Depressie: Waar begin ’n mens as jy aan jou lewe wil werk?

Beveg depressie voorblad 1 - Copy (2)Die mens se basiese behoeftes is ’n goeie beginpunt. In verskillende bronne is daar verskillende opsommings van die mens se basiese behoeftes. Dis in elk geval maar verskillende name vir dieselfde goed. Die punt is dat ’n mens doelbewus kan kyk watter van jou behoeftes word nie bevredig nie en dan iets daaraan probeer doen. Dit sluit dus aan by die gedagte dat ’n mens wel self baie aan jou gemoedstoestand kan doen en nie ’n willose slagoffer van jou emosies hoef te wees nie. Hierdie besef is dikwels vir mense die eerste tree na genesing. Die onderstaande is uit die Uncommon Knowledge-program verwerk:

Die behoefte om aandag te ontvang maar ook te gee
• Dit kan vervul word deur vriende, familie, kollegas, troeteldiere of kennisse, elk op sy eie manier. Ek dink dit sluit in om versorg te word (kyk die volgende subafdeling), maar ook om iets of iemand te hê om te versorg. Veral by vroue is die behoefte om iemand te versorg dikwels baie sterk.
• As hierdie behoefte nie bevredig word nie, is een van die gevolge dikwels dat die persoon te veel op homself en sy eensaamheid fokus. Soos ons weet, is depressie eintlik ’n baie selfgerigte siekte. As ons die hele tyd met onsself besig is, is dit maar alte maklik om al in die rondte te dink en op die negatiewe te fokus.

Die behoefte aan versorging van die liggaam en die gees
• Dit word onder andere vervul deur slaap, rus, oefening, gesonde dieet, vars lug, fisieke aanraking, gesondheidsorg, hegte verhoudings en geestelike sorg.
• Oormatige stres, siekte, depressie en angs is van die goggas wat kop uitsteek by gebrek aan hierdie dinge.

Die behoefte om aan iets groters as jouself verbind te wees
• Dit word vervul deur aan groepe te behoort, soos jou gesin, jou familie, ’n spesiale vriendekring, bure wat gereelde kontak het, jou gemeente, enige klub of vereniging of sportspan, die groter gemeenskap en die kultuurgroep waar jy tuis voel. Ons weet dat al hierdie dinge dikwels agterweë bly in die moderne lewe.
• ’n Persoon sonder groepsbande ervaar dikwels isolasie en eensaamheid en het nie ’n ondersteuningsisteem om in tye van nood op terug te val nie.

Die gevoel dat jou lewe betekenisvol is – doelstellings en doelwitte
• Hierdie behoefte word vervul deur die gevoel dat jou planne vir die toekoms sinvol is en dat jy dit sal kan uitvoer, wanneer ’n mens waardes het waaroor jy sterk voel en ook as jy sinvolle doelstellings met ander mense kan deel.
• Sonder hierdie dinge ervaar mense dikwels depressie en ’n gebrekkige selfbeeld.

Om jou horisonne te verbreed – maar nie te ver nie
• Dit kom neer daarop dat ons stimulasie nodig het, maar nie oorgestimuleer moet word nie. Stimulasie behels dinge soos die aanleer van nuwe vaardighede, die gevoel dat jy vorder op ’n gebied, om jouself uit jou gemaksone te stoot.
• Oorstimulasie lei tot stres en moontlike uitbranding.
• ’n Gebrek aan stimulasie kan verveling, verlies aan energie, die verlies van humor en uiteindelik depressie in die hand werk.

Die behoefte aan ’n mate van status
• Die behoefte aan ’n mate van status word vervul wanneer ons ’n plek en ’n rol het om te vervul in ’n werkskring, verhouding, gesin of gemeenskap.
• ’n Gebrek hieraan kan lei tot die verlies van selfvertroue, ’n lae selfbeeld, ’n gebrek aan ’n doel in die lewe, terneergedruktheid en eindelik depressie.

Die behoefte aan intimiteit en agting
• Hierdie behoefte word vervul deur ’n lewensmaat, vriende, familielede of selfs ’n troeteldier.
• Die gebrek hieraan kan lei tot eensaamheid, verlies van selfvertroue, isolasie en verveling, en om nie geliefd te voel nie.
• Dit is heeltemal moontlik om in ’n verhouding te staan, maar steeds nie die vervulling van hierdie behoefte te ervaar nie – ’n verhouding wat nie werk nie, kan nie jou behoefte aan intimiteit bevredig nie.

Die behoefte om te voel jy is in beheer
• Dit kan vervul word deur jou finansies en jou emosies te beheer, besluite te neem en uit te voer, die aanleer van praktiese vaardighede, die afhandeling van administratiewe take.
• As jy depressief is, voel jy dikwels jy het geen beheer oor jou lewe nie en jy het geen keuses nie.
• Om nie beheer te hê nie kan angstigheid, hulpeloosheid, gebrekkige selfvertroue en depressie meebring.

As ’n mens na hierdie punte kyk wanneer jy begin gly en probeer vasstel watter van jou behoeftes op die oomblik nie vervul word nie, kan jy meestal iets daaraan doen. Al is dit iets kleins. Elke bietjie help – let wel, voor jy onder in die put beland. Dit kan help dat jy hopelik glad nie die bodem bereik en weer van heel onder af moet boontoe klim nie.

Kerngedagte: Alle mense het dieselfde basiese behoeftes.
Vraag: Watter basiese behoeftes word nie in jou lewe vervul nie?
Aksie: Beplan wat jy daaraan kan doen.

Een gedagte oor “Depressie: Waar begin ’n mens as jy aan jou lewe wil werk?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s