RSS

Uittreksel: Seisoen van lig en donker

26 Aug

Wat sou haar so vroegSeisoen4 wakker gemaak het? Miskien was dit bloot die stilte, sy is al gewoond om die eerste nag op die plaas effens onrustig te slaap. Dis mos kompleet of die stilte om jou raas, asof die sterre té geluidloos voortgly op hul baan oor die huisie in die kloof.

Dis nie dat sy nie lekker lê nie. Nee, in hierdie ou houtkateltjie lê sy altyd lekker, hiervandaan lyk die bedreigings van die lewe altyd veraf en onskadelik. In hierdie bed kon sy dit nog altyd waag om te droom, om meer te wees as Liesel van Zyl, die inkennige en wederstrewige kind van seker die twee ordentlikste mense op aarde. Onder die verbleikte ou lappieskombers laat sy haarself soms toe om dwase drome te droom oor dinge wat haar nie beskore is nie, drome vol lig en lewe en onbesorgde liefde, drome sonder die donkerte wat maar altyd op haar spoor is.

In die diep stilte van die Karoo hoor ʼn mens dinge wat in die gewone lewe by jou verby gaan. Veral in die betowerende uur voor dagbreek, die uur waarin slaap en wakker, werklikheid en fantasie alte maklik soos weerkaatsings in die swempoel bo in die kloof oor mekaar en deur mekaar gly. So het sy van kleintyd af met kuiers op die plaas soggens ʼn uur of wat tussen droom en werklikheid bly luier, gerus gestel deur die bekende kraakgeluidjies van die dubbelbed anderkant die dun skeidsmuur, later die stampgeluide wanneer haar pa opstaan en nie regtig daarin slaag om dit saggies te doen sodat haar ma nog ʼn bietjie kan sluimer nie.

Nou assosieer sy haar ouers lankal nie meer met sekuriteit nie. Nee, sy het te vroeg reeds geleer hulle is ook maar net mense, ook feilbaar soos die res van die mensdom. Maar hulle was nog altyd daar vir haar, al was dit nie meer vir haar genoeg nie. Onbegrip en misverstand het hulle dikwels geskei, ja, maar nooit was die versperring dikker as die muur tussen die twee kamers in die winterhuisie in die Karoo nie.

Dofweg hoor sy vir Herman in sy slaap mompel, nog ʼn keer omdraai in die dubbelbed wat hy altyd met kitaar en al oorneem wanneer hulle drie hier kuier. Sou hy dan ook al wakker wees? Hy is gewoonlik die laatslaper, veral die eerste oggend. Sou hy fantaseer dat Jennifer by hom in die bed is? Sou hy Jenni se slapende beeld in sy kop hê – soel en soet met die wimpers gesluit bokant die wangbene waarop sy, Liesel, van kleins af so jaloers was? Sou hy vir Jenni sien soos sy hom nou in haar verbeelding sien? Ontspanne, sonder die gewone vitaliteit en onvoorspelbaarheid, dalk op die sy gedraai, bene opgetrek in die fetusposisie, ʼn kinderlike hand onder die wang?

Nee, liewer maar die oë oopmaak. Drome kan te ver gaan, drome kan jou dalk per ongeluk by die kamerdeur uit volg en jou in die helder daglig in die verleentheid stel. Terwyl haar oë gesluit is, is enigiets moontlik. Maak sy hulle oop, is sy en Jenni en Herman bloot beste pelle wat vir die eerste week van die wintervakansie op haar pa-hulle se Karooplaas saam kuier soos hulle al soveel jare doen. Wat soggens in die eerste son op die stoeptrappies sit met bekers rooibostee en tannie Sunet se anysbeskuit, wat lang ente in die kloof op stap waar hulle kleintyd dikwels in hul onderklere saam in die poele in die seisoenale riviertjie geplas het, wat saans in die asbosskerm braai en ure lank oor die lewe kan gesels, oor hulle drome, hulle frustrasies in die onderwys, die probleme by elkeen se skool.

Maar nooit praat hulle oor die onderliggende spanning tussen hulle nie, die ongelykhede, die vrees vir wat die toekoms mag inhou nie. Veral praat hulle nie oor Jenni se toekoms, oor die swaard van die onnoembare wat haar lewe lank oor haar hang, of oor die hopelose liefde vir haar wat Herman in hom omdra nie.

Die eerste lig sypel deur die blommetjiegordyne en voel met sagte vingers aan die ou hangkas, die twee stoele met haar eie klere netjies en Jenni sʼn in ʼn warboel daarop, die bedtafeltjie met die lamp en hulle kopliggies en hulle versameling leesgoed. Jenni sʼn die liefdesverhale wat sy van kleintyd af verslind, haar eie die dik oorlogromans wat sy verkies, die wroegende, wrede boeke wat nie die lewe kunsmatig versoet nie.

Verder lyk die kamer nog presies soos dit gelyk het toe haar ma destyds hier geslaap het nadat pa Wilhelm haar op die vlakte gekry het, gedaan gestap na die tweede papwiel op die grondpad, haar hemp roekeloos uitgetrek in ʼn oomblik van waagmoed, haar ligte vel verbrand, uitgeput aan die slaap teen ʼn gruiswalletjie langs die pad. Daar het hy haar opgetel en huis toe gebring en rooibostee en tannie Sunet se beskuit gevoer, haar vir die week by hom laat bly en haar gehelp om die eerste tree na emosionele herstel te gee. Hier het hy haar lief gekry en hiervandaan moes hy haar weer laat gaan. En toe die tyd ryp was, het sy teruggekeer na hom.

Liesel sug genoeglik, draai op haar sy en laat haar oë weer loom toegaan. Dit bly maar die mooiste, mooiste storie, dié van haar ouers. Haar pa eensaam hier op die plaas na tannie Vivien padgegee het, ma Lana getraumatiseer deur die ongesonde verhouding met oom Marius, die verlies van twee swangerskappe en die mislukte selfmoordpoging, vasgevang in ʼn dodelike depressie. Wat sou gebeur het as haar ma nie wanhopig genoeg was om haar ou rooi karretjie te vat en sonder om iemand in te lig na haar suster toe te vlug nie? Wat sou gebeur het as tannie Sunet-hulle tuis was? As haar pa nie die een was wat verby gery het, eers die motor sien staan en kilometers verder die rooikop langs die pad sien slaap het nie?

Dinge gebeur soos dit moet gebeur. Anders sou sy nie eens hier gewees het nie, sou sy nie die kans op die lewe gehad het nie. Die vreeslike, wonderlike, skrikwekkende, uitmergelende lewe waarmee sy jare reeds so worstel, maar wat sy ook so lief het. Wat sou sy gewees het? ʼn Ander paartjies se kind? Of bloot ʼn klein stukkie niks in die ruimte van die heelal?

Nee, nee, nie nou al negatiewe gedagtes begin dink nie. Die dag het nog nie eens begin nie. Liewer uit haar warm kokon klim en die houtstoof aan die gang kry, die geel keteltjie met teeblare op die warmplaat skuif. Tien teen een lê Jenni en Herman altwee al en wag vir haar, sy is veronderstel om die vroegopstaner onder hulle drie te wees. Maar eintlik is sy net die dorstigste, haar mond droog van die medikasie waarvan niemand weet nie, haar lyf dikwels moeg gestoei met die deurmekaar drome wat haar sporadies bly teister.

Met die jare het sy maar leer aanvaar sy sal altyd die een wees wat met moeite uit die bed kom en nie regtig ontwaak voor sy ʼn paar koppies sterk koffie in het nie. Niemand weet wat ʼn oorwinning dit elke oggend is om haar voet uit die bed te sit nie. Net hier op die plaas verruil sy die koffie vir rooibostee uit die geel keteltjie op die houtstoof, dis deel van die suiwering wat hierdie week elke jaar vir hulle drie is. Hier is alles makliker, dis of die lyne van die werklikheid sagter gebak word deur die Karoo se milde winterson.

Sy is so moeg om geëtiketteer te word, so sat om in maklike boksies gedruk te word. Die vroegopstaner, die introvert, die weird een, die rooikop, die geslote een wat net by haar leerders en soms by haar twee beste vriende regtig ontdooi. Sy sal sommer nou uit die eerste rol uitskuif, vanoggend gaan sy nie die een wees wat die tee vir die laatslapers aandra nie. “Jen?” roep sy saggies, “Jenni, is jy wakker? Ek is lus vir tee.”

