RSS

Lentestorie: Operasie opruim

03 Sep

Blomme 4ʼn Parodie wat my beter helfte graag op die ou liedjie sing, het hierdie storie se beginpunt gevorm. Dit sluit aan by my eie verhouding met die lente wat nie van die beste is nie. Die voorval met die wegholmotor het met iemand in my familie gebeur. Die storie het in die Huisgenoot van 26 Oktober 2006 verskyn.

1 SEPTEMBER:
Dis haatlike lente
Die winter’s verby
Dis tyd dat my lewe
Weer rigting moet kry …
Elke jaar as die eerste hooikoorsaanval my kriewelend en betraand na my snesies laat gryp, begin neurie ek my eie klein parodie op die ou bekende liedjie. Daar’s niks heerliks aan die lente vir my nie; dis ‘n haatlike tyd van die jaar wat ek graag sou wou oorslaan, indien moontlik.
Ek is inderdaad ‘n rare verskynsel: ‘n welgeskape jongmens wat die lente verpes. En dis nie net oor die hooikoors nie. As al wat leef en asemhaal begin somerklere koop en hare tint en bene waks, sak ‘n groot donkerte oor my toe. As die voëlgesang soggens daardie spesifieke histeriese klankie kry, is dit vir my tyd om Declutteruit my knusse winterslaap op te staan en die lewe in die oë te kyk.
En dit stem my nie tot vreugde nie.
In die winter sluip ek stil-stil en genoeglik deur die lewe, gekussing in frokkie, jas, serp en mus, op ‘n permanente high van al die koolhidrate wat ek inneem om die koue te beveg. En in ‘n heilige vrees vir die dag van 1 September. Want op 1 September van elke jaar skil ek my lae klere af en bestyg die skaal. En dié brawe aksie bring jaarliks ‘n groot geween en gekners van tande mee.
Elke jaar neem ek my voor om ten minste op 631 Augustus te vas – indien nie die week voor die tyd nie – sodat die waarheid darem ‘n bietjie minder gewigtig kan wees. Maar keer op keer sluit ek Augustus af met ‘n stomende bord sondekos – van die soort wat verswelg in die vet en mank gaan aan vitamines – met genoeg soetigheid agterna om my arme pankreas vir maande ‘n skrik te gee.
Die ritueel van die skaal behels veel meer as die swaarlywige waarheid en die onvermydelike dieet wat daarop volg. Daardie pynlike bestyging van die skaal vroeg in die oggend, op my nugter maag, en sonder ‘n draad klere wat dalk ‘n gram of twee kan weeg, selfs voor ‘n versterkende koppie koffie, is maar net die begin.
Elke jaar op 1 September slaan ek ‘n nuwe blaadjie om. As die Kaapse Suidooster sy kieste begin bolmaak, begin ek skoonmaak, regpak en uitgooi. Declutter is mos deesdae die inding. Nou ja, ek declutter al vir ‘n vale van lánk voor een of ander slim Amerikaner met te veel aardse besittings die woord uitgedink het. Per slot van rekening is dit maar net ‘n nuwe naam vir die goeie, outydse spring cleaning waarmee ons almal grootgeword het. Al doen sommige mense hul spring cleaning in Desember of in die lang Julievakansie – dit bly nog steeds spring cleaning.
En nee, daar is nie regtig ‘n perfekte Afrikaanse woord wat dit presies so lekker sê nie. Of ja, tog: Opruim.
Operasie Opruim – dis waarmee ek myself jaarliks konfronteer.
Probleem is net – ek haat skoonmaak, regpak en uitgooi, watter naam ek ookal daaraan gee. Hoekom ek dit dan hoegenaamd doen? Masochistiese neigings? Nee, glad nie. Maar ‘n totale control freak, dis wat ek is.
En ja, daarvoor hét ons ‘n heerlike Afrikaanse woord: beheervraat.
Ek is ‘n ongeneeslike beheervraat; ek raak paniekerig as ek voel dinge eskaleer buite my beheer. So as ek alles wat ek nie gereeld gebruik of dra nie, na die Heilslese tweedehandse winkel aangepiekel het, en die res blinkskoon en ordelik in rye of groepies of enige logiese rangskikking kan staanmaak, dan voel ek weer vir ‘n tydlank piekfyn. Tot die herfs aanbreek en ek weer eens begin laatlê wanneer ek moet vroeg opstaan, sopperige liefdesverhale lees wanneer ek moet slaap, lekkers eet wanneer dit blaarslaai moet wees, goeters opgaar wanneer hul funksie verstreke is en klere op die mat los om daar wortel te skiet as hul moet kas toe of wasgoedmandjie toe.
In die somer is my woonplekkie amper pynlik netjies, met skoon, reguit lyne van meubelstuk en ornament. In die winter word die skoon ruimtes ontsier deur bonkige stukke winterkleding, wankelende stapels boeke en tydskrifte, opgefrommelde sjokoladepapiere en talle taai koffiebekers met malvalekkerkringe om die borand.
Vanjaar is die heerlike lente egter nog minder heerlik as gewoonlik; vanjaar is hy regtig haatlik.
Want vanjaar moet ek ontslae raak van George.
Ek moet hom vir Justine gee.
En dit oorleef.
Soos ‘n donderstorm is die liefde verby
En ‘n donga vol stof is al wat oorbly …
‘n Verandering van die musiek in my kop help ook nie; my troebel gees koppel blitsvinnig ‘n negatiewe emosie aan elke beeld wat ek oproep.
Laas somer het George my soos ‘n volbloed Hoëveldse storm oorval – onverwags, kragtig en ekstaties. Die afgelope winter moes ek egter magteloos toekyk hoe die storm geleidelik uitwoed, die blitse verbleek en die dreuning van die liefde dowwer en dowwer word.
Ja, die storm is besig om by my verby te trek. En hy trek in die rigting van my beste vriendin.
Nee, ek verbeel my nie. Tussen George en Justine is daar elektrisiteit. Statiese elektrisiteit wat nie meer lank staties gaan bly nie.
“n Meisie moet altyd haar trots behou,” praat my oorlede ouma nou al weke lank helder in my kop. “As jy sien dinge loop skeef, dan spring jy hom voor en jy sorg dat jý die een is wat die afsêwerk doen.” ‘n Totaal verouderde siening, komende uit die donker dae van skreiende ongelykheid tussen die geslagte.
Of is dit?
“Maar hoe sal ek weet, Ouma?” het ek destyd benoud gevra.
“Jy sal weet, my kind,” het sy met ag dekades se wysheid gesê, “Ons vrouens wéét sulke dinge.”
Ouvroustories, het ek toentertyd vererg gedink. Wat weet ‘n oumens nou van vandag se jongmense? Die liefde van my lewe sou my van my voete af swiep en vir altyd en altyd vir my lief bly. Daar sou nie sprake van trots of vrees in ons verhouding wees nie. Ons sou sáám – langs mekaar – die pad loop. Volkome gelyk. En ewe versot op mekaar.
George het my wel deeglik van my voete af geswiep. Maar nie vir altyd en altyd vir my lief gebly nie.
En my hart lê doods en swaar in my borskas. Want ek wéét, nes my ouma voorspel het.

1 OKTOBER:
Dit is die maand Oktober
Die koudste, koudste maand.
Dit ryp nog in die oggend
En die wind waai elke aand.
Ek steier onder die yslike boks tot ek die een hoek op my arme heupbeen gestut kry, die sambreel ongemaklik vasgeknyp in die hand wat ook die boks op sy plek moet hou, terwyl die ander hand sukkel om die kattebak weer toe te kry. Die hoendervleis staan penorent op my winterwit arms; ek kan behoorlik voel hoe kroes my hare in die skielike klammigheid.
Ek laat my soos klokslag elke jaar bluf deur die eerste misleidende klompie lentedae; nes ek begin gewoond raak aan die idee, dan is dit skielik weer winter. Ek is darem nie die enigste nie. Voor my kom ‘n figuur in jeans en ‘n help-my-sterk-lyk-hempie by die winkeldeur uit, beduie ek moet die boks aangee, hou dan met ‘n skouerophaling die deur oop as ek verbete aan my boks bly vasklou.
Terwyl ek onelegant by hom verby worstel met sambreel, handsak, kartondoos en motorsleutels, vang ek net ‘n glimps van blouselblou oë en ‘n biseps wat rimpel onder goudbruin vel.
Hier is nou ‘n siel wat die lente met entoesiasme aanpak; daar’s behoorlik ‘n wip in sy stap.
My entoesiasme vir die lente én die lewe het ‘n algehele laagtepunt bereik. ‘n Volle maand lank het ek gesorteer en uitgegooi en skoongemaak. En afskeid geneem. En gehuil. En geëet.
Hoekom kan ek nie hartseer wees sonder om obsessief aan die eet te gaan nie?
Ander Evas kom met sexy hoë wangbene en diepgesonke oë aan die anderkant van hul krisisse uit, maar nie ek nie. O nee, ek sal met pofferwangetjies en speenvarkogies uit hierdie krisis gestrompel kom, indien dit ooit gebeur.
Dis my lot om hulpelooos miserabel voort te wroeg vir die res van my lewe. En met mý geluk sal ek seker honderd haal; vyf-en-sewentig hárde jare lê vir my voor.
Op 2 September het ek die bul by die horings gepak en my lewe effektief verwoes:
Ek het vir George genooi om by my en Justine te kom eet. Ek het my afgesloof voor die stoof en toe oorkant die tafel gesit en kyk hoe hulle ongemerk probeer flankeer, terwyl hulle my heerlike geregte sit en verorber.
“Ek dink daar is iets aan die gang tussen julle.” Toe ek eindelik opkyk en dit uitblaker, was hul gesigte ‘n studie in verwarring en skuld. Dit het my net vir ‘n oomblik geamuseer; toe was die pret verby. En dit blý verby.
Justine het gestik en badkamer toe gehardloop. Lafaard!
George het rooi geword, toe bleek, en toe sy mes en vurk stadig en presies in sy bord neergesit. “Ek wens ek kon dit ontken,” het hy versigtig gesê.
Nou doen dit dan, ontken dit, wou ek vir hom skree. Maar nie ‘n geluid kon oor my lippe kom nie. O, die ontnugtering – ek het tóg maar gehoop hulle sou dit roerend ontken en my oortuig ek verbeel my en almal sou vir ewig en altyd gelukkig wees.
Ouma was toe reg. ‘n Vrou wéét.
Justine moes maar uiteindelik terugkom. En die aarde het nie oopgegaan en ons almal ingesluk, soos ek so hard gewens het nie.
My geliefde – toevallig ook my werkgewer – en my beste vriendin het oorkant my gesit, hulle hande inmekaar gestrengel, hul gesigte gloeiend van skuld en geluk, en my lewe stukkie vir stukkie uitmekaar geruk. Ja, daar is ‘n gevoel tussen hulle. Ja, hulle sien mekaar gereeld. Ja, hulle wou my graag sê, maar hulle kon dit nog nie oor hulle hart kry nie. Ja, hulle kry my vreeslik jammer. Ja, hulle is altwee vreeslik erg oor my.
En: Kan ons nie maar vriende bly nie? Bid jou aan!
Op een of ander wonderbaarlike manier het ek nog ‘n paar happies ingewurg en toe waardig aangekondig dat ek gaan koffie maak. Toe ek met die skinkbord inkom, het hulle sielsgelukkig sit en vry op die bank, blykbaar doodgerus dat die krisis nou verby is en hulle met hulle lewe saam kan voortgaan.
Hulle het eenvoudig aangeneem ek sou voortgaan om die woonstel met Justine te deel en om as die volmaakte persoonlike assistent George se professionele lewe seepglad te laat verloop.
Hulle het ‘n fout gemaak, ‘n bielie van ‘n fout.
Ek het die skinkbord onsag neergeplak en hulle summier by my blyplek uitgeboender. Dit het my onheilige genot verskaf. Maar net vir ‘n paar minute. Toe het die besef my geslaan: ek verloor nie net my kêrel en my werk nie, maar ook my beste pel en woonstelmaat, die een met wie ek normaalweg hierdie krisis sou gedeel het.
Ek was nog nooit in my lewe so alleen nie. En dit verseg om beter te word.

