RSS

Om besig te bly

01 Mar

work-life-balance-text-white-yellow-arrows-pointing-to-left-right-chalkboard-concept-37086938Ons weet almal ledigheid is die duiwel se oorkussing. (Wat ‘n oorkussing ookal mag wees!).

By Afrikanerkinders van my geslag is ‘n werksetiek van kleinsaf ingedril, bewustelik of op onbewustelike vlak. Die meeste van ons se ouers was ongeneeslike harde werkers. Vir sit en mopper was daar nie genade nie. Selfs vir blote sit was daar nie veel genade nie. Ek onthou goed hoe my ma geglo het mens sit en werk nie by die kombuistafel nie, jy staan en skil jou groente. Om nie eens te praat van stryk nie. Hierdie luie kind het sommer jonk-jonk al rugpyn gepleit en op ‘n kroegstoeltjie sit en stryk. En so skuldig gevoel dat sy deesdae ook maar weer die staanding doen.

Die oumense het natuurlik ‘n punt beetgehad met die stanery. Deesdae lees mens al hoe meer hoe ongesond ons voortdurende gesit is. My seunskind in Noorweë het al ‘n paar jaar ‘n verstelbare lessenaar, waarby mens om die beurt kan sit en staan. Ook hier begin die konsep bekend word en die lessenaars word meer algemeen beskikbaar. ‘n Hele paar jaar gelede het ek al gelees die Japannese hou graag vergadering waar almal staan. Dit behoort te help vir daardie siele wat so lief is om met hare kloof ‘n vergadering uit te rek.

Voortdurende negatiewe denke – veral die soort waar jy in sirkels dink en nie tot ‘n oplossing kom nie – vorm ‘n lieflike teelaarde vir depressie. En negatiewe denke kom soveel makliker as jy nie iets het om jou hande en jou kop besig te hou nie. Aan die positiewe kant gee dit mens ook die geleentheid om die depressiesiklus te verbreek as jy die kringloop van hopelose gedagtes kan verbreek. Een van die beste metodes is om jou hande besig te kry. Handwerk, stokperdjies, doodgewone harde werk kan help. As jy jou kop ook kan betrek, des te beter. As dit met iets kan wees waarvan jy hou, is dit absoluut ideaal. Daarom is dit dan ook so belangrik om jou lewe te vul met goed wat jou inspireer, om ‘n doel in jou lewe te hê, ‘n rigting waarin jy werk. Hieruit vloei ook dat sinvolle arbeid ons help om belangrike basiese menslike behoeftes te vervul.

‘n Stok in die wiel is natuurlik die dodelike vermoeienis wat depressie oor mens laat neerdaal. Die beeld van iemand wat “onder die swart kombers is” wat ek as kind in my familie gehoor het, illustreer dit perfek. Daardie kombers lê jou plat, versmoor jou, belemmer jou uitsig en tap jou energie en kreatiwiteit. En dis baie, baie moeilik om onder hom uit te kom.

Die beste is dus om te probeer sorg dat jy in die eerste plek nie onder hom beland nie. Of weer uitgekruip kan kry terwyl ‘n deeltjie van jou darem nog uitsteek, voor jou suurstof heeltemal afgesny word. Daarom is dit belangrik om die tekens van ‘n naderende depressie te leer ken. Dit bring ons weer eens by die punt dat ons ons belangrikste vegwerk moet doen terwyl dit (relatief) goed gaan met ons. Aanval bly maar die heel beste verdediging.

Natuurlik kan mens die konsep van besig bly te ver voer en jou lewe met soveel (nie noodwendig sinvolle) aktiwiteit vul dat jy glad nie tyd kry vir dink nie. Dit kan lei tot ‘n oppervlakkige lewe en min bevrediging op die lang duur, veral as die aktiwiteit bloot gaan oor die inwin van geld en goed en/of status. Om ‘n passie in die lewe te hê, is ‘n wonderlike ding. Maar ‘n passie kan ook te ver gevoer word. Soos gewoonlik lê die waarheid weer iewers in die middel. En daardie punt van balans lê nie vir ons almal op dieselfde plek nie.

Om jou eie balans te vind, kan ‘n baie bevredigende ding wees. En die soektog daarna kan op sigself verrykend wees en selfs ‘n paar verrassings langs die pad inhou.

 

Etikette: , , , , , ,

One response to “Om besig te bly

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: