RSS

Net een kans – Deel 3

18 Sep

att00303“Jy’t my wragtig gepootjie!”

“Ek is vreeslik jammer.” Hy help haar verleë orent. “Ek wou jou net keer, nie laat val nie.”

Teen haar sin begin sy lag. “Ek neem aan jy wil verder preek?”

“Ja, maar dit sal beter wees oor ‘n koppie koffie.”

Sy kan sowaar nie met ‘n vreemde man by die huis aankom nie. “Jammer, my man slaap nog.”

“Ook afgetree?”

“Ja, meer as ‘n jaar al. En voor jy vra, hy vaar uitstekend. Geniet klaarblyklik elke oomblik daarvan.”

“En hoe kry hy sy dae om?”

Tot haar skande moet sy erken sy weet nie presies nie. “Ag, ditjies en datjies. Klets oor die heining met die bure, koffie met oud-kollegas, allerhande verenigings.”

“Klink vir my goed. Dis natuurlik makliker as mens al lank in die gemeenskap bly. Ons is nuwe intrekkers.”

“Om mense met jou krukke te terroriseer, is nie die beste manier om vriende te maak nie.”

Weer die lekker lag waarna sy nou al begin uitsien. “Ek het nie Dale Carnegie se wysheid nodig om dit te weet nie.”

Mens kan nie help om saam te lag nie. “Die uitdeel van ongevraagde advies word ook nie in How to win friends and influence people aanbeveel nie.”

“Jammer, ek pleit skuldig.” Nou is hy doodernstig. “Dis net dat ek myself so duidelik in jou herken.”

“Jy het ook gesukkel?” Die laaste kwartaal voor haar aftrede moes sy tot vervelens aanhoor hoe wonderlik aftrede is, hoeveel tyd sy gaan hê, hoeveel lekker dinge sy gaan doen. En dit meestal komende van bloedjong mense vir wie dit nog ver in die verskiet lê. En natuurlik van Cobus. Cobus wat tydig en ontydig vertel het hoe hy uitsien om meer van haar te sien, Cobus wat hom nou in teleurgestelde stilte van haar onttrek het.

“Ek het ongelooflik gesukkel. Op die rand van depressie omgedraai.”

“En wat het jou van dié rand af weggekeer?”

“My kind se dood.”

Dis soos ‘n klap in haar gesig, sy word skoon warm van verleentheid. Dat hy dit so pront kan sê. Hoe doen mens dit? “Wát? Hoe?”Te veel inligting, te onverwags.

“Selfdood, amper twee jaar gelede. ‘n Pragtige, talentvolle mens wat nie meer ‘n doel in haar lewe kon sien nie.”

“En dit het jou gehelp?” Vir haar sou dit eerder oor die afgrond gestoot het.

“Ek het net besef mens kry één kans en dis jou keuse wat jy daarvan maak.”

“Jy preek alweer.”

“Moenie te lank tyd mors nie, … e …”

“Comien de Lange.”
“Shaun Basson.” Sy groethand is darem nou al beskikbaar.

“Ek bewonder jou. Maar elke mens se omstandighede is sy eie.”

“Natuurlik, ja.”

“Hier is my huis. Sien jou.” Sy kyk nie om nie. Sy vlug en sy weet dit. Mens kan jou vervlaks nie roer nie of iemand begin preek vir jou. Terwyl sy net aan haarself wil oorgelaat word om op haar eie tyd koers te kry en aan te pas.

“En as jy so gou terug is?” Cobus sit met die koerant by die kombuistafel, kant en klaar aangetrek. Sy wil-wil onthou dat hy vandag op een of ander uitstappie gaan, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Kan mens se geheue so vinnig agteruitgaan as jou verstand nie maksimaal benut word nie?

“Ek het ‘n slag ‘n ander roete gestap en toe’s dit korter as wat ek gedink het.”

“Mens sou reken jy behoort na al die jare die beskikbare roetes uit jou kop te ken.” Hy kyk haar ‘n oomblik effens vreemd aan voor hy die koerant regskud en hom weer in die sportbladsye verdiep. Verlede jaar kon sy haar nog in haar werk verdiep terwyl hy elke naweek ure en ure voor die TV deurbring. Wat gaan sy vanjaar doen? Saam kyk? Lees? By iemand gaan kuier?

Sy kan nie eintlik dink aan iemand om by te gaan kuier nie. Haar oud-kollegas is naweke besig met sport en voorbereiding en hulle gesinne. Die ouers van die skool het nooit haar vriende geword nie. Familie het sy nie veel nie en hulle is in elk geval almal bo in Gauteng.

“Hoor jy ooit wat ek sê, Comien?”

Sy skrik op, draai haastig na die ketel toe. “Ekskuus, ek was ingedagte. Waarheen gaan jy nou weer vandag?”

“Die fotografieklub, Comien, ek het jou gisteraand gesê. Ons ry Hexrivier toe, die herfskleure is mos ongelooflik daar.”

“O ja, ek onthou nou.”

“Ek het ook gesê jy is welkom om saam te kom. Ons is ‘n lekker groepie, almal afgetredenes.”

