Internetbemarking – ‘n paar gedagtes

social-media-marketing-100271565Hoe om NIE jou boek (of enige ander produk) op die internet te bemark nie:
1. Tik ʼn vinnige advertensie op jou selfoon. Gebruik SMS-taal en moet jou nie bekommer oor spelfoute nie.
2. Plak hierdie advertensie op al die groepe waarvan jy lid is. Maak nie saak of dit boekgroepe is of nie.
3. Waar jy nie direk kan post nie, plak dit by die kommentaar op groepe.
4. Doen dit môre weer. En die dag daarna.
5. Nooi vreemdelinge om jou vriende te wees en gooi hulle onmiddellik toe met advertensies as hulle jou versoek aanvaar.
6. Kry ʼn paar van jou vriende om op boekgroepe te sê hoe fantasties jou boek is. Hulle hoef nie redes te verskaf nie. Hulle hoef ook nie oor taal en spelling bekommerd te wees nie. Hulle kan dit elke dag doen.
7. Wanneer iemand iets negatiefs oor jou boek sê, neem dit persoonlik op en baklei terug.

Hoe om jou boek (of enigiets anders) op die internet te bemark:
1. Bou oor ʼn lang tydperk (bv. terwyl jy jou boek aan die skryf is) ʼn ondersteunersbasis op op Facebook en/of Twitter of enige ander platform(s).
2. Wees ʼn positiewe teenwoordigheid op die forum(s) wat jy kies. Bou vriendskappe op. Gee voorkeur aan verhoudings, moenie net op jouself en jou werk fokus nie.
3. Ondersteun ander skrywers en gee erkenning aan hulle werk.
4. Begin ʼn blog en bou oor ʼn tydperk ʼn gehoor op.
5. Blog oor enigiets waarvan jy hou.
6. Blog ook oor onderwerpe wat met jou boek verband hou.
7. Lees en respekteer die reëls van groepe waarvan jy deel is.
8. Moet onder geen omstandighede ʼn irriterende teenwoordigheid op Facebook word wat net die hele tyd jou eie beuel blaas nie.
9. Oorweeg om benewens jou persoonlike profiel ook ʼn skrywersblad te skep, of ʼn blad vir die spesifieke boek en nooi jou fb-vriende daarheen uit. Hier kan jy meer besonderhede oor jou werk gee.
10. Wanneer jy kritiek op jou werk kry, hanteer dit – gaan hardloop ʼn ent, eet ʼn tjoklit, drink ʼn glas wyn. Maar moenie in ʼn bekgeveg betrokke raak nie.
11. Wanneer jou boek verskyn, kan jy die voorblad, inligting oor die boek en ʼn uittreksel daaroor post. Nie alles gelyk nie en nie elke liewe dag nie.
12. Sorg dat al jou bydraes in goeie, versorgde Afrikaans is. (Dit hoef nie volmaak te wees nie. Mense wil net sien jy respekteer jou eie werk genoeg om dit mooi te versorg.)
13. Lees ʼn paar boeke oor bemarking op die internet. Jy sal bogenoemde en heelwat ander wenke daar vind. Google is jou vriend.
14. Moenie al jou energie spandeer op bemarking nie. Jou belangrikste taak is om die beste boek te skryf waartoe jy in staat is. Bemarking is nie ‘n plaasvervanger vir gehalte nie.

Hierdie metode waarborg ongelukkig nie verkope nie. Maar dit gaan jou ten minste talle vriende in die sak bring en jou lewe verryk. Want dis waaroor dit eintlik op Facebook gaan: verhoudings.

6 gedagtes oor “Internetbemarking – ‘n paar gedagtes

  1. Hi daar, Alta. Baie dankie! Ek het sommer ge-copy en paste want more vergeet ek weer wat hier staan.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s