RSS

Net een kans – Deel 2

17 Sep

att00327“Eina!” Haar handpalms brand soos vuur, sy moes natuurlik op die grofste deel van die sypaadjie te lande kom. Maar daar is nie tyd vir selfbejammering nie, Comien is onmiddellik reg om haarself te verdedig. Sy het nie amper veertig jaar in die beroepswêreld oorleef om op haar eerste dag van aftrede skaars honderd meter van haar huis af vermoor te word nie. En dit nog sonder grimering, met haar hare in wanorde. Niemand behalwe Cobus sien haar ooit so nie. As sy dan móét gaan, moet dit ten minste met ‘n tikkie waardigheid wees.

Sy neem ‘n oomblik om te besef die hand wat na haar uitgesteek word, is bedoel om te help, nie om seer te maak nie. “Ek is verskriklik jammer! Ek is so lomp met die ellendige krukke, weet nie hoe ek ooit aan die goed gewoond gaan raak nie.” ‘n Beskaafde stem, beslis nie dié van ‘n dronkie nie. Albei krukke nou lomp onder een arm vasgedruk, die hand steeds na haar uitgestrek.

Sy ignoreer die hand en skarrel lomp orent. “Wat op aarde soek ‘n mens op krukke hierdie tyd van die dag op straat?”

“Dit kan jy weer vra, hoor.” Daar is nou ‘n laggie in die stem, sodat haar mondhoeke ook begin trek.

“Ek het oor jou kruk gestruikel.” Nou kan sy die lag nie meer keer nie. Pure verligting. En met die verligting kom haar natuurlike nuuskierigheid na vore. “Gaan jy my vertel wat jy hier soek? Of moet ek raai?” In die swak lig kan sy ‘n lang, effens geboë figuur uitmaak, groot bos grys hare. Nog ‘n afgetredene – en dan boonop nog op krukke. Sy sou reken dis heeltemal erg genoeg daarsonder.

“Ek gee jou drie raaie.” ‘n Man wat met homself kan spot. Dit kon Cobus ook doen, lank gelede, voor die druk van die onderwys hom so vreeslik ernstig gemaak het. Hy was al die jare die sensitiewe een, sy was van altyd af ‘n taaier soort mens.

“Jy het ‘n operasie gehad, jy moet stap as deel van die herstelplan. Maar jy is te ydel om dit oordag op straat te waag met die krukke.”

“Eina!” Hy het ‘n lekker lag, diep uit die maag. “ Maar ek het seker daarvoor gesoek. Ek voel soos ‘n gek met die goed, ek verbeel my die hele buurt sal vir my lag.”

“Dit kon jy gewees het wat neergeslaan het. Kan jou vrou nie met jou saamstap nie? Sê nou jy kry seer? Het jy ooit ‘n selfoon by jou?”

“My vrou dink ek is verspot, sy verseg om nou al op te staan. En ja, ek het darem my foon.”

“My man reken ook ek is gek.” Vir ‘n oomblik verlang sy na Cobus se slaapwarm lyf, maar dan onthou sy hoe hy van haar weggedraai het. “Wees nou versigtig, hoor.” Laat sy liewer wegkom, voor sy die vreemdeling vertel van háár rede om op straat te wees en háár man wat verseg om saam te loop.

En nee, sy het regtig geen rede om skielik so eensaam te voel nie. Dis net die ego wat ʼn ietwat gekrenk is met die neerslaanslag, dis al.

Tuis wag Cobus haar in met die oggendkoerant en sterk koffie soos sy daarvan hou. “Kom sit, ek skink vir ons.”

“Jy weet ek doen my joga direk na ek gestap het, Cobus.” Haar skuldgevoel onderdruk sy.

“My liewe hemel, Comien, kan jy nie net vir een keer afwyk van jou heilige roetine nie? Jy hoef nie meer seweuur by die skool te wees nie, mens. Jy het die ganse dag voor jou om joga te doen na jou hart se begeerte.” Die klap van sy plathand op die tafel laat haar onwillekeurig ‘n tree terugstaan. Cobus is die mees gelykmatige mens wat sy ken, soveel irritasie sien mens selde by hom.

Die ganse dag. Vir joga, vir enigiets. Dis wat haar so bang maak. Waarmee gaan sy haar dae vul? Lees? Tuinmaak? Naaldwerk? Brug? Terwyl sy niks anders wil doen as skoolhou nie? “Ek verkies om in ‘n roetine te bly.”

“Jy sal ‘n nuwe roetine moet ontwikkel, Comien, die oue is uitgedien.”

“Uitgedien, ja. Dis nie die ou roetines wat uitgedien is nie, dis ek.” Sy laat die koffie in die piering stort, dit moet van netnou se skrik wees dat sy nog die bewerasie het.

“Jy sal jou kop moet regkry, my vrou, of dit gaan vir jou ‘n nagmerrie word.”

“Dis alreeds ‘n nagmerrie, Cobus, en jy maak dit nie beter nie.”

“Goed, ek kry die boodskap.” Hy draai op sy hakke om. Die klap van sy studeerkamerdeur klink te hard in die stil huis.

Sy skrik toe die eerste traan op die kombuistafel val, spring op en gryp ‘n stuk papierhanddoek van die rol by die stoof af. Sy raak weer bewus van haar knie wat brand. Sou die krukkeman ooit sy huis veilig gehaal het?

Manlike ego, dis sy probleem. Maar is dit nie haar eie ego wat in haar pad kom staan het nie? Want wat is sy werd sonder haar beroep? Wat anders het sy om haarself op te roem? Nie kinders of kleinkinders nie, geen lus vir brug speel of borduur  nie. Sy was die skoolhoof, die streng, regverdige, effektiewe skoolhoof. Dis wie sy was.

En nou voel sy soos ʼn ronde nul op ʼn kontrak.

Sy is buite verhouding bly toe sy op ʼn  oggend weer die krukkeman teenkom. Hy het intussen gevorder tot net een kruk. Hierdie keer weet sy om wyd te hou, buite bereik van die gevaarlike blink punt. “Môre! Waar was jy? Ek was bekommerd.”

Ja, sy is uitgehonger vir geselskap. Tussen haar en Cobus heers ‘n stram stilte. Vanuit haar studeerkamer hoor sy hom gereeld oor die heining met die wulpse tuisblyma aan hulle linkerkant ginnegaap, kort-kort is hy met die afgetrede boepens op regs weg na een of ander vergadering toe. Sy mik daagliks om ‘n oud-kollega te bel, sy dood van nuuskierigheid oor hoe dit by die skool gaan. Maar haar trots  keer haar. Dan pak sy maar weer ‘n nuwe rak uit, gaan haar boeke noukeurig deur, lees en herlees geliefde gedeeltes. Kry die dag om, skep orde in haar omgewing om die chaos in haar binneste teen te werk.

“Hallo!” Hy leun laggend op die kruk. “Ek moes eers die ego ‘n bietjie herstelkans gee. Ek is nie gewoond daaraan om vrouens vroegoggend op straat te pootjie nie.”

“Dis ek wat nie gekyk het waar ek loop nie.”

“Jy moet wakker loop, hoor. Dis wel baie veilig hier in die buurt, maar mens moenie vergeet in watter land ons lewe nie.”

“Dalk moet ek jou as my beskermer aanstel. So ‘n kruk behoort ‘n formidabele wapen uit te maak.”

“Nou toe, kom. As jy nie omgee vir my gebrek aan spoed nie.”

Solank hy met haar gesels kan hulle wat haar betref teen ‘n slakkepas voortkruip. “Ek gee nie om nie.” Sy val langs hom in, probeer haar treë inpas by sy stap. “Laat ek raai. Knievervanging? Heupvervanging?”

“Knie. My geskenk aan myself met my aftrede.”

“Dis ‘n vreemde gedagte.” Aftrede is nie vir haar iets om te vier nie. En dan nog op so ʼn aweregse manier.

“Soort van simbolies. Ek het amper veertig jaar agter ‘n lessenaar deurgebring. Nou wil ek die ooptes in. En toe pak die knie op nog voor ek behoorlik kon begin.”

“Wat wil jy doen? Waarheen mik jy?”

“Ek wil stap. Ek doen al twee kilo’s per dag. My volgende mikpunt is vyf. Dan ‘n pretloop, net eers vyf kilo’s. Daarna tien, dan verder.”

Sy luister verstom. Soveel deursettingsvermoë, hy moet seker ‘n baie koppige man wees. “En jy reken jy gaan dit doen?”

“Natuurlik gaan ek. Al vat dit die res van my lewe.” Hy halt ‘n oomblik, haal diep asem. “As ek nie nuwe drome gekry nie, sou ek dit nie gemaak het nie. My werk was my lewe. En ek was wragtig nie van plan om sommer al dood te gaan nie. Nie letterlik óf figuurlik nie.”

“Wat het jy gedoen?”

“Ek was in die finansiële wêreld. ‘n Harde wêreld, maar ek was tuis daar. Ek vind egter mens word sagter met die ouderdom, ek het krakies in my mondering ontwikkel.”

“My  mondering was nog piekfyn. My gesondheid ook. ‘n Blote datum op die almanak maak my ongeskik om met my lewenstaak voort te gaan.”

“Mens kan nie bitterheid bekostig nie. Jy sal ‘n ander doel in die lewe moet kry.”

“Moenie jy ook vir my kom preek nie, my man is erg genoeg.”

“Dit klink of jy ‘n preek nodig het.”

“Wie is jy om oor my uitsprake te maak? Jy ken my nie.” Sy is vererg tot in haar kleintoontjie. “Ek draai hier af. Totsiens.”

Hierdie keer land sy op die ander knie. En weer op haar hande wat sy instinktief uitsteek om te keer. Dit brand tot in haar deurmekaar gemoed.

Advertisements
 
 

Sleutelwoordw: , , , ,

4 responses to “Net een kans – Deel 2

  1. Woef-Woef

    18/09/2016 at 00:11

    Lekker gelees. Ek wag in spanning vir hoofstuk 3. Laat weet my net asseblief, as die lewe so besig raak, vergeet ek om blogs te lees. Ek is ook naby aftree en probeer nog n jaar of 2 inpas, maar ek is nie van plan om so “nutteloos” te voel nie! Ek gaan beslis ook laatlê en dan die dag vat soos dit kom.

     
    • Alta Cloete

      18/09/2016 at 10:05

      Hallo! Bly as jy geniet!
      As jy op die blog inteken, kry jy ‘n e-pos wanneer daar ‘n nuwe stuk verskyn.

       
      • Woef-Woef

        18/09/2016 at 17:25

        Ek weet. My probleem is dat ek heelwat sulke eposse kry en dan geneig is om nie behoorlik deur hulle te lees nie, veral as dit druk gaan. Maar is ek nie ingeteken as jou stukke op my Reader verskyn nie? Dit is waar ek dit begin lees het.

         
      • Alta Cloete

        18/09/2016 at 19:04

        Ek sien op die lys jy is ingeteken, ja.

         

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: