Gelyke kans – Santie van der Merwe

Gelyke kansDie dae van voorspelbare liefdesverhale oor die wel en wee van beeldskone, maar effense patetiese heldinne en lang , donker helde (tall dark and hands all over – en meestal manne van min woorde) is genadiglik in Afrikaans verby. (Nie dat daar nie ook ‘n saak uit te maak is vir ‘n mate van voorspelbaarheid nie, want die tipiese leser van romantiese fiksie – as daar so iemand bestaan – wil verseker wees die tweetjies gaan wel bymekaar uitkom. Vir Afrikaanse lesers is daar deesdae volop romanses te kry, wat uitsluitlik op die ontwikkeling van die liefdesverhouding konsentreer en nie aandag gee aan die gewone klein en groot ellendes van die lewe nie. Maar ook hierdie stories is deesdae baie meer realisties as ‘n halfeeu gelede, al is daar by die romanse steeds ‘n aspek van fantasie betrokke.)

In Afrikaanse liefdesromans is die hoofkarakters deesdae dikwels nie meer bakvissies of snuiters nie en vlekkeloos en foutloos is hulle beslis nie. Nee, dit word vir die moderne leser al hoe makliker om met die karakters te identifiseer, want helaas is min van ons mos maar jonk, beeldskoon en volmaak. Aansluitend by hierdie neiging is daar die verskynsel dat romantiese fiksie ook oor getroude pare geskryf kan word. Niemand – behalwe miskien ‘n paar gelukkige siele – glo immers meer in die happy ever after konsep nie. En vir lesers is dit toenemend lekker om te lees oor karakters met wie hulle volkome kan identifiseer. Dit sluit myns insiens aan by die neiging van ouer vroue om hulself, hulle liggame en hul ouderom te aanvaar en steeds voluit te leef en lief te hê, al het swaartekrag alreeds sy tol begin eis. En ja, ouer persone het nog seks. En mag dit selfs geniet. Ook die kamerdeur van getroude pare is nie meer ‘n ondeurdringbare skans nie. Daarby word die manne ook deesdae ‘n woordjie gegun en word ‘n deel van die verhaal dikwels uit hulle oogpunt vertel.

Kristel Loots is met onder andere Katerina se mojo ‘n voorloper in hierdie opsig. Huweliksprobleme – en selfs die derde persoon wat ongelukkig soms betrokke raak – word in hierdie boeke op ‘n ligte en romantiese en met haar kenmerkende humor vir lesers verteerbaar gemaak.

Santie van der Merwe sluit met haar debuutroman, Gelyke kans, by hierdie neiging aan. Anton en Jessica is nie meer kuikens nie en oënskynlik gelukkig getroud. Hulle kinders het die nes verlaat en Jessica het dit – soos ma’s maar maak – na ‘n aanvanklike donker tyd oorleef. En dan val Anton vir ‘n jong bokkie en die hele kaartehuis tuimel inmekaar.

Een van die lekkertes van die verhaal is dat almal wie se lewens intens hierdeur geraak word, se ervaring op geloofwaardige wyse aangespreek word. Die ontroue eggenoot, die paartjie se kinders sowel as die meisie by wie hy betrokke raak, word genuanseerd geteken. Niemand is volmaak reg of volkome verkeerd nie. Elkeen reageer volgens sy of haar persoonlikheid.

Die vraag is natuurlik of die huwelik gered kan word. En of dit werklik vir al die partye die beste opsie sou wees. Na haar aanvanklike skok vind Jessica geleidelik haar voete en begin raak dit vir haar duidelik dat sy nie noodwendig meer haar man ten alle koste wil terug hê nie. Daar is lewe na ‘n mislukte huwelik. Liefde kan, helaas, vergaan as dit nie opgepas word nie.

Of kan dit?

Die skrywer bring ‘n interessante wending in die verhaal met behulp van die belofte wat die twee vroeër aan mekaar gemaak het ten opsigte van die soort situasie waarin hulle nou beland het. Hierdie wendiing skep dan ook die geleentheid vir genoeg romanse en vir die slaapkamerdeur (en dié van ander vertrekke) om op meer as ‘n skrefie oopgedruk te word.

Kry die twee hulle huwelik gered? Nee, ek gaan jou nie sê nie! Lees gerus en vind uit. Jy sal die reis geniet.

Gelyke kans is ‘n welkome toevoeging tot Afrikaans se skat van moderne, geloofwaardige liefdesverhale en nog ‘n stappie in die proses van lekkerleesboeke (ontspanningslektuur) om hulle regmatige plek langs die letterkunde in te neem.

Een gedagte oor “Gelyke kans – Santie van der Merwe

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s