”

“Is jy ooit al veronderstel om te bestuur?”

“Pas gister die groen lig gekry.” Hy draai na die meisie wat ongemaklik staan en rondtrap, gereed om op die vlug te slaan. “Hoekom is jy nie in die skool nie?”

“Dis unfair, Oom, die onderwysers gaan eet uit en ons moet in ‘n simpel fliek sit.”

“Ek sou dink dit behoort vir julle heerlik te wees.” Pleks sy self aan daardie plan gedink het. “Watter fliek is dit?”

“Daai nuwe een van Cinderella, Mevrou. Ek haat die ou sprokies, die meisie is gewoonlik ‘n whimp wat net wag vir die prins om haar te red.”

Wel, dan het een leerder darem na haar subtiele en minder subtiele feministiese prekies geluister. Net jammer dit lei tot stokkiesdraai, pleks van motivering tot onafhanklikheid. “En waarheen was jy altemit op pad?”

“Ag, ek weet nie, seker maar huis toe.” Huis is ‘n woonstel in ‘n minder goeie buurt. Waar daar sweerlik min te doen is behalwe TV kyk.

“Wel, ek stel voor jy maak dat jy terugkom op die skoolterrein voor iemand jou mis.” Die klok het intussen gelui; die meisies swerm oor die terrein, soos vinkies aan die kwetter. Comien raak skoon lam van weemoed. Dis waar sy hoort, dis waar sy moet wees.

Die kind kyk verlangend na die oorkant van die straat waar vryheid wag. “Ja, Mevrou.” Na ‘n tree draai sy terug. “Gaan Mevrou vir die nuwe hoof vertel?”

Gaan sy? Die kans gebruik om die nuwe besem te vertel waar sy skraps gevee het? Sommer ‘n stekie inkry oor die danige verhoging van ouerbetrokkenheid en onderwysersmotivering? Met ‘n sug laat gaan sy die versoeking: “Nee, maar op een voorwaarde.”

“Ja, Mevrou. Enigiets, Mevrou.”

“Gee my jou ma se selnommer.”

“Mevrou gaan haar vertel?”

“Ja, ek gaan.”

“Agge nee, sy worry hoeka so oor my.”

“En dis hoe jy haar bedank? Deur stokkies te draai? Nie die slimste plan nie, of hoe?”

“Nee, Mevrou.” Nou hang die koppie behoorlik.

“Die nommer?”

Mathildie rammel die nommer af en maak dat sy wegkom, groet nie eens behoorlik nie.

“Is hier dalk ‘n koffieplek naby? Ek dink ek het iets nodig vir die skrik.” Sy het vir ‘n oomblik skoon van die krukkeman vergeet.

“Dankie dat jy nie die kind uitgevreet het nie.”

“Ek is nie die uitvreterige soort nie. Het jy tyd vir koffie?”

“Ongelukkig nie.” Hy hoef nie te weet sy is druipstert by die skool uit nie. En buitendien moet sy by die huis kom, tot bedaring kom en kyk of daar nog iets oorbly van die idee wat haar met die kyk in Mathildie se oë te binne geskiet het.

Comien raak so opgeneem in haar beplanning dat dit amper aand is voor sy besef Cobus moes al terug gewees het. Onmiddellik neem angs van haar besit. Dit neem ‘n halfuur en twee koppies tee voor sy die moed het om sy selfoon te bel. Toe ‘n vreemde stem antwoord, weet sy sy het haar kanse verspeel. Sy gaan nie ‘n tweede kans kry om reg te maak, die afgelope weke se stilte uit te wis nie.

“Comien, dis Barend hier. Moenie skrik nie, Cobus is oukei.” Dit neem haar ‘n paar tellings om te besef Barend is die boepensbuurman op regs.

Natuurlik skrik sy. Sy skrik vir wat kón gebeur het, sy skrik vir die wete dat haar kanse dalk verby kon gewees het. “Wat het gebeur?” Asseblief, asseblief, laat hy regtig oukei wees.

“Een van ons groep het ‘n toeval gehad, nog nie seker of dit haar hart is nie. Ons wag vir die ambulans. Cobus is die een wat iets van noodhulp weet, sy aandag is nog by haar.”

Te besig met ‘n ander vrou om sy eie gerus te stel. Ja, sy kry die boodskap. “Kan ek met hom praat?”

Stemme wat in die agtergrond druis, dan weer Barend, verskonend: “Hy sê hy wil eers saamgaan hospitaal toe en seker maak alles is reg. Hy sê jy moenie vir hom wag nie, dit kan dalk laat word.”

“Dankie.” Sy bly lank netso sit. Die vernedering van vanoggend se skoolbesoek brand van vooraf in haar bors. Niemand het haar meer nodig nie. Nie die skool nie, nie haar man nie.

Dis die krukkeman se gesig wat in haar geestesoog verskyn, sy stem in die skemer oggend: “… mens kry één kans en dis jou keuse wat jy daarvan maak.”

Dis weer Barend wat antwoord toe sy bel: “Ja, dis na ons plaaslike hospitaal toe wat hulle kom. Francien bly blykbaar nie ver van julle af nie.”