Geen antwoord nie, geen roering uit die oorkantste bed nie. Lui-lui swaai Liesel se oë na die bedjie verste van die venster af, nog in ʼn dieper skemer gehul as haar eie hier vlak onder die raam. Jennifer is nie in die bed nie. Die koue vermoede slaan haar op die maag. Dit het eindelik gebeur: Jen is in Herman se bed. Terwyl sy oor hom lê en droom het, was Jenni in sy arms, het hy … Nee, nee en nogmaals nee.

Verwoed spring sy uit die bed. Sy sal gaan stap, sy sal nie hier wees as Jenni uit die kamer langsaan gesluip kom nie. Sy sal maak of sy niks agtergekom het nie. Sy sal getrou bly aan haar etiket: Liesel wat nie haar gevoelens wys nie, wat haar pad op haar eie manier loop. Net gou badkamer toe gaan, dan sommer in gister se klere spring. Sy kan ver in die kloof op wees voor die son behoorlik op is. Hulle twee kan gerus maar vry solank hulle wil, sy het nie ʼn saak daarmee nie.

Net so in haar bont slaapbroek, oorgroot T-hemp en geliefde ou slaapsokkies strompel sy badkamer toe, haar hare ʼn warboel oor haar skouers, haar oë net halfpad oop, haar gedagtes ʼn kraaines van emosies.

Die oomblik toe sy die badkamerdeur oop stoot, weet sy wat haar wakker gemaak het. Haar pa het die vrees vir daardie reuk van kleinsaf in haar ingeprent. Maar hoekom die deur moeiliker as gewoonlik oopmaak, dring nie tot haar deur nie.

Die badkamer is nog feitlik donker, maar dis nie vir haar nodig vir ʼn kers of haar kopliggie nie. Sy ken elke sentimeter in en om hierdie huis. Of so het sy gedink, maar steeds slaan amper sy neer oor ʼn donker homp op die vloer voor die outydse pootjiesbad waarin hulle drie kleintyd dikwels saam baljaar het. Sou Herman nou wraggies sy twee yslike stewels en al sy klere net hier op die vloer gelos het? Die man is darem alte lekker bederf, dis seker maar wat gebeur as ʼn ma ʼn kind so alleen grootmaak. Amanda verafgod amper haar kind, maar ʼn mens kan haar ook nie eintlik kwalik neem nie. Een kyk van daardie twee bruin oë onder die blonde krulle en dis klaar met jou. Self is sy ook nie onskuldig nie, telkens betrap sy haarself dat sy vir hom iets aandra of doen wat streng gesproke nie regtig nodig was nie. Met Herman kan ʼn mens jouself nie help nie, die engelgesig en die kombinasie van dierbaarheid en befoeterdheid boul jou uit nog voor jy dit besef.

Met alreeds ʼn hol kol op haar maag tree sy verby die stewels en pluk die geblomde katoengordyntjie oop. Nog voor sy terugdraai van die venster af, weet sy al: Dis nie Herman se skoene op die vloer nie. Dis Jennifer wat op die rooikatvelletjie voor die bad lê, in die fetusposisie opgekrul in haar ou geliefde pajamas met die aarbeie op. Haar beste maat, haar grootste kompetisie, haar sielsgenoot, haar ander pool.

Hoe skraal het haar polse nie geword nie, hoe weerloos is die sagte plekkie agter haar oor, die slank lyn van haar nek nie. Weerloos en baie, baie stil.

 

Etikette: , , , , , , ,

3 responses to “Uittreksel: Seisoen van lig en donker

  1. kristelloots

    27/08/2014 at 05:24

    Alta Cloete, jy skryf goed en mooi, weet jy dit? So met die onderliggende melancholie (as dit die regte woord is) soos ’n sagte laken oor die lyf.

     
    • Alta Cloete

      27/08/2014 at 20:25

      Dankie vir jou altyd welkome mooi woorde, Kristel!

       
  2. Son

    28/08/2014 at 14:26

    Ek wag nog steeds vir my boek van Lapa af😥

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: