In Katerina se mojo van Kristel Loots en Piekniek by Hangklip van Kerneels Breytenbach verloor die hoofkarakter sy/haar mojo en die res van die storie is ‘n soektog daarna.
Nou is die vraag: Watse ding is ‘n mens se mojo?
Vir my is dit daardie iets wat ‘n mens uniek maak, die eienskap wat jou spesiaal maak, die iets wat jou jy maak. Daarmee hang dinge soos entoesiasme, passie, energie en dryfkrag saam. As mens se mojo op sy plek is, kan jy op jou beste funksioneer. Jy het woema en kan dinge entoesiasties aanpak. Jy kan, volgens jou spesifieke geaardheid en talente, die beste wees wat jy kan wees.
As mens jou mojo verloor, funksioneer jy nie op jou beste nie. Jy word minder uniek en meer gemiddeld, alledaags en oninteressant. Jy word minder jy. Jou bydrae tot die samelewing neem af en jou persoonlike geluk neem af.
Waar sit jou mojo? Ek dink dit sit in die kern van jou wese, daar waar jou uniekheid gesetel is. Dus iewers tussen jou hart en jou kop. (Dalk is jou mojo op jou sterkste as jou hart en jou kop in harmonie saamwerk.)
Dit is dus ‘n tragedie as mens jou mojo verloor. (Ek dink dis ‘n nog groter tragedie as jy dit nooit vind nie.)
Wat kan jou jou mojo laat verloor? In Katerina se geval was dit haar huwelik wat nie meer goed gewerk het nie. In die misdadiger in Hangklip se geval was dit ‘n toevallige gebeurtenis (wat my nie heeltemal oortuig het nie) en hy het ‘n baie spesifieke idee gehad oor hoe om dit weer terug te vind.
Ek dink verhoudings wat skeefloop is een van die goed wat jou van jou mojo kan beroof. Iemand wat afbreek i.p.v. opbou is nie goed vir jou mojo nie. Iemand wat jou voortdurend laat skuldig voel is nie goed vir jou mojo nie. Iemand wat jou op enige manier (fisies of verbaal) mishandel, is rampspoedig vir jou mojo.
Wanneer jy nie uitleef wie en wat jy regtig is nie, is jou mojo in die gedrang. Dit sluit in ‘n werk waarin jy nie gelukkig is nie, enige belangrike aspek van jou menswees wat jy vir diegene rondom jou wegsteek, enigiets wat jou ‘n nie-outentieke lewe laat leef.
‘n Ander ding wat dodelik vir ‘n mojo kan wees, is siekte. En spesifiek geestesiektes. Fisieke siektes is natuurlik geen grap nie, maar dikwels kry mense dit reg om dwarsdeur ‘n uitmergelende terminale siekte hulleself te behou. Maar geestesiektes breek jou stil-stil af waar niemand kan sien nie. Geestesiektes tas die kern van jou menswees aan.
Angs en depressie is as die twee algemeenste geestesiektes ‘n groot gevaar vir ons mojo. Wanneer jy onder in die put is, sien jy nie die werklikheid soos dit regtig is nie. Jou visie van die wêreld het verwronge geraak. Alles lyk donker. Jy het nie meer woema nie. Jou entoesiasme vir die dinge waarvan jy hou het verdwyn. ‘n Groot lamheid neem van jou besit. Die kleinste aktiwiteit verg bomenslike deursettingsvermoë. Jy is nie meer die beste jy wat jy kan wees nie.
Kan mens jou mojo terugkry as jy dit verloor het? Ek dink so, ja. Maar dit vra harde werk. Mens kan doelbewus aan jou verhoudings bou. Jy kan uitstap uit ‘n afbrekende verhouding of verkeerde werk. (Dis natuurlik makliker gesê as gedaan.) Jy kan moeite doen om die regte medikasie en die regte terapeut te kry om jou met jou angs en/of depressie te help. Wanneer medikasie en terapie jou weer die lig laat sien, kan jy alles in jou vermoë doen om jou toestand te verbeter, te genees of ten minste te bestuur.
Mag jou mojo vandag stewig op sy plek wees. Of jou soektog baie suksesvol.
Jy beskryf dit so raak ! My mojo raak soms weg – dan moet ek baie hard werk om dit terug te kry. Ek dink jou mojo is ook dit wat ander na jou toe trek – of wegstoot.
🙂