Ek oorhandig my karton met uitgooigoed aan die vriendelike mens agter die toonbank, krap my naam en adres in hul dankiesê-boek en slof lusteloos deur die lentereën terug kar toe. Ek loop en slobber so in selfbejammering dat ek feitlik by my motor is voor ek sien wat aangaan. Toe steek ek vas en kyk, en kyk weer. En kan my oë nie glo nie.
Die man staan by my motortjie se neus. Met die eerste aanblik kan ‘n mens dalk dink hy staan maar sommer daar vir die lekker, om my karretjie te bewonder, of die mooi dag. Maar daar’s niks te bewonder aan my skedonkie nie, net haar komplekse persoonlikheid, en dié openbaar sy net op spesiale geleenthede en net vir my. En die dag is nie ‘n mooi dag nie, dis ‘n aaklige dag, soos elkeen van die afgelope nege-en-twintig dae én die duisende wat nog op my wag.
Nee, die man staan vasgedruk tussen my motor en dié voor hom. Hy kan nie verroer nie, al wil hy ook. My karaktervolle karretjie het aan die loop gegaan en hom teen sy eie motor vasgepen. Of hy het heldhaftig in die gaping gespring om ‘n ramp af te weer.
Ek het vergeet om die handrem op te trek.
Die man het nie ‘n sambreel nie; sy blonde krulle lê nou nat teen sy kop, die hempie klou aan die goudbruin biseps. En die blou oë spoeg vuur.
“Gee jy om om jou kar ‘n bietjie agtertoe te trek?” vra hy met ys in sy stem.
“Ja, ja, natuurlik! Ek bedoel, nee, ek gee nie om nie,” stotter ek verbouereerd.
Wragtag, ek het die handrem vergeet, én die kar in neutraal gelos. Die moeder van alle idiote, dis wat ek is.
Kêrelloos, werkloos, huismaatloos, verstandloos.
Ek laat die motor twee keer doodruk voor ek daarin slaag om versigtig agtertoe te trek sonder om die welgevormde paar bobene te vergruis. Teen hierdie tyd het ons al ‘n klein skaretjie gelok ten spyte van die reën. Nie ek óf hy waardeer die slim sêgoed van die bekkige omstanders nie.
“Juffrou, het jy al gehoor van iets soos ‘n handrem?”
Maar my ma het my goed grootgemaak; my maniere vergeet ek nie in my diepste smart nie. Hierdie man het my ‘n groot klomp sonde en ergernis gespaar. En geld. Ons albei se motors sou skade opgedoen het as hy nie soos wafferse ridder in blou jeans tussenin gespring het nie. Dankie Vader, hy lyk nie beseer nie. Net lekker befoeterd.
“Ek’s verskriklik jammer, het jy seergekry, baie dankie!” Ek ratel voort soos ‘n wegholtrein.
“Gelukkig nie, en dis ‘n plesier.” Kortaf, en daar trek hy.
Welgevormde sitvlak wat die man aan hom het.
Die waarderende toeskouers begin wegdwaal in die reën; my vermaaklikheidswaarde was van korte duur. Ek trek hortend weg en gaan skuil verwond in my silwerskoon minimalistiese woonstel.
Ek’s nie seker vir wie ek die meeste mis nie: George of Justine. Genadiglik het ek besef dit sal malligheid wees om te probeer voorgee alles is normaal en net voort te gaan met my lewe soos dit was, mét hulle albei daarin.
Maar dis swaar, bitter swaar.
Ek het dus vir Justine uitgegooi en sy het dadelik sak en pak by George ingetrek. George het floutjies geprotesteer toe ek bedank en my laat gaan met ‘n oordadige present en ‘n oordadige getuigskrif, albei net om sy gewete te besweer.
Vandag is die eerste dag van die res van my lewe. En ek begin dit deur ‘n vreemdeling tussen twee motors vas te pen van pure nalatigheid.

7 OKTOBER:
“Daniela? Ek weet jy’s daar; maak asseblief oop!” Ek wil nie mense sien nie. Nie bekendes nie en ook nie vreemdes nie.
“Wie is jy?” Lekker onbeskof.
“Ek’s Ben, Ben de Jager. Maak oop, asseblief.”
“Ek ken nie ‘n Ben de Jager nie.”
Kort stilte.
“Jou kar het amper my bene vergruis. Ek dink die minste wat jy kan doen, is vir my koffie maak.”
Ag nee, ag nee, ag nee. ‘n Week lank spook die man se nat hare en kwaai blou oë en sonbruin spiere al by my. En hier daag hy waaragtig op. En ek sit tienuur in die môre in my nagklere en sjokolade eet. Vir poeding, ná ‘n laat ontbyt van twee skywe suurlemoentert en baie koppies koffie.
“Ek wil jou nie sien nie.”
”Ek wil jóú sien.”
Ek ruk die deur kwaad oop. Onsensitiewe buffel. Kan hy nie hóór ek wil alleen wees nie?
Of wil ek?
Hy staan op my drumpel met ‘n beeldskone bos blomme en ‘n effens skaapagtige glimlag.
“Vir wat bring jy vir my blomme?” vra ek ongeskik terwyl ek dit darem alte gretig by hom vat, “Dis ek wat jou skuld.”
“Ek skuld jou ook; ek was lekker ongeskik.”
“Toemaar, ek vergewe jou. Jy kan nou maar weer loop.” My gesig brand van skaamte; ek lyk soos ‘n bag lady, my plek is slordig, my hare ongewas, my oë opgehewe.
Sy bloue blou oë mis niks. “Gaan jy nie eers vir my koffie maak nie?”
“Nee.” Ek mik betekenisvol deur se kant toe.
“Dan gaan ek vir jou maak.” Hy staan geplant in die middel van die vertrek.
“Ek’s al naar gedrink aan die koffie.” Ek wil hom weg hê, maar ek klou soos ‘n drenkeling aan die bos blomme teen my bors.
“Tee sal ook lekker wees, dankie.” Wat ‘n koppige man.
Ek gee oor; laat hy sy tee drink en sy loop kry. Maar daar’s darem genoeg lewe in my oor om nuuskierig te wees: “Hoe’t jy geweet wie ek is en waar ek bly?”
Hy kry ‘n kleurtjie; hy’s nie regtig so vreeslik seker van homself nie. “Ek het by die Heilsleër in hul boek met die name van donateurs gaan kyk.” Hy glimlag skewerig: “Ek moes van my goed gaan weggee wat ek glad nie wou weggee nie; hulle wou nie jou besonderhede vir my gee nie. Nie dat ek hul kwalik neem nie.”
“Hoe’t jy geweet watter is my naam? Hulle kry tog seker elke dag donasies?”
Hy loop agter my aan kombuis toe, kyk hoe ek die blomme in ‘n emmer water boender, sit die ketel aan toe ek nie aanstaltes maak nie.
“Ek ken mos my eie handskrif; het net vinnig gekyk na die inskrywing direk na myne die vorige dag.”
“Dit was al ‘n week gelede.”
Die kleurtjie raak ‘n skakering dieper: “Ek moes eers moed bymekaar skraap.”
“Hoekom loop jy in werkstyd met blomme agter vreemde vrouens aan? Werk jy nie?”
”Hoekom sit jy in werkstyd en tjoklits eet by die huis?”
Touché.
“Oor ek my eie baas is. Tuindienste en ‘n kwekery.”
“Oor ek werkloos, kêrelloos en vriendinloos is. Alles deur my eie toedoen.”
Hy vat die skinkbord binnetoe en maak hom langbeen tuis op die bank. Hy pas perfek in my blyplek.
“Vertel.”
Ek vertel.
En Ben de Jager luister.

