RSS

Heruitgawe: Die tuiskoms – Sophia Kapp

13 Jul

Die tuiskomsDie tuiskoms is ʼn liefdesverhaal, maar dis ook ʼn storie oor een van die onaantreklikste eienskappe van die mens – die neiging om te veroordeel. Sophia Kapp slaag egter daarin om uit hierdie gegewe ʼn geloofwaardige verhaal te weef waarin die liefde oor alle voorbehoude seëvier.

Natuurlik is daar steeds skeptici wat sulke verhale as onrealisties beskou en die feit probeer ignoreer dat romantiese fiksie die volk aan die lees hou. ʼn Onlangse artikel in Beeld by http://www.beeld.com/bylae/2014-07-12-lank-lewe-die-liefde erken die feit dat liefdesverhale topverkopers is en dat daar veral onder vroulike lesers (Maar moenie die manne weggooi nie!) ʼn geweldige aanvraag daarvoor bestaan. Die tong-in-die-kies styl van die artikel toon dat skrywers sowel as lesers weet romantiese fiksie kyk met ʼn sagte oog na die werklikheid en verf ʼn fyn lagie idealisme daaroor. Geen ingeligte persoon dink vandag nog skrywers, uitgewers en lesers van romantiese fiksie leef in die waan dat die lewe uit maneskyn en rosegeur bestaan nie.

Natuurlik is daar nog die snobs wat glo romantiese fiksie hoort in die kas saam met ander ongure geraamtes. Natuurlik is daar nog skeptici wat nie in die liefde glo nie. Natuurlik is daar nog ongelukkige wesens wat dink mens se statuur word aangetas as jy met ʼn love story in die hand betrap word. Natuurlik is daar nog lesers wat hulle Mills & Boon’s en deesdae hulle Romanzas of Tafelberg se liefdesverhale (Mirre, Hartklop, Satyn, Jasmyn) onder hulle letterkundige boeke wegsteek en ten sterkste ontken hulle lees daai storietjies.

My vraag is: Wat is verkeerd met ontvlugting, solank dit niemand skade doen nie? Elke liewe mens het sy/haar manier(e) om die werklikheid te hanteer. Min van ons is sterk genoeg om die lewe sonder ʼn kruk van een of ander aard te trotseer. Dit kan drank, dwelms, sjokolade, godsdiens, oefening, werk, seks, kuns of vele ander dinge wees.

Of dit kan lees wees. Lees maak nie dronk, dik of dood nie. (Dit kan jou wel arm maak, veral in Suid-Afrika met ons hoë boekpryse.) Die lees van goeie ontspanningslektuur bring ongekende vreugde, dit gee mens krag om weer die werklikheid te hanteer, dit help jou om in die goeie te bly glo.

Want ja, die goeie bestaan nog. Die liefde seëvier nog. Ten spyte van die toename in egskeidings is daar steeds talle pare wat vir donkiejare gelukkig getroud bly. Ten spyte van geweld en allerlei ander sosiale euwels (insluitende sosiale media as dit onwys gebruik word), is daar steeds talle gesinne wat hulle eenheid jaloers beskerm en dit regkry om gebalanseerde kinders groot te maak.

Love is alive and well and living everywhere. (Met apologie aan die oorspronklike skepper van die uitdrukking.) Sophia Kapp is een van die Afrikaanse skrywers wat haar lesers daagliks hieraan herinner met stories vol hoop en humor en heerlike, gesonde seks.

Die tuiskoms se vroulike hoofkarakter is die verpersoonliking van die ideale moderne vrou. Liz is slim, mooi, geleerd, bekkig, soms kru, soms weerloos, alles behalwe volmaak. Sy maak foute, sy het berou, sy leer harde lesse. In die proses is sy eenvoudig ʼn vreeslike goeie mens, iemand met integriteit. En daardie goedheid trek mense na haar toe aan, gee hulle vertroue, gee hulle warmte. Sy kom nie alleen uiteindelik veilig tuis op haar geboortedorp nie, maar help die mense rondom haar om elk sy/haar eie tuiskoms te vind.

As manlike hoofkarakter (LW. Ek gebruik nie die woord held nie) is Herk (ten spyte van sy onooglike naam) die ideale moderne man. Sag op die oog, ja, maar veel meer as dit. ʼn Tier in die bed (of enige ander geskikte plek), ja, maar veel meer as dit. Hy is uiteindelik ook maar net ʼn baie goeie man wat al seergekry het en versigtig is om weer die sprong te maak. En wanneer hy uiteindelik spring, word hy met vreugde deur sagte, bekwame vroue-arms ontvang.

Verskeie hedendaagse temas word in Die tuiskoms aangeraak. Daar is kleindorpse vooroordeel (wat definitief nie net op klein dorpies bestaan nie) en seksuele teistering, daar is huishoudelike geweld, onbegrip tussen ouers en kinders, gays se stryd teen diskriminasie, die vrees van die gemeenskap vir iemand met vigs, die ellendige toestande in plakkerskampe. Maar bowenal is daar die liefde (in ʼn veel wyer sin as slegs romantiese liefde) wat die mens dryf om al hierdie aaklighede in die gesig te kyk en steeds moedig voort te gaan.

Voel jy soms die realiteite van die lewe is te veel vir jou? Sluk gerus jou antidepressante, gaan sien jou terapeut, stap om die blok – en kry Die tuiskoms van Sophia Kapp om jou finaal in die lewe en die liefde te laat glo.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: