RSS

Wanneer alles te veel word

10 Sep

Depressie 2Hierdie is ‘n stokou post, maar vandag weer relevant omdat dit selfdoodvoorkomingsdag was:

Ek het onlangs die twyfelagtige voorreg gehad om ‘n dierbare tannie van 88 te probeer bystaan na die selfdood van haar enigste (stief)seun. Die eerste ding wat ek besef het, is dat dit irrelevant is dat hy haar stiefseun is. Sy het hom liefgehad en hy was haar kind, bloedfamilie of nie bloedfamilie nie.
Gelukkig het ek al geleer ‘n mens hoef nie met allerhande goedkoop wysheid en trooswoorde by so iemand aan te kom nie. En dankie tog vir die drukkie-kultuur waarin ons deesdae leef, want ook hier geld die bekende actions speak louder than words. En daar is min sulke eenvoudige aksies wat soveel sê soos ‘n doodgewone drukkie.
Deur die genade het ek nog nie iemand naby aan my so verloor nie. Maar ek het al rondom my genoeg gesien van die verwoesting wat selfdood saai in die mense wat agterbly. En ek was al daar waar ek dit self oorweeg het (lank, lank gelede in ‘n vorige lewe van probeer wees wat ek nie regtig is nie).
In die proses het ek ‘n paar dinge geleer.
Eerstens: Na my mening is selfdood nie ‘n lafhartige daad nie. Dit vat veel meer as ‘n lafaard om so-iets te dink, wat nog te sê uit te voer. Selfdood is ‘n wanhoopsdaad wat met lafhartigheid niks te make het nie.
Tweedens: Die gedagte/begeerte om ‘n einde aan alles te maak, is ‘n ding wat jou stilletjies, ongemerk kan bekruip. Vandag duik hy hier vinnig op, more steek hy sy kop op ‘n ander plek uit … Voor jy jou kom kry, is jy gewoond aan hom. En hy begin lyk vir jou na ‘n oplossing.
Derdens: Die skade aan die mense wat agterbly is onberekenbaar. En ek dink grootliks onherstelbaar. As so ‘n wanhopige persoon net ‘n vinnige toekomsflits van sy mense se smart en verwarring kon sien, sou dit waarskynlik vir die meeste mense genoeg wees om hulle twee keer te laat dink.
Vierdens: Die mense wat agterbly, ervaar geweldige hartseer en geweldige skuldgevoelens. Maar ook woede. En hulle besef nie altyd dis heeltemal normaal nie.
Vyfdens: Die algemene publiek staan geweldig onverskillig teenoor selfdood en veroordeel so ‘n persoon baie maklik. Jan Alleman het duidelik nie die vaagste benul van die soort wanhoop wat ‘n medemens tot so-iets kan dryf nie.
Sesdens: ‘n Selfdooddreigement moet altyd, altyd, altyd ernstig opgeneem word. Dis ‘n noodoproep, ‘n roep om hulp.
Sewende: Depressie speel dikwels ‘n rol. Depressie moet nie onderskat word nie. Nooit nie.
Nommer ag: Daar is nog Christene wat maklik vinger wys na selfmoordenaars en reken hulle gaan reguit hel toe. My mening? ‘n Mens moet altyd onthou minstens drie vingers wys na jou self …
En laastens: Die lewe is oneindig kosbaar. Vier dit solank jy die kans het!

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , ,

6 responses to “Wanneer alles te veel word

  1. hoendersop

    10/09/2014 at 23:06

    “Die gedagte/begeerte om ‘n einde aan alles te maak, is ‘n ding wat jou stilletjies, ongemerk kan bekruip. Vandag duik hy hier vinnig op, more steek hy sy kop op ‘n ander plek uit … Voor jy jou kom kry, is jy gewoond aan hom. En hy begin lyk vir jou na ‘n oplossing.”
    Sjoe, Alta, hierdie is diep woorde wat miskien vir my effentjies kan laat verstaan hoe so iets kan gebeur.

     
    • Alta Cloete

      11/09/2014 at 12:44

      Ek is bly as jy dit sinvol vind!

       
  2. Wilhelmina Potgieter

    11/09/2014 at 09:29

    Al die dinge hier genoem is so waar. Daar is egter ’n ander aspek wat ook ’n groot rol speel in verband met selfdood. Myns insiens speel boelies op skool ’n groot rol in vandag se dae. Al hoe meer jongmense wat op die drumpel staan van diie lewe daar buite pleeg selfmoord as gevolg van boeliïsme. Weet boelies wat hulle aan anders kinders doen wat nie dieselfde invloed het as hulle nie? Gee ruimte aan ander mense se andersheid. Daardie persoon is dalk nie die skool se eerstespan rugbykaptein nie, maar laat hom/haar toe om hom-/haarself te wees en uit te blink op sy/haar vlak in sy/haar rigting. Moet hom/haar nie afbreek nie. Elkeen het die reg op ’n gelukkige kinderlewe en skoolloopbaan. Gun hulle dit. Ek weet waarvan ek praat, ek het twee kleinkinders wat op skool geboelie is, jare lank van hulle skoolloopbaan. As gevolg daarvan kan hulle nie terugkyk en sê hul skooldae was vir hulle lekker nie. Ek is dankbaar dat hulle ten spyte van dit, sterk gestaan en dit op hullle manier probeer verwerk het met die hulp van hulle ouers en dat dit nie traumatiese gevolge gehad het nie. Almal het nie die nodige hulp en bystand nie.

     
    • Alta Cloete

      11/09/2014 at 12:44

      Dis baie waar wat jy sê!

       
  3. colourmecrazee

    12/09/2014 at 09:43

    ek stem 100% saam met elke woord.

     
    • Alta Cloete

      12/09/2014 at 10:03

      Ek is bly as dit vir jou sin maak.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: