Gewrigsvervangings is toe nie net vir bejaardes nie. (Ook nie vir sissies nie – maar dis ʼn ander storie.) Baie dokters verkies deesdae om ʼn pasiënt na ʼn operasie eers in die intensiewe sorgeenheid te laat stabiliseer. En daar is ʼn rede hoekom morfien so gevaarlik is – dit laat jou so lekker voel!
Dis nie al wat ek met my onlangse knievervanging geleer het nie. Ek het vele dinge oor myself, die mense rondom my en die mensdom in die algemeen uitgevind. Party ontdekkings was welkom, ander minder welkom. Party was positief, ander minder positief.
Eerstens is ek pieperiger as wat ek gedink het. Ek is nie die afstammeling van die dapper vroue wat die Drakensberge kaalvoet en blootshoof wou aandurf nie. Ek is ‘n nakomeling van dié wat rustig in die Kolonie agtergebly het.
Mens kry baie soorte pyn. Akute pyn is iets anders as chroniese pyn. Die pyn wanneer daar aan jou lyf gepeuter is, is anders as die pyn van artritis of fibromialgie. En hoe banger jy vir die pyn is, hoe skerper is sy tande.
‘n Hospitaal – en veral die intensiewe eenheid – is nie noodwendig ‘n aaklige plek nie. Deur ‘n waas van pynstillers kan dit selfs ‘n aangename plek wees. Daar is soveel mense wat na jou omsien, soveel tegnologie wat tot jou voordeel ingespan word.
Verpleegkundiges werk hard. Báie hard. Die ure is lank en die pasiënte nie almal engeltjies nie. Ook nie almal ewe dankbaar nie.
Dié wat minder flink lyk, is dikwels chronies moeg. Mens sien dit in die klein ure van die nag onder jou wimpers deur wanneer hulle jou masjiene kom kontroleer en ‘n paar minute in die stoel langs jou bed steel. Jy hoor dit in die suggie wat niemand veronderstel is om te hoor nie. En jy vermoed agter die vrou in die stoel staan ‘n gesin met baie sorge, dalk ‘n gesin wat deur haar salaris aan die gang gehou word.
Daar is nog iets soos doeltreffende mediese dienste in ons dikwels ondoeltreffende land. Die prentjie van ‘n chirurg wat onbewus van jou oë op sy rug sy hande toegewyd en deeglik staan en skrop, bly dankbaar in jou kop vassteek.
Die tuiskoms waarna jy so uitgesien het, is nie noodwendig maanskyn en rose nie. Die vreemde gevoel van disoriëntasie kan dalk die effek van die narkose wees. Of miskien is dit bloot die skok op jou gestel. Dalk is dit bloot sielkundig. Maar dat mens die eerste ruk vir jouself na ‘n vreemdeling voel, is nie altemit nie.
Met ʼn kruk in elke hand is mens se opsies maar bra beperk. Probeer jy voorwerpe dra, het hulle die neiging om te val. En hulle laat gewoonlik ‘n onuitwisbare vlek op die mat.
Dit kos moed om met jou krukke in die openbaar te verskyn. Jy word skielik bewus van die probleem van toeganklikheid van restaurante en winkels. Jy ontwikkel empatie vir die dapperes wat hulle hele lewe op krukke of in ‘n rolstoel deurbring en hulle nie daardeur aan bande laat lê nie.
‘n Simpatieke versorger is sy gewig in goud werd. Veral as hy jou man is en hy is so ooglopend bereid om toe te gee vir die brose fisieke toestand waarin jy verkeer. Om nie eens te praat van die brose emosionele toestand en die onverwagse opvlam van die humeur – afgewissel met onverwagse huilbuie – nie. ‘n Ware man skrik nie vir ‘n vrou se trane nie. Of as hy skrik, steek hy dit goed weg.
Wanneer die versorger – en baasbraaier en –houtkapper – se duim per ongeluk onder die byl beland, word dinge skielik heelwat ingewikkelder. Dan is dit tyd om wyer te kyk en hulp van buite te leer aanvaar. Dis ook die tyd om te ontdek jy kan wel vuurmaak en vleisbraai, selfs op krukke.
Jy ontdek ‘n onverwagse streep van selfstandigheid – of dalk blote kopppigheid – in jouself. Jy wil nie gehelp word met iets wat jy self kan doen nie. En jou arme helpers weet nie altyd waar die streep tussen die twee is nie. Jy weet self nie eens nie.
Jy raak intens bewus van jou lyf. Jy besef hierdie lyf is jou bondgenoot. En beslis nie onvernietigbaar soos jy op twintig gedink het nie. Jy kry jou liggaam met al sy onvolmaaktheid onverwags lief. Want hy (sy?) leef al amper sestig jaar geduldig met jou saam. Jy besef dis tyd vir ‘n bietjie tender loving care in plaas van die gewone kritiek.
Jou eie broosheid word vir jou skrikwekkend duidelik. En daarom word die lewe soveel kosbaarder.
Jy leer geduld. Dag na dag se pynlike oefeninge bring verbetering in klein, klein stappies.
Bowenal leer jy dankbaarheid. Dankbaarheid vir gesondheid, vir mediese dienste, vir tegnologie wat baie dinge moontlik maak, vir vriende, vir jou lewensmaat, vir die vryheid om van die huis af te werk, vir die voorreg om te kan beweeg, vir die lewe self.
Mens is sowaar nooit te oud om te leer nie. Selfs van ʼn knie.
NS. Hier is ‘n bloedlose video van die prosdedure: http://www.healthline.com/vpvideo/total-knee-replacement
Ek moet gaan vir Rugfusie ..al die hoeveelste, skraap nog moed bymekaar, sterkte, moet tog net nie val nie asseblief!!
Baie sterkte! En ek trap baaaie versigtig.
Ek her my knie maar afgeskryf na die derde operasie en kierie permanent. Snaaks genoeg is daar nogal heelwat respek vir die kierie veral onder die sonder ordentlike skoene en maniere, war leer om soos die rooi see oop te maak. Codis cocktail is die beste vir die pyn maar moenie meer as 3 dae gebruik word nie.
Baie jammer om dit te hoor! Sterkte vir jou!