My liefste ou moeder was die bekommerdste mens wat ek ooit geken het. Dankbaarheid en positiewe denke het nie vir haar vanself gekom nie. Veral as ontevrede tiener het dit ‘n negatiewe invloed op my gehad. Ek het skuldig gevoel, asof ek nooit goed genoeg was nie, asof niks wat ek doen of nie doen nie, haar regtig tevrede kon stel nie.
Natuurlik verstaan ek vandag beter. Haar kinders en klein- en skoonkinders was haar alles. Sy het niks meer gevrees as dat een van ons iets kon oorkom nie. Vandag verstaan ek daardie gevoel van wéét die seerkry lê iewers vir jou en wag, jy weet net nie wanneer hy gaan toeslaan nie. Vandag ken ek self die magtelose liefde van ‘n ma en die verskriklike begeerte om jou mense te beskerm teen die lewe se ellendes. En die seker wete dat jy dit nie kan doen nie.
Soos die lewe maar is, het dinge in die familie wel af en toe skeefgeloop. ‘n Miskraam of drie, ʼn dagoud baba wat sterf, hartaanvalle, ‘n motorongeluk. Die lewe se tragedies gaan niemand verby nie. Wat natuurlik net vir mens bevestig dat daar oorgenoeg rede vir jou bekommernis is.
Gelukkig het sy lank genoeg geleef dat ek hopelik ‘n bietjie kon opmaak vir daardie ontevrede tienerjare. Ek glo graag dat ek haar selfs ‘n millimeter of twee in die rigting van ‘n lewe vol dankbaarheid kon stoot. Daar was en is immers talle van ons klomp wat niks op aarde oorgekom het nie. En selfs na rampe staan mense wonderbaarlik weer op en gaan voort, dalk selfs met nuwe woema.
Natuurlik was daar in haar tyd bitter min geleentheid – en geen simpatie – vir wonder oor jou emosionele gsondheid, oor wat jy voel of dink en hoekom. Daar was te veel om te doen. In die werkskultuur van ons nasie was daar weinig genade vir diegene wat wou wroeg en wonder oor wat in hulle koppe en harte aangaan. Daar was maaltye om te kook en wasgoed om te doen en kinders om groot en geleerd te kry.
Vandag weet ek bekommernis kom voort uit vrees. En dat vrees mens totaal kan verlam. As jy niks doen nie, kan niks immers verkeerd loop nie, of hoe?
Foutiewe aanname! Dis juis wanneer ons niks doen nie, dat dinge begin skeefloop. Die uitweg uit bekommernis lyk dus vir my na DOEN. As jy kan identifiseer wat verkeerd is, ‘n plan kan beraam en dit dan kan uitvoer, kan bekommernis verdwyn. Dis juis die in die rondte dink sonder enige aksie of uitkoms wat mens so maklik depressief laat raak.
Die probleem kom in waar daar niks is wat jy aan die oorsaak van jou bekommernis kan doen nie. Dis ook die soort bekommernis wat maklik chronies kan word en uiteindelik ‘n lewenswyse.
Hier kom die kwessie van invloed en beheer ter sprake. Daar is dinge waaroor ons beheer het (soos wat ons eet en aantrek, gesondheidskeuses wat ons maak), dinge wat ons kan beïnvloed maar nie beheer nie (soos die besluite wat ons kinders neem) en dinge waaroor ons geen beheer of invloed kan uitoefen nie (soos die weer). Basies moet ons vir onsself uitmaak waaraan ons iets kan doen en waaraan nie. En laasgenoemde moet ons dan laat gaan. Wat natuurlik bitter moeilik is.
Bekommernis is myns insiens niks anders as die rampspoedskepping (catastrophizing) waaroor ons elders al gepraat het nie. Ons bedink alles wat verkeerd kan loop en wag dat dit gebeur. Ons span ons gesonde verbeelding tot ons eie nadeel in.
Ek reken dankbaarheid is dalk die teenpool van bekommernis. Pleks van vorentoe kyk en donkerte sien, kan mens rondom jou en selfs terug kyk en vreugde sien. Want ja, daar is altyd rede tot vreugde. ALTYD. Al kos dit soms bitter fyn kyk.
Nes bekommernis, kan dankbaarheid ook ‘n gewoonte raak. Daar is baie maniere om jouself ‘n stootjie in die regte rigting te gee. Elke dag ‘n dankbaarheidslysie maak, ‘n doelbewuste poging om vir elke slegte ding twee of meer goeie dinge in die lewe raak te sien, noem maar op.
Bekommernis oor dinge waaraan ons niks kan doen nie, is seker die grootste vermorsing van energie wat daar is. Ek dink bekommernis is basies om vrees die oorhand in ons lewe te laat kry.
Ek dink ook bekommernis oor allerhande goed kan maklik tot algemene angs lei, waar jy permanent vir alles bang voel – die vrees het so vaag en so algemeen geword dat jy nie meer die oorsake kan identifiseer nie en dus baie moeilik daarteen kan veg. As jy op hierdie punt kom, is dit tyd om hulp te kry. Daar is wonderlike pilletjies wat vir algemene angs help. Soms moet mens maar jou trots sluk en die kruk gryp wat vir jou beskikbaar is.
Dankbaarheid, daarenteen, gee energie. Dit maak nie eintlik veel saak of jy regtig dankbaar VOEL nie. Mens kan jouself nogal maklik om die bos lei. Dit kan baie vermoeiend en irriterend wees om gedurig vir jouself en/of andere die goed op te noem waaroor jy dankbaar is. Maar dit werk soos ‘n bom. En op ‘n dag betrap jy jouself op ‘n oomblik van opregte dankbaarheid.
Daardie dag kan die begin van ‘n vreugdevolle pad van minder bekommernis en meer dankbare vreugde wees.
Doen gerus die opnametjie by hierdie skakel: https://www.surveymonkey.com/s/FG3H2KZ