Roer jou litte – dis die moeite werd!

OefeningAs ʼn mens depressief is, is jy – om die minste te sê – nie lus vir oefening nie. Nie eens om om die blok te stap wat jy dan weer onder die bed in skop nie.

Baie van ons is wanneer dit uitstekend met ons gaan, steeds nie lus vir oefening nie. Êrens langs die pad het ons ʼn baie sterk verband tussen oefening en lyding vasgelê. Die idee dat ʼn mens oefening kan GENIET, het die meeste van ons saam met ons kinderjare agtergelaat.

Miskien net dit te doen met die drawwers wat ons gereeld langs ons paaie sien. Hulle lyk maar selde of hulle dit geniet. Dieselfde geld vir die padfietsryers. Maar miskien is hulle almal net aan die konsentreer om nie die jongste tragiese stukkie statistiek te word nie. As hulle nie iets positiefs daaruit gekry het nie, sou hulle nie elke dag daar gewees het nie.

Daar is ook die kwessie van “no pain, no gain”. Om een of ander rede het ons begin glo iets wat vir jou gesondheid goed is, kan nie ook lekker wees nie.

Die selfspraak waarmee ons onsself aan die gang probeer kry, is dan ook meestal op hierdie negatiewe konnotasies geskoei. “Ek MOET hierdie week begin oefen.” En hoe meer jy dit vir jouself sê, hoe minder lus raak jy. “As ek nie begin oefen nie, gaan ek nog vetter word.” Gewoonlik sê jy dit vir jouself met ʼn tjoklit in die hand. Jy sien die oefening as straf – jy probeer jouself met ʼn lat van agter wiks om vorentoe te gaan. Maar jou brein word nie oortuig nie en jou lyf kom nie in beweging nie.

Daar is ʼn makliker manier. Regtig.

  1. Konsentreer op die KORTtermyn voordele wat oefening vir jou gaan bring. Dis ʼn feit soos ʼn koei dat enige soort oefening jou binne ʼn kort tydjie (20 min. word meestal genoem) baie meer opgewek, lewendig en positief laat voel. Hoe die serotonien en dopamien en al die ander goed met vreemde name presies werk, kan jy maklik by Mr Google gaan uitvind. Maar ek kan vir jou sê: Dit werk.

Om vir jouself te sê jy gaan oor ʼn jaar fikser en gesonder wees as jy oefen, is eenvoudig nie kragtig genoeg nie. Ons soek mos maar kitsbevrediging (instant gratification). Gee dit vir jouself – vertel jouself jy gaan oor tien minute beter voel. Want jy gaan.

Los die lat (“Ek is lui, ek is ʼn pateet, ek het nie wilskrag nie.”) en hou liewer ʼn sappige wortel voor die donkie (Dis nou jy!): “Ek gaan so lekker voel na ek gestap het.” “Ek gaan goed voel oor myself.” “Ek gaan minder depro voel as ek elke dag ʼn bietjie oefen.”

  1. Soek na ʼn soort oefening waarvan jy jou. Hou aan soek tot jy dit kry. Gebruik jou verbeelding. Wees kreatief. Raadpleeg die alwetende Mr Google. Raadpleeg mense wat gereeld oefen en dit geniet (Daar bestaan wel sulke mense!).

Haat jy draf soos ek? Moet dan nie probeer draf nie. Reken jy soos ek die oppervlakte van ʼn padfiets wat aan die pad raak, is hopeloos te klein? Moenie begin fietsry nie.

Hou jy van dans? Dans dan. Al is dit vir ʼn kwartier om die kombuistafel. Dit hoef nie by ʼn studio in ʼn mooi kostuum te wees nie. (Dit mag natuurlik, as jy dit kan bekostig en dit vir jou lekker is. Ek weet van twee dansmaats wat op hierdie oomblik in Italië op wittebrood is.)

  1. Pak jou oefening só aan dat dit VOLHOUBAAR is. As dit vir jou aaklig is, gaan jy nie volhou nie. Vir my het die gym in die dorp gewerk solank ek saam met my kinders kon gaan. Later het die gym by die hoërskool naby my gewerk, tot hulle vir die publiek toegemaak het. Toe het ʼn paar oefenvideo’s van kalahari.net gewerk – tot ek my knie seergemaak het omdat ʼn sekere posisie te veel gebruik word. Nou spring ek in my eie huis voor my eie TV rond op my eie geliefde Springsteen se musiek – en dis die kosbaarste uurtjie van die dag. (Ek is nog steeds lui voor die tyd, maar die wortel van die goedvoel wat baie gou inskop, is genoeg om my aan die gang te kry.)
  2. Luister na jou lyf. Veral as dit nie meer ʼn bloedjong lyf is nie. As iets seer raak, hou op. Smeer salfies aan. Gaan fisio toe. Doen enigiets – moet net nie heeltemal ophou nie.
  3. Begin oefen wanneer jy goed voel. Of oukei. Moenie wanneer jy in die dieptes van depressie is, van jouself verwag om ʼn oefenprogram te begin en vol te hou nie. Don’t set yourself up for failure!

Oefening is regtig die natuur se beste antidepressant. Glo my, ek weet. As ek nie jare lank toe ek dikwels ernstig depressief was, aangehou stap het nie, was ek moontlik nie vandag hier om vir jou te preek nie.

4 gedagtes oor “Roer jou litte – dis die moeite werd!

  1. Oeee ek stem 100% met jou saam. As ek soms depressief voel, sê ek: “Ek moet gaan stap sodat ek ‘n bietjie goedvoelhormone in my lyf kry.” Die eerste deel is moeilik, hier’s bulte, en net wanneer ek wil omdraai, kom die lekker afdraend, en is die spiere al losser en stap ek sommer baie verder as wat ek beplan het… en kom met ‘n huppel in my stap terug.

  2. ek wil niks hoor nie !! 😉 vrek – sukkel soooo op die oomblik met die oefen-ding.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s