RSS

Die ATKV bring hulde aan Evert Snyman

26 Sep

kuierkunste_mari_evertEvert Snyman se stem het stil geword

Evert Snyman is gister oorlede.

In 2009 het die ATKV hom vereer vir sy volgehoue bevordering van Afrikaans, wat op daardie stadium reeds 33 jaar geduur het.

Snyman was ’n vriend van die ATKV. In ’n baie kort verklaring, vroeg vanoggend, het Japie Gouws, besturende direkteur ATKV-groep, gesê: “Hy was ons baie goedgesind.”

Evert Snyman was vir baie Afrikaanssprekende mense ’n gas in die huis. Hy was ’n bekende omroeper, skrywer en akteur. Talle dramas het hy saam met sy vrou, Mari, geskryf en hy was ook bekend vir sy storiereeks vir die kleingoed, wat oor die wel en weë van Stoffel die Seekoei gehandel het.

“Oom Evert” sal ook deur baie kinders onthou word vir Storietyd, die program wat saans net na 19:00 op RSG uitgesaai is.

Benewens sy liefde vir stories, die radio en Afrikaans, was Evert ook ’n kranige motorfietsentoesias en het hieroor ook ’n radiorubriek behartig. “Die man het die lewe geleef,” het Amanda Olivier, ’n toenmalige kollega van Snyman, in ’n onderhoud op Pasella gesê: “Dit word in sy dramas weerspieël,” het sy bygevoeg.

Snyman is in 2006 met ’n skaars niersiekte gediagnoseer en moes gereeld dialise ondergaan. In ’n onderhoud met Beeld het hy gesê groot dele van Stoffel se avonture is geskryf terwyl hy vasgekluister was aan die dialisemasjien.

Hy is nie net deur die ATKV vereer nie. In 1994 het hy die gesogte Artes-toekenning gekry as Beste Uitsaaier: Radiodienste wat in Engels en Afrikaans uitsaai.

Evert Snyman het in 1976 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK), as akteur begin werk

Hy was ’n gereelde akteur in verskillende radiodramas en reekse vir die destydse Afrikaanse Radiodiens en Springbokradio.

In 1982 sluit hy hom aan by die Afrikaanse Radiodiens as omroeper en regisseur.

Twee jaar later het gaan werk hy by Mimosafilms.

In 1984 het hy die vryskutmark betree, maar het in 1987 weer voltyds aangesluit by die SAUK se Afrikaanse Radiodiens as Senior Omroeper/Regisseur.

Snyman het van homself gesê dat hy vinnig kon kwaad word en onder die jong akteurs het hy klaarblyklik die bynaam “Helsbesem” gehad, tog het verskeie van hierdie akteurs hulle lof uitgespreek vir die manier waarop hy hulle loopbane bevorder het.

Evert en Mari het twee kinders gehad.

Aan Mari, die kinders en die kleinkinders, wil die ATKV innige simpatie uitspreek. Ons het ’n vriend verloor, julle het ’n geliefde, ’n pa en ’n oupa verloor.

Uitgereik deur Izak de Vries, namens die ATKV, op versoek van die ATKV

 
2 Kommentaar

Posted by op 26/09/2015 in Uncategorized

 

Etikette:

2 responses to “Die ATKV bring hulde aan Evert Snyman

  1. Gert

    26/09/2015 at 16:29

    Goeie ou.

     
  2. rondomtaliedraai

    27/09/2015 at 19:58

    Hy was regtig ‘n gunsteling.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: