Ons is so dikwels geneig om te reken ALLES is verkeerd wanneer EEN aspek van ons lewe buite beheer geraak het. Ek druip ‘n toets – en my hele toekoms in die arbeidsmark is befoeter. Ek baklei met my man oor ‘n nietigheid – en die huwelik is op die rotse. Ek tel ‘n halwe kilo op – en ek rol straataf.
Bogenoemde is natuurlik tipiese voorbeelde van die alles-of-niks-denke en rampspoedskepping waaroor ons al so dikwels gepraat het. Ons maak van een insident of probleem ‘n permanente saak, ‘n magtige berg van ‘n kleine molshoop. Ons maak van ‘n kraan wat drup ‘n golf wat aangerol kom. Sit jy met ‘n veld vol molshope en verskeie druppende krane (of dalk is jyself die druppende kraan van Spreuke!), sit jy gou-gou met ‘n ganse bergreeks en ‘n verwoestende tsoenami. En ‘n goeie teelaarde vir depressie.
Hieruit volg dat alles in jou lewe vir jou verkeerd kan voel as jy depressief is. Gou-gou is jy in die verkeerde beroep, met verkeerde man getroud en sommer op verkeerde dorp ook, indien nie in verkeerde land nie. Elders praat ons oor die belangrikheid om stappe te neem as daar dinge in jou lewe verkeerd is, maar dit kan fataal wees om groot veranderinge te maak terwyl jy in die greep van depressie is.
Depressie verwring ons persepsie van die wêreld waarin ons leef. ‘n Effens valerige prentjie word alte maklik pikswart. Die gewone daaglikse ellendes lyk na die swaarste las om te dra. Gewone struwelings met familie of kollegas lyk na onherstelbare verwydering.
As ons waarneming van die wêreld verwronge geword het, kan ons so maklik tot verwronge oplossings kom. Daarom is dit beter om met belangrike besluite te wag tot jy uit die put is. Dit geld veral vir lewensveranderende dinge soos egskeiding of ‘n verandering van beroep. Moenie van onder uit die put dinge aan die gang sit wat jou lewe vorentoe radikaal gaan verander nie.
Daar is wel ‘n paar besluite wat mens van onder uit die modder moet neem, of verkieslik sommer met die eerste tekens dat jy aan die gly is. Die eerste een is om elke oggend uit die bed op te staan. So eenvoudig, maar soms so bitter moeilik. Dan volg die afspraak by die dokter of psigiater en dan die afspraak by die terapeut. En uiteindelik die daaglikse stapppie om die blok.
Ek is bereid om my kop op ‘n blok te sit dat hierdie vier stappe dinge vir jou beter gaan maak. Maar bly asseblief weg van groot lewensbesluite tot jy seker is jou kop is weer helder en jou perspektief op dinge nie meer deur depressie verwring nie.