Die dooies leef – SD Fourie

Die dooies leefSD Fourie is iemand wat die Strandveld en sy mense deur en deur ken. Ek was nie verbaas om op die flapteks te verneem sy is ʼn toergids en besit haar eie museum op Franskraal nie. As dokument van ʼn vergange tyd in daardie streek en veral die lewe op die plase, is Die dooies leef net so waardevol soos sy voorganger, Die lanternswaaier.

Hoewel die boeke apart gelees kan word, volg hulle wel op mekaar. Ek leser sal aanbeveel dat mens eers Die lanternswaaier lees voor jy Die dooies leef aanpak, of jou geheue ʼn bietjie verfris as jy dit ʼn jaar of drie gelede gelees het. Hoewel daar in Die dooies leef gepoog word om die nodige agtergrondsinligting te gee, kan mens die boek baie meer geniet as jy die eerste een goed onthou.

Die dooies leef is basies Hanna, ʼn nakomeling van Sophie in Die lanternswaaier, se poging om sin te maak van haar familiegeskiedenis en haar lewe as enkeling wat nooit voel sy behoort regtig êrens nie. In die proses ontdek sy dat sy in dié opsig nie alleen is nie en kom sy ook tot groter begrip vir mense wat sy tevore veroordeel het. Die fyn draad van romanse wat deur Hanna se storie geweef word, verskaf ʼn ligter kant aan ʼn andersins sombere verhaal.

Die dooies leef werk met die begrip dat mense voortleef deur hul nageslag; dat ons nie werklik enkelinge is nie, al voel ons ook so. Die verhale van die verskillende geslagte word ingeweef in die wêreldgebeure van elkeen se tyd (veral die twee wêreldoorloë) en laat mens met die gevoel dat jy deel is van ʼn groter geheel. Die diepgesetelde behoefte aan liefde en aanvaarding en om te behoort, loop deur Sophie, Maryna en Hanna se verhale. Die rassesituasie op die plase word ook aangespreek – aan die een kant die afstand wat daar bestaan, aan die ander kant die versorgende rol wat veral die bruinvroue dikwels in die wit kind se lewe speel wat nie binne haar eie kring werklik aanvaar word nie.

Mens hoop daar kom nog stories van die Strandveld uit SD Fourie se pen.

3 gedagtes oor “Die dooies leef – SD Fourie

  1. Ek het die boek Die dooies leef gekoop en Die Laternswaaier op RSG geluister. Alhoewel ek nie daagliks daarna geluister het nie sal ek tog die boek uitneem en lees. Baie dankie vir die oorsig.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s