Francien. Sy is jaloers op ‘n vrou wat sy van g’n kant af ken nie. ‘n Vrou wie se lewe op hierdie oomblik in gevaar verkeer.

By Ongevalle kan Comien nie haar sit kry nie. Dan is sy by hierdie venster, dan daardie, dan weer by die toonbank om seker te maak hulle het nie dalk intussen aangekom nie. Dit help nie juis dat sy niks meer as die pasiënt se voornaam kan verskaf nie, oortuig ook nie juis die mannetjie agter die toonbank dat sy werklik iets hier te soek het nie.

“Comien! Dis ‘n verrassing.”

Sy ruk om, buite verhouding bly om ‘n bekende stem te hoor. “Hallo, Shaun, wat maak jy hier?”

Die krukkeman is gryserig in die gesig, steek ‘n bewerige hand na haar uit. “Moenie vir my sê jou man het iets oorgekom nie?”

“Nee, nee, dis een van sy vriende … Hulle was op ‘n uitstappie …”

“Kan dit wees? Die fotografieklub se trip Hexrivier toe?”

“Dis reg, ja.” Sy skrik van vooraf. “Jou vrou? Is sy Francien?”

Die glimlag verlig sy bekommerde gesig. “My liewe hemel, is Cobus jou man? Natuurlik, De Lange … Ek het nie eens besef nie.”

Haar bene swik onder haar, maar ‘n nuwe krag roer in haar hart. “Kom, kom sit hier. Cobus het gesê sy sal oukei wees. Hulle gaan nou-nou hier wees, jy sal sien.”

Hy laat hom willoos op die plastiekstoel neerdruk. Sy gaan sit langs hom, spring dan weer op, kyk by die deur uit. Nog geen ambulans nie. “Dis ‘n dag van skokke vir jou. Ek is jammer ek wou nie vanoggend gaan koffie drink nie. Maar ek het ‘n wonderlike idee gehad …”

“Vertel.” Hy lyk sowaar of hy belang stel.

“Die meisiekind vanoggend … Mathildie. Ek het as skoolhoof die behoefte raakgesien. Mens dink altyd hoërskoolkinders is groot genoeg om namiddae alleen te bly, maar ek het al dikwels gesien dis nie noodwendig die geval nie. Hulle het iemand nodig om hulle rond te ry, iemand om toesig te hou oor huiswerk. Almal is nie noodwendig alreeds selfgemotiveerd op daardie ouderdom nie.”

Hy lyk nie oortuig nie. “Iets soos ‘n créche vir hoërskoolleerders? Dit klink nie vir my cool genoeg nie.”

“Nie ‘n créche nie, nee, maar dalk iets soos ‘n mentor, chauffeur, ‘n simpatieke oor as hulle van die skool af kom. Ouers kom dikwels saans laat tuis, doodmoeg, met genoeg bekommernisse van hul eie.”

“Ek weet darem nie.” Sy aandag is nie heeltemal by haar nie, sy oë bly op die deur.

“Of dalk iets soos ‘n au pair, vir wanneer ouers uithuisig is. Veral die enkelouers, daar is so baie van hulle.” Mathildie se ma is ‘n verteenwoordiger as sy reg onthou, noodgedwonge dikwels van die huis af weg. Wie sou dan na die kind omsien?

Gelyktydig raak hulle bewus van die ambulans wat inkom. Sy gee sy arm ‘n drukkie, maar bly sit toe hy haastig orent kom, haar oë op die motor wat kort na die ambulans by die parkeerterrein inswaai.

Cobus lyk moeg, sy skouers hang. Sy ken hom, hy sal diep aangeraak wees deur die gebeure. “Cobus.” Haar stem is hees, onseker.

“Comien.” Dis soos die son wat oor sy gesig opkom. “Jy is hier.”

“Ek is hier, my man.”

Hy leun ‘n oomblik teen haar. “Ek is jammer ek het nie gebel nie. Ek was so kwaad vir jou.”

“Dis niks. Ek verstaan.”

Net een kans, het die krukkeman gesê. Sy is weer reg om dit met albei hande aan te gryp.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , ,

8 responses to “Net een kans – slot

  1. seegogga

    20/09/2016 at 22:18

    mooi

     
    • Alta Cloete

      21/09/2016 at 09:04

      Dankie!

       
  2. Conna Venter

    21/09/2016 at 07:41

    Dit was baie mooi! Ek het die lees daarvan werklik geniet.
    jy kan maar nog stuur asb.

     
    • Alta Cloete

      21/09/2016 at 09:03

      Is bly as jy dit geniet het, Conna!

       
  3. alice swanepoel

    21/09/2016 at 07:42

    Het dit vreeslik baie geniet- so n menslike verhaal wat vir almal stof tot nadenke is!!

     
    • Alta Cloete

      21/09/2016 at 09:04

      Baie bly as jy lekker gelees het, Alice!

       
  4. Tannie Frannie

    09/10/2016 at 21:36

    Dis lekker om hier te lees.

     
    • Alta Cloete

      10/10/2016 at 07:43

      Ek is baie bly as jy dit geniet!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: