RSS

Trek: Winnie Rust

12 Mei

Trek 1Trek is die nuutste historiese roman uit die pen van Winnie Rust, skrywer van Martha gravin van Stamford  en Margie van die Seminary en ander verhale. Hoewel dit op die oppervlak hoofsaaklik die verhaal van die gedwonge verskuiwing van bruinmense uit die middedorp van Wellington is, raak Trek eintlik die groter konsep van ontworteling aan, soos dit op verskillende maniere mense in verskillende tydvakke se lewens aanraak.

Miss Girlie word gebruik om die verhale van die magdom karakters in die boek bymekaar te bring. Girlie is ʼn gesofistikeerde bruinvrou en onderwyseres met Skotse bloed, ʼn goeie opvoeding en ʼn bekoring vir mans oor grense heen (… nog een keer langs jou op die rivierwal lê, na jou fyn voetjies en hande kyk, die moesie op jou wang, jou mond sien lag, jou tande sien blink.) wat die lief en leed van haar gemeenskap intiem beleef vanaf die jare voor apartheid tot na die koms van volle demokrasie in 1994. Onlosmaaklik verweef met haar verhaal is dié van die broers Boeta en Lambert van der Merwe van die plaas Weltevrede, verteenwoordigend van onderskeidelik die oënskynlik hardvogtige boer wat sy ekonomiese belange eerste stel en die sagsinnige idealis wat diep aangeraak word deur die ongeregtighede van die tyd.

Boeta van der Merwe verpersoonlik die argetipe van die witman sonder respek vir sy werkers; arrogant, grondbehep, chauvinisties, die veroweraar wat ook nie huiwer om sy attensies op ander vroue as sy eie af te dwing nie. ʼn Mate van balans word egter wel verskaf wanneer sy probleme met die alkoholisme, messtekery en ander sosiale probleme in die plaaswerkersgemeenskap wel ook kortstondig belig word. Hoe sal mense van buite weet voordat hulle in die boer se skoene staan? Kinders wat swanger raak, nog ʼn kind in ʼn oorvol werkershuis, nog ʼn mond wat gevoed moet word…

Lambert is die jonger broer, die sagte een, die een met boekgeleerdheid wat van jongsaf ʼn oog en ʼn oor vir andere se swaarkry het. As seuntjie loop hy middae weg om saam met Miss Girlie (toe ʼn jong onderwyseres aan die skooltjie op die plaas) te kuier en haar liefde en lewenslus in te drink. Onvermydelik word hulle lewenspaaie egter uiteen gedwing deur die toenemende mag van apartheid en mettertyd bly net die herinneringe oor. Deur die jare bly sy egter ʼn krag en ʼn verlange in sy lewe. Ek is die man op die kar met die wit perde, en dis jy wat teen die bergpas afkom. Ek het jou lief, Miss Girlie, maar dis ʼn hopelose liefde.

Die krag van vroue

Die wel en weë van ʼn groot aantal bruinvroue word aan die leser gebring deur die bejaarde Miss Girlie se vertellings aan die simpatieke buurvrou wat haar bystaan waar sy in eensaamheid saam met ʼn onsimpatieke skoondogter en ʼn arrogante kleinseun woon. Deur Miss Girlie se vertellings kry die leser die somber prentjie van vroue wat weinig beheer oor hulle lotsgevalle het, van gedwonge verskuiwings wat hegte gemeenskappe opbreek, van die vernietigende invloed van alkohol, van geweld teenoor vroue en kinders, vroeë swangerskappe wat meisies se skoolloopbaan kortknip, fetale alkoholsindroom, die misbruik van staatstoelaes, die ontoereikendheid van die nuwe regering se HOP-huise en die bedrog en onregverdigheid wat helaas steeds die bruinmense in die Nuwe SA se lewens beïnvloed.