“Ek is nie lus vir ‘n klomp oumense nie.” Sy het altyd haar jong leerkragte geniet; die energie, die entoesiasme, die sterk menings, nog ongetemper deur ervaring en sinisme.

“Ons is self nie meer so jonk nie, my vrou. Kyk maar in die spieël as jy my nie glo nie.”

Amper mors sy ‘n skoot kookwater oor haar hand. “Skimp jy? Lyk ek sleg?”

“Jy’s steeds ‘n mooi vrou, Comien, maar ek sien jou deesdae selde in iets anders as ‘n sweetpak. En jy was nie meer jou hare elke dag nie.”

“Jy reken ek verwaarloos my voorkoms?” Die angs klem om haar hart. Die jong buurvrou – wat is haar naam tog – se  man werk iewers in midde-Afrika. Was dit eergister regtig haar wasmasjien wat gebreek het? Kon sy nie maar bloot ‘n loodgieter gebel het nie?

“Ek reken jy stuur op ‘n krisis af, Comien, en jy wil my nie toelaat om jou te help nie. As jy so aanhou, is jy kort voor lank in ‘n depressie.”

Wat is almal nou skielik met depressie oor die kop geslaan? Depressie is vir die soort mens wat in sy kop lewe en nie sy hande besig hou nie. Dié dat sy haar studeerkamer getakel het, ledigheid is ‘n ding waarvoor sy baie bang is.

“Daar’s niks met my verkeerd nie, Cobus. Geniet jou uitstappie.”

“Moet my nie vroeg verwag nie. Ons gaan op ‘n mooi plek eet as ons klaar is, dit word gewoonlik ‘n uitgerekte kuier.”

Sy laat staan haar koffie net daar, vlug na haar jogamatjie toe. Behou die roetine, dis al wat sy kan doen teen die donker wat haar onmiskenbaar aan die bekruip is.

Twintig oor tien hou sy voor die skool stil. Soveel keer is sy uitgenooi om ‘n draai te kom maak, sy het seker nou lank genoeg gewag om nie te oorgretig voor te kom nie. Pouses was altyd vir haar lekker, die gemeensaamheid om die teekanne, die saam kla en saam lag oor die daaglikse klein en groter uitdagings. Sy was tuis in die kring, sy was nooit die soort skoolhoof wat ‘n demper op die personeel se samesyn geplaas het nie.

Die sekretaresse kyk verras op van haar rekenaar. “Mevrou! Dis ‘n verrassing! Hoe gaan dit?” Op die punt van die toonbank pryk ‘n dure bos blomme, op die ander punt is foto’s van skoolaktiwiteite op ‘n rekenaarskerm aan die rol. Die nuwe vrou het nie op haar laat wag nie. Wat sou nog alles alreeds  verander het?

“Dit gaan baie goed, dankie, Salomien. Ek kom kyk net of julle my darem mis.” Sy draai al weg, sy ken mos darem nog die pad personeelkamer toe. Sy wens sy kry ‘n kans om te sien wat die Badenhorst-vrou in haar kantoor aangevang het.

“Dis nou jammer, Mevrou moes dalk liewer eers gebel het.” Salomien lyk sowaar effens skuldig, asof sy op heterdaad betrap is. “Die hele lot is halftien hier weg vir ‘n verrassingsontbyt, hulle sal glo elfuur terug wees.”

Sy steek in haar spore vas. “Verrassingsontbyt? Nou wat op aarde?”

“Juffrou Badenhorst wil die motiveringsvlakke van die personeel verhoog. Sy glo in positiewe versterking eerder as kritiek.”

“En sy reken sy kan die klomp met kos motiveer?” Blitsig skuif die gesigte voor haar verby: die dikketjies vir wie ‘n gratis verrassingsontbyt ‘n aanslag op hul afgetakelde selfbeeld gaan wees, die dunnetjies wat van slaaiblare en harde werk leef, die gesondheidsbewustes wat alreeds tuis ‘n gesonde ontbyt sou weggeslaan het.

“Almal was baie opgewonde.” En die arme sekretaresse moet alleen hier bly sit en die wolf van die deur af hou.

“En almal is weg? Wat van die meisies?” Sy wou sê dis onrusbarend stil, besef nou dis die gewone gekwetter met pouse wat sy gemis het.

“Fliek in die saal, dan ‘n verlengde pouse van half elf af.”

“Almal in die saal? Sonder toesig?”

“Elke klas het twee ouers gereël om toesig te hou. Juffrou Badenhorst wil graag die ouers se graad van betrokkenheid verhoog.”

Personeel se motivering verhoog, ouers se betrokkenheid verhoog? Asof hier onder haar sorg geen motivering of betrokkenheid was nie. Asof sy niks hier beteken het nie, asof sy nooit hier was nie.

“Dan gaan ek maar. Totsiens, Salomien.”

“Totsiens, Mevrou, kom gerus weer. Gee net eers ‘n luitjie.”

Sy moet haarself bedwing om nie na die veilige hawe van haar motor te drafstap nie, sukkel om die trane terug te hou.

Die geluid van skreeuende bande ruk haar vinnig terug die werklikheid in.

 

 

 

 

Etikette: , , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: