RSS

Teen haar beterwete: Die Ontmoeting :)

24 Feb

Teen haar beterwete_high res (2)By die skoolhek wag die onderhoofseun getrou op sy pos, trots in sy prefekbaadjie met die ry wapentjies op die lapel. Dit het al tradisie geword dat die onderhoofseun haar ontvang en saal toe begelei, al ken sy die pad teen hierdie tyd baie goed.

“Gee vir my, dominee Jossie.”

Teensinnig gee sy die kitaarsak af. Sy kon nog nooit die seuns oortuig sy is heeltemal sterk genoeg om die ding self te dra nie. “Goed dan maar.” Terwyl hulle aanstap, groet sy links en regs. Sy wonder dikwels hoekom sy so lief geraak het vir die seunskool, sy wat sonder broers grootgeword het. Of dalk is dit juis omdat sy hier ’n paar honderd kleinboeties raakgeloop het.

“Meneer Benade het gesê ons moet eers by sy kantoor langs kom.”

“O, hy wil my seker eers deurkyk, of hoe?”

“Ek reken so, ja. Ek wonder of hy dalk ’n … wel … ’n meer normale dominee verwag?”

Agge nee, daar is die woord alweer. “En lyk hy vir julle  na ’n … normale skoolhoof? Julle prefekte het hom mos seker al ontmoet, of hoe?”

“Hy lyk baie normaal, dominee Jossie, vervelig eintlik. Ons het so gehoop ons kry iemand met ’n bietjie spunk ná ou meneer Coetzee.”

“Sies vir jou, Adriaan, meneer Coetzee was ’n baie goeie skoolhoof.”

“Ja, maar so boring, dominee Jossie. Niks verrassings nie, altyd net akademie, akademie.”

“En is dit nie wat eintlik die belangrikste is nie?” In haar hart stem sy natuurlik saam met die kind. Meneer Coetzee was vasgegroei aan die ou manier van dinge doen. Sy het vir die seuns se part so gehoop iemand met ’n bietjie meer woema neem by hom oor.

“Natuurlik, ja. Maar party jonger onderwysers is meer … wel, meer soos dominee Jossie. Lekker withit, nie so gevrek nie.”

Daarvan kan sy getuig. Veral een van hulle is so withit dat hy besluit het ’n dominee wat soos ’n sigeuner aantrek, pas perfek by sy beeld. Marc kan maar nie verstaan sy soek nie ’n man vir wie sy ’n bykomstigheid is nie. Wat gaan gebeur as sy smaak die dag verander en hy reken hy moet nuwe toebehore kry?

In die voorportaal begroet die gewone gewoel van ’n nuwe jaar hulle. Jossie kry elke keer dieselfde gevoel van lekkerkry as sy die nuwe leerders dophou, opgewonde in hul nuwe skoolklere, die ouers soms senuweeagtiger as die kinders. Net vir ’n oomblik dink sy met simpatie aan die nuwe hoof. Dis nie maklik om skoene soos meneer Coetzee s’n te kom vol staan nie. Ten spyte van Adriaan se klagtes was hy ’n toegewyde man wat die skool tot groot hoogtes gelei het.

“Hallo, Jossie,” groet Lucinda, haar vriendin en die sekretaresse. “Jy kan maar ingaan, daar is netmooi ’n oomblik se stilte by die kantoordeur.”

“Dankie, Lucie.” Sy leun vinnig nader. “En hoe lyk hy?”

’n Sagte pienk gloed stoot in haar vriendin se nek op. “O, hy lyk soos … Nee, ek dink jy moet liewer self kyk.”

“Jy sal my kitaar in die saal besorg, nè, Adriaan? En dophou dat niemand intussen op hom oefen nie?” Die seuns hou van poetse. Dis hulle manier van wys hulle aanvaar haar, sy weet. Haar kitaar het al tussen die voorportaal en die saal voete gekry, ’n ander keer het die klankman die bas so oopgedraai dat dit regtig geklink het soos ’n rock show wat sy aangebied het.

“Natuurlik, dominee Jossie.” En weg is hy.

Sy haal diep asem en klop liggies. Snaaks genoeg voel haar hande effens sweterig, ten spyte van die welkome lugversorging in die portaal. Buite brand die Bolandse somerson alreeds met oorgawe neer en dis nog maar skuins voor agt. Selfs haar ligte tjalie voel alreeds na heeltemal te veel bedekking.

“Kom binne!” “’n Diep stem, ’n gesaghebbende stem wat by ’n donker pak en ’n aktetas pas. Die stem van iemand wat lekker befoeterd kan raak. In die ou dae sou ’n rottang ook by die prentjie ingepas het.

Sy trek haar tjalie vinnig reg en stoot die deur oop. Amper verloor sy haar asem. Agter die lessenaar staan die mooiste man in menseheugenis op. Haar oë volg vanself die lang lyf wat homself ontknoop van agter die lessenaar wat altyd effens te groot vir meneer Coetzee gelyk het. Hierdie man verdwerg die lessenaar, hy verdwerg die hele smaakvolle kantoor, laat dit vaal en onvoldoende voorkom.

“Kan ek help?” Donkerbruin oë met lang, lang, wimpers. Dik, donker wenkbroue wat effens saamtrek terwyl hy afwagtend na haar kyk. Sterk, amper adellike neus, sensuele mond, kepie in die ken. Rolprentmateriaal, nie skoolhoofmateriaal nie. Dis die bos hare wat haar onkant vang. Amper swart, wild aan die krul, heeltemal te lank na meneer Coetzee se smaak. Nie dat meneer Coetzee meer ’n sê het nie.

Jossie sluk ’n slag, plak haar mees professionele glimlag op haar gesig en steek haar regterhand mooi uit met die vingers effens na onder gerig. Die handdruk van iemand met gesag, iemand wat nie nonsens vat nie. Of so sê die deskundiges. Vir haar voel dit altyd so effens neerbuigend. Om jouself in hierdie man se geselskap te laat geld, sal ’n vrou haar storie moet ken. “Dominee Josephine Tredoux. Aangename kennis.”

Hy steek halfpad om die lessenaar vas asof ’n koperkapel die kop voor hom gelig het. “Is dit u idee van ’n grap, juffrou … e …”

Sy kan behoorlik voel hoe haar nekhare rys. Met opset kyk sy in die bekende kantoor rond terwyl sy vinnig tot tien tel. Hy het nog nie kans gehad om sy eie stempel af te druk nie. Die paar skilderye is regtig al ’n bietjie moeg, sy het hulle ʼn dekade gelede hier kom kry toe sy as verbouereerde groentjie vir meneer Coetzee hier ontmoet het. “Ek sien niks snaaks nie, Meneer. U het gevra ek moet u voor die saalbyeenkoms kom ontmoet en hier is ek.” Sy draai net daar op haar hak kom. “Wel, dis gedoen. Ek sien u nou-nou. Ek ken die pad personeelkamer toe. Ek sal solank daar gaan groet.”

Toe sy in die deur omdraai om ’n laaste sarsie af te vuur, is sy gesig steeds ’n studie van onbegrip en ergernis. Die pak is pikswart, die hemp spierwit en die das verbeeldingloos gestreep.

“Mens verwag nog steeds ’n sekere … wel, waardigheid van ’n leraar.” Hy staan nou in die middel van die vertrek, die frons het dieper geword.

Amper gaan sy aan die giggel vir die gebruik van die stemmige woord “leraar.” Stemmig is sy nou eenmaal nie. “Daar is dinge wat belangriker is as waardigheid, meneer Benade. Dinge soos opregte liefde en empatie, geduld, toeganklikheid.”

Hy trap nou ongemaklik rond, duidelik nie seker van die beste woordkeuse nie. Sy is nie verbaas nie, hy is nie die eerste man in ʼn tradisionele gesagsposisie wat aanvanklik sukkel om haar te aanvaar soos sy is nie. Dalk moet sy hom so ʼn bietjie help: “Meneer Benade, ek kom al vir ’n dekade gereeld by hierdie skool en almal verwelkom my nog elke keer met ope arms. Hulle het geleer om my te vat soos ek is. Ek stel voor jy doen dieselfde.”

“Ek laat my nie deur die massa lei nie.”

“Wel, ek ook nie. Dan verstaan ons mos mekaar, of hoe?” Sy maak die deur met ’n stewige klikgeluid agter haar toe.

Agter haar toonbank glimlag Lucinda van oor tot oor. “Is hy nie allerpragtigs nie?” fluister sy vinnig toe daar vir ’n oomblik niemand is wat iets van haar wil hê nie.

“Absoluut,” moet Jossie toegee. “En lekker beneuk, lyk dit my.”

“Was hy geskok om jou te sien?” Lucie kan haar natuurlik die prentjie presies indink.

“Uit sy skoene uit geskok. ’n Rigiede man, met verouderde idees in daardie mooi kop van hom. Ek wens julle sterkte toe, Lucie.”

Sy draai op haar hoë hakke om en vat die gang personeelkamer toe. Ten minste is die klomp daar al gewoond aan haar.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

One response to “Teen haar beterwete: Die Ontmoeting :)

  1. seegogga

    26/02/2016 at 07:40

    Klink interessant

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: