RSS

Persverklaring: Opdrag van oorkant

25 Aug

Opdrag van oorkant finale voorbladWanneer die bejaarde boer, Theresa Beyers se eksman, die geliefde Afrikaanse skrywer Coenraad Beyers sterf, bring die ongewone versoeke in sy testament haar te staan voor die vrou vir wie hy haar verruil het. Vir albei wag daar egter ’n verrassing in die vorm van die jong en swanger Cheryl-Anne Fortuin, wat toe veel meer as Coenraad se persoonlike assistent was. Ook Anna Philander, wat oënskynlik bloot die Beyers-gesin se huishulp was, kom prominent na vore.
Met die strooi van sy as op sy geboorteplaas en die boektoer om sy outobiografie bekend te stel, word die vroue gedwing om hulle verhouding met Coenraad, hulle foute van die verlede en hulle drome vir die toekoms te konfronteer.
Die boekgesprekke word gelei deur Coenraad se uitgewer Anthonie Binedell, self bejaard en klaarblyklik ernstig siek. Aanvanklik dien hy bloot as katalisator, maar hy word spoedig dieper betrek by die vroue se komplekse verhoudings.
Ten spyte van hulle diepgaande verskille word Theresa, Anna, Lisa en Cheryl-Anne in ’n ongemaklike eenheid saamgesnoer deur die wete dat hulle deelname aan die boektoer vir Cheryl-Anne in staat stel om ’n finansiële toekoms vir haar kind te verseker. Beide Theresa en Lisa word opnuut gedwing om hulle kinderloosheid in die gesig te staar en vind ook die rede daarvoor uit.
Die skrywer ondersoek die onregverdige mag wat ’n geliefde uit die dood oor die agtergeblewenes kan hê en stel ook die vraag of almal in die Nuwe Suid-Afrika werklik al so gelyk is soos ons graag wil glo. Die tema van verganklikheid staan ook sentraal in die verhaal.

Pryswoorde vir Alta se nuwe boek
Jeanette Ferreira skryf oor Opdrag van oorkant: “Cloete se outentieke dialoog en milieuskildering blink hierin uit, so ook haar kundige fokus op die fokaliserende karakter wat tot gevolg het dat die leser uitsluitlik met Theresa identifiseer.
“Die newekarakters oortuig eweneens. Trouens, hierdie roman floreer op karakterisering …”

Wat laat hierdie teks uitstaan?
Enigeen wat Alta se romans al gelees het, sal weet sy slaan kaalvuis, maar dan salf sy ook mildelik.
Daar is bitter min skrywers wat die moed het om die soort goed aan te spreek wat Alta aanspreek. Sy is ’n gloeiende voorbeeld dat lekkerlees en betrokkenheid nie van mekaar verwyderd hoef te wees nie.
Wanneer die kanon eendag eerlik is, sal Alta Cloete se bydrae tot ’n samelewing van versoening raakgesien word. Die probleem is, sy skryf so lekker, dat die kritici bang is om haar op te hef vir haar bydraes tot nasiebou.

Oor die skrywer
Alta Cloete is die skrywer van omtrent vyftig gepubliseerde tydskrifverhale, twaalf romanses en sewe liefdesromans, laasgenoemde alombekend as die Geur- en Seisoen-reekse. Sy skryf genrefiksie omdat dit is wat sy self die graagste lees en omdat sy bevoorreg voel om deel van die oplewing in Afrikaanse ontspanningsfiksie te wees. Haar karakters is egter nie volmaakte poppe nie, maar gewone mense met gewone foute, vrese en vreugdes en sterk sowel as swak punte. Die kwessies wat in haar boeke aangespreek word, is relevant vir die moderne leser, maar sy poog om die aanbieding altyd lig en toeganklik te hou. Hoewel ontspanningsfiksie gewoonlik op ’n hoopvolle noot eindig, doen sy moeite om nie die indruk te skep alles gaan noodwendig volmaak wees nie. Haar karakters werk altyd deur hulle kwessies en kom sterker en meer volwasse mense anderkant uit. Haar stories word egter nooit ’n preek nie en haar doel bly steeds om in die eerste instansie ’n lekker storie te vertel waarmee die leser kan identifiseer.
Sy het as bibliotekaresse en later as preprimêre onderwyseres en skoolbibliotekaresse intens bewus geraak van die positiewe rol wat lees en spesifiek lees in Afrikaans in die lewe van mense van alle opvoedingspeile en alle ouderdomme kan speel. Haar vrye tyd word dus hoofsaaklik gebruik vir die bevordering van die Afrikaanse boek deur haar groep Kom ons lees weer Afrikaans! op Facebook en haar blogs (www.altacloete.wordpress.com en http://altacloete.bookslive.co.za/blog/). Sy skryf ook van tyd tot tyd Afrikaanse boekbesprekings vir die Nederlandse publikasie Maandblad Zuid-Afrika se Lekkerleesblog.
Sy poog om inligting oor depressie te versprei deur haar Facebook-blad https://www.facebook.com/InspirasieVirDepressievegters en die boek Beveg depressie en leef voluit wat sy self uitgegee het en op Amazon te koop is.
* * *
Opdrag van oorkant is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: http://www.lapa.co.za
Die skrywer is beskikbaar vir onderhoude.

Met dank aan Izak de Vries

Advertisements
 
 

Sleutelwoordw: ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: