Ek het – soos seker baie van my tydgenote – nie met drukkies grootgeword nie. Nog minder met openlike verklarings van liefde tussen familie of vriende. Maar wel met die soen-op-die-mond-gewoonte. Nogal ʼn vreemde teenstelling, as mens mooi daaroor dink.
Vandag werk dinge natuurlik meestal andersom. Mondsoene word in my kringe deesdae vir die geliefde gereserveer, of dalk vir ouer familie wat nog in die gewoonte is en dalk kan aanstoot neem as dinge nou skielik verander. Eintlik is dit so ʼn intieme handeling dat ek my amper nie ʼn tyd kan voorstel toe dit algemeen was tussen al wat leef en beef nie. Dink net aan die kieme … Om nie eens van die snorre en baarde te praat nie.
Mens hoef maar net bietjie rond te vra en jy hoor vele stories van kinders wat grillerige ooms of tantes moes soen. Persoonlik het ek ‘n paar storietjies wat ek dalk nie hier moet deel nie. Die meeste van hulle behels ‘n skaam dogtertjie en volwasse manlike familielede.
Deesdae is baie Afrikaanse mense ook entoesiastiese lede van die drukkiekultuur. Self het ek besonder goed – geleidelik oor jare heen – hierby aangepas. Ek dink dit het vir my veral (dalk onbewustelik) gegaan oor die vermyding van einste daardie soenery. Mens het as’t ware iets anders om aan te bied in die plek van die mondsoen. En die feit dat daar soveel omstandighede is waar ‘n drukkie meer kan sê as woorde. Veral in hartseer situasies waar jy eintlik nie woorde het nie, of pynlik bewus is van die ontoereikendheid – en selfs potensiële skadelikheid – van woorde.
Dat aanraking vir die mens ‘n natuurlike en noodsaaklike ding is, is eintlik heel logies. Ons vel is ons grootste orgaan en ons heel eerste kennismaking met die wêreld geskied via die vel. Navorsing oor die invloed van aanraking of die afwesigheid daarvan op apies en op mensbabas in kinderhuise, is goed bekend. Ek dink niemand sal stry dat dit vir ‘n nuwe ma (en deesdae word die pa’s ook die vryheid gegun) die natuurlikste ding op aarde is om haar baba vas te hou en te vertroetel nie. Borsvoeding pas natuurlik perfek hierby in, maar natuurlik kan ‘n ma ook die baba vashou terwyl hy bottel drink. Dis net soveel makliker om hom te los en solank met iets anders aan te gaan.
Die sosiale norme van samelewings verskil natuurlik, ook wat aanraking betref. Groot dele van die Westerse wêreld het ‘n baie vyandelike omgewing vir spontane aanraking geraak. Alte maklik kan ‘n onskuldige drukkie in die verkeerde konteks as seksueel geïnterpreteer word. Mens hoor van skole in Amerika en ook al in SA waar drukkies verbied is, om onvanpaste vryerasies en ook seksuele molestering of teistering te probeer voorkom.
Baie van ons is dan ook onseker wanneer wat nou eintlik korrek is. Moet ek soen? Moet ek handgee? Moet ek druk? Wangsoene? Hoeveel? Lugsoene? In verskillende kulture en verskillende situasies is die antwoord natuurlik verskillend.
‘n Drukkie op die regte tyd help om vertroue en ‘n gevoel van sekuriteit te bou en bevorder kommunikasie.
Daar is heelwat navorsing wat daarop dui dat drukkies allerlei gawe fisieke effekte het, soos om die oksitosien- en serontonienvlakke (belangrike goedvoelhormone) te verhoog. Goeie vlakke hiervan laat ons lekkerder voel en kan help om ‘n donker bui te verdryf of te verlig.
‘n Drukkie is goed vir die selfbeeld. Op ‘n diep vlak voel mens waarskynlik jy kan darem nie so onwaardig/dom/dik/whatever wees soos jy soms dink as iemand bereid is om jou so aan te raak nie. Ons behou (hopelik) as volwassenes die positiewe assosiasies wat aanraking vir ons as kleintjies ingehou het.
‘n Drukkie help mens ontspan, die stywe spiere verslap en die pyne van bv. fibromialgie kan blykbaar verbeter.
Drukkies gee ons praktiese geleentheid vir gee sowel as ontvang. Die uitdeler word net so positief beïnvloed soos die ontvanger.
‘n Drukkie op die regte tyd kan wys mens gee regtig om, die betrokke verhouding is vir jou belangrik, die persoon is vir jou van waarde.
Nee, ek bepleit nie ontydige ʼn gevroetel tussen vreemdelinge nie. Maar ek dink aanraking op die regte tyd en plek kan baie doen om mens ʼn gevoel van konneksie te gee en eensaamheid te verminder. En ʼn diep eensaamheid is juis een van die kenmerke van depressie.
Vir my lyk sensitiewe aanraking dus na ʼn wapen in die stryd teen depressie, maak nie saak aan watter kant van die geveg jy staan nie. Die lekkerte van ʼn drukkie is dat mens nie een kan gee sonder om self een te ontvang nie. Ons weet hoeka ook dit kan mens help beter voel as jy vir iemand anders iets kan beteken. Naas ʼn glimlag is ʼn drukkie seker die maklikste ding om vir enigiemand te gee.
Daar is ook mense wat heeltemal niks van drukkies hou nie. Vir hulle moet mens natuurlik in ag neem. Ek bepleit nie dat enigiemand sy aanraking op iemand anders moet afdwing nie. Maar ek wonder tog of daar nie ʼn diep hartseer en/of eensaamheid agter ʼn algemene aversie aan aanraking lê nie.
Virginia Satir (ʼn beroemde terapeut – Google haar gerus) het gesê: “We need four hugs a day for survival. We need eight hugs a day for maintenance. We need twelve hugs a day for growth.”
Het jy al vandag jou porsie ontvang? Nie? Gaan deel dan dadelik ʼn paar uit, al is dit ook vir jou kat of hond. Niemand het gesê die ontvanger moet noodwendig ʼn mens wees nie.
Ek gee ook regtig liewer ‘n drukkie as ‘n soen … veral as mense rook is so soen darem erg onsmaaklik
Ek verkies die drukkie!
Oeee en ‘n “Group Hug” is ‘n baie spesiale ding… 🙂 Dit bring eensklaps ‘n glimlag op ‘n klomp se gesigte. 🙂
My Pa het altyd gesê..’ ‘n soen is nooit raak nie, altyd te hoog of te laag’ ons was nie juis soenerig aan’t huis nie.