Daar is egter ook die warmte en meelewing binne die gemeenskap, die krag van vroue wat steeds aanhou boontoe beur ten spyte van oorweldigende probleme, die begeerte van moeders en oumas om hulle kinders en kleinkinders te sien uitbreek uit hulle omstandighede deur hulle talente te ontwikkel (Daai dag toe wen die kind van die agterstrate… hy hol weg van die armoede af, hy hol weg van die drank af, hy hol weg van die man wat sy pa gesteek het.) Daar is musiek en die Klopse (Mossie loop voor, hy swaai sy stok met die ster, agter hom loop die orkes. Die drummers slaan die beat, die saxophones en trombone blink, die spelers se wange bol soos hulle blaas… langsaan dans kleintjies met wit en pienk sambrele, die onderlyfies swaai, die voetjies beweeg.) en humor en die lieflike Afrikaans wat steeds in die gemeenskappe gepraat word. Telkens word die leser bewus van die taaiheid van hierdie vroue, die menslikheid en die goedheid wat nie deur kunsmatige grense vernietig is nie.

Al die kante van die saak

Deur die jare heen bly die lotgevalle van wit en bruin vroue ten nouste verweef. Ironies is dit juis die gedeelde smart van ʼn sinnelose moord wat in hierdie verhaal die band tussen die vroue die nouste uitbeeld. En die grond bly steeds die konstante faktor waarna hulle bly hunker en waarheen hulle telkens terugkeer. Die stryd en begeerte van die bruinmense om grond te besit, is dan ook een van die sentrale temas in die boek.

In die eerste helfte van die boek waar die verhaal uit Miss Girlie se perspektief vertel word, ly die verhaal onder die oormag karakters waaraan die leser bekend gestel word. Soms is dit nie heeltemal duidelik dat dit Miss Girlie is wat aan die woord is nie en tydspronge word nie altyd aangedui nie. Dit verleen ʼn gevoel van fragmentasie aan die teks. Hierdie fragmentasie verbreek die spanning en laat die leser soms verward tussen die vele karakters. Aan die ander kant bring dit by die leser tuis dat hele gemeenskappe se lewens deur groter magte bestuur en dikwels misbruik is en nie slegs dié van enkele individue nie.

In die tweede helfte van die boek word die verhaal voortgesit uit die perspektiewe van onderskeidelik Boeta van der Merwe, sy jonger broer Lambert en Boeta se vrou, Lettie. Klem word steeds gelê op die bande tussen wit en bruin, die interafhanklikheid en die basiese respek wat selfs tydens apartheid op voetsoolvlak oorgebly het. Die herhalings uit verskillende perspektiewe van gebeure wat alreeds in die eerste helfte van die boek vertel is, dien aanvanklik as samebindende faktor, maar later word dit ietwat hinderlik. As poging om al die kante van ʼn saak te belig, slaag dit egter wel.

Trek slaag daarin om beide wit en bruin op oortuigende wyse te teken en die probleme aan weerskante van destyds se kunsmatige skeidslyn te belig. Die verbondenheid tussen mense en die invloed op mekaar se lewens word deurgaans beklemtoon (… weefdrade van verskillende kleure wat die skering en die inslag vorm).

Verbonde aan die Boland

Die beskrywings van die mense, die leefwyse en die omgewing staan uit in hierdie boek. Humor is selfs in die swaarkry te vinde en word deurgaans die beste in die mond van die eenvoudigste karakters verwoord. Winnie Rust woon haar lewe lank nog in Wellington en haar diep kennis van en liefde vir die omgewing spreek uit elke beskrywing. Die sobere eenvoud en skoonheid van die taalgebruik bly die leser by.

Hoewel ʼn gevoel van weemoed en verspeelde kanse die teks oorheers, eindig die verhaal op ʼn hoopvolle noot met Lettie wat uitreik na haar dogter en komende kleinkind in Nederland, terwyl sy steeds bewus bly van haar verbondenheid aan die Boland en haar agtergrond.

Trek teken deur die verhale van talle karakters die groter prentjie van die mens se ewige soeke na ʼn rusplek vir die voet en stel die leser in die proses aan ʼn hele aantal onvergeetlike karakters bekend.

 

Advertisements
 
1 Kommentaar

Posted by op 12/05/2016 in Boeke, Lees, Romans, Skrywers, Verhoudings

 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

One response to “Trek: Winnie Rust

  1. rondomtaliedraai

    12/05/2016 at 19:37

    Hartseer

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: