Chanette Paul nou internasionaal!

Offerlam kleinerChanette Paul se internasionale deurbraak het gebeur. Sy vertrek eersdaags om die Nederlandse vertaling van Offerlam, wat in dieselfde maand as die Afrikaanse vertaling verskyn, in België te gaan bekendstel.
Offerlam speel in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en in België af.
Verwerp deur haar man en skoonfamilie asook deur haar eie familie – juis toe sy hulle die nodigste gehad het – was dit vir Caz Colijn nie maklik om haar uitsonderlike dogter groot te kry nie.
Nou is Lilah egter ʼn suksesvolle internasionale model en kan Caz uiteindelik haar lewe lei soos sy wil – in afsondering op haar eie lappie Afrika in die Overberg. Hier het sy vir haar ’n skuiling teen die lewe geskep waar sy haar vertaalwerk kan doen en uitsien na Lilah se jaarlikse besoeke.
’n Oproep van haar vervreemde suster, Tieneke, keer Caz se rustige lewe eensklaps op sy kop. Josefien Colijn, die vrou wat Caz haar lewe lank as haar ma geken het, is op sterwe. As Caz wil weet wie haar biologiese ouers is, moet sy Gent toe kom voor Josefien sterf.
Hierdie oproep maak ’n tonnel na die verlede oop: na haar jeug onder Josefien se meedoënlose duim; na herinneringe aan haar kortstondige huwelik; na die nag waarop Lilah gebore is.
’n Inbraak beklink die saak. Caz gaan Gent toe. Deels om weg te kom van die misdaadmekka wat Suid-Afrika geword het, deels om uit te vind waarom sy deur haar biologiese moeder weggegee is en deels om Lilah te siene te kry.
Aanvanklik is Caz salig onbewus van die mense wat elke beweging wat sy maak, monitor. Geleidelik begin dit egter by haar insink: die twee Kongolese wat so gereeld oor haar pad kom, is dringend op soek na iets waarheen hulle glo sy hulle kan lei; en hulle stuit nie vir moord nie.
Die legkaartstukke van Caz se herkoms begin stadig in mekaar pas. Die waarheid het egter vele fasette, veral gesien deur die oë van ’n bejaarde vrou wat sukkel om hede en verlede uitmekaar te hou, en onthou en vergeet soos haar verkalkte are dit toelaat, of nie.
Intussen span die net wat die Kongolese oor Caz gooi, al stywer…
Die Nederlandse vertaling van Offerlam word ook op 10 November by die Antwerpse Boekebeurs bekendgestel en die stad Gent het Chanette genooi om die boek daar bekend te stel op 15 November 2015.
Offerlam is Chanette Paul se een en veertigste boek, maar verteenwoordig ’n nuwe begin vir haar oorsee.
Paul is steeds geliefd onder Suid-Afrikaanse lesers. Haar boeke haal verskeie kere finalisstatus vir pryse en sy word drie agtereenvolgende jare aangewys as die wenner van die Lekkerlit Boek van die Jaar-prys, naamlik in 2012 met Maanschijnbaai: Jo & Sue, 2013 Siende Blind en 2014 Ewebeeld. Ewebeeld wen ook in 2015 die ATKV-Woordveertjie in die liefdesromankategorie.

Persverklaring: Izak de Vries – LAPA

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s