1 NOVEMBER:
Somer en son en saffier vir my …
Ek sien entoesiasties uit na die volgende vyf-en-sewentig jaar. Want Ben de Jager gaan langs my stap, al die pad, tot aan die einde van ons dae.

 

Etikette: , , ,

2 responses to “Lentestorie: Operasie opruim

  1. Nerine Niemand

    25/09/2015 at 13:07

    Dis 25 September, die dag na “Erfenis dag” en hier sit ek by die werk, nogal by ‘n liefdadigheids organisasie terwyl die wereld daarbuite gekies het om of langnaweek te hou of sommer net ‘n dag verlof te vat. Hier is niks om te doen nie, of altans baie om te doen maar nie die lus vir enige iets nie. Ek spring op die rekenaar en besluit ek is lus vir lees, sommer ‘n kortverhaal, want by die huis word ek “verban” om te lees. Hulle noem dit “verslaafdheid sindroom” as ek ‘n boek vat, kan ek dit doodeenvoudig nie neersit voordat dit klaar is nie, die kinders, manlief en alles kan vergaan om dit. En hier kom ek af op jou kortverhaal. Dit was so waar ‘n blink ligpunt in my dag, baie dankie!. Nie alleen kon ek met hartelus lees nie, maar jou storie het my so vasgehou… werklik iets besonders! Dankie dankie dankie

     
    • Alta Cloete

      25/09/2015 at 19:27

      Ai, dis nou lekker om te hoor, Nerine! Daar was ‘n tyd toe my kinders klein was, toe ek net kortverhale en tydskrifte gelees het – ek kon dit nie verduur om ‘n boek stuk-stuk te moet lees nie!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: