RSS

Op soek na betekenis in die lewe

15 Mar

Dinkende meisieDit kan nogal ‘n verligting wees as mens die dag besef die meeste goed in die lewe is regtig wat jy daarvan maak. Die meeste alledaagse dinge is nie op sigself boos of goed nie. Ons het die mag om waarde toe te ken aan elke ding wat ons doen of wat met ons gebeur. Selfs die ingrypende goed soos oorlog of prestasie is nie noodwendig vanself sleg of wonderlik nie. Dit hang steeds af van die individu se ervaring daarvan. Onder spesiale omstandighede kan ‘n oorlog ‘n persoon meer volwasse maak (hoewel ek seker is daar is minder pynlike paaie na volwassenheid) en kan prestasie iemand op ‘n pad van onverpoosde soeke na roem stuur.

Maar om sinvolle betekenis aan gebeure in jou lewe toe te ken, kan jy nie ‘n drywende blaar op die lewenstroom wees nie. ‘n Passiewe lewe lei tot min goeie dinge en baie verspeelde kanse. Maar as ons die dag bewustelik begin leef en doelbewus nadink oor ons lewe, kan dit tot groot persoonlike groei lei. (Dis dan ook een van die maniere waarop depressie uiteindelik vir ‘n mens die begin van ‘n pad van persoonlike groei kan wees .)

Nou kan jy besluit watter betekenis jy aan elke gebeurtenis in jou lewe gee, ook aan dié wat op die oog af na rampe en ellende lyk. Niemand het egter gesê dit gaan maklik wees nie. Dit kos vasbyt om positief te bly as die daaglikse katastrofes – en selfs groot ellende – jou oorval. Ek dink dis teen ons natuur om altyd positief te wees. Ons is maar oor die algemeen baie geneig om die slegte in elke ding raak te sien.

In teorie weet ons die ou wat ons motor stamp, kan dalk ‘n goeie vriend raak. Of ‘n siekte kan tot geestelike verdieping lei. Maar om dit toe te pas, is ‘n ander storie. As mens self nie besonder sonnig voel nie, is jy eenvoudig nie lus om positief te wees nie. En die vreeslik positiewe siele om jou kan jou ten hemele irriteer. En natuurlik laat skuldig voel ook. Dit help as mens besef hulle is dalk ook maar besig om hulself te máák positief wees. Ons weet mos mens kan jouself lekker verneuk. Om vir mense van die geluk by jou ongeluk te vertel, moet jy mos darem eers self die geluk raaksien, al is dit net in jou verbeelding. Vertel vir genoeg mense en dalk begin jy self uiteindelik in jou agterkop die goeie nuus glo.

Nee, ek reken nie ons moet ten alle koste altyd maak of alles in ons lewens briljant is nie. (Ons ken mos almal die standaardantwoorde op die vraag hoe dit gaan. Baie goed, man! Dit kan nie beter nie! Ek moet keer of dit gaan te goed!) Om swaar te kry en dit met niemand te deel nie, maak die swaar nog swaarder, ten spyte van die ou gesegde wat sê as jy huil, dan huil jy alleen. Iewers in jou kring moet iemand wees vir wie jy maar kan vertel hoe dit régtig gaan. En as daar nie so iemand is nie, is dit tyd dat jy so iemand soek. Om permanent ‘n front voor te hou, doen geen mens goed nie.

Om te besluit watter betekenis jy aan iets toeken, beteken dat jy self verantwoordelikheid neem. En dis miskien die heel grootste guns wat mens jouself kan doen.

Advertisements
 
 

Sleutelwoordw: , , , ,

One response to “Op soek na betekenis in die lewe

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: