Nuut van Naledi: Wie is ek?

Wie is ekSielkundige Louis Awerbuck en TV-persoonlikheid Lise Swart vorm as verloofde paar ‘n wenspan met hulle radioprogram Wie is ek? Uit die reaksie op die program is dit duidelik dat daar ‘n groot behoefte aan toeganklike inligting oor geestesgesondheid bestaan. Die boek met dieselfde titel is hopelik die eerste van verskeie publikasies na aanleiding van die program. Boeke soos hierdie baan die weg vir openlike kommunikasie oor toestande wat in die verlede meestal verswyg is, dikwels met rampspoedige gevolge vir die persone wat daarmee worstel.

Wie is ek? bied toeganklike inligting oor begrippe soos voorkeur, dimensies van persoonlikheid en onbewuste geheue. Die vraelyste wat daarmee saam verskaf word, was in hierdie leser se geval verstommend akkuraat. Die gebruik hiervan kan mense beslis help om hulself en ook hulle geliefdes beter te verstaan en konflik weens misverstande te beperk. Boekbesonderhede is te kry by http://www.naledibooks.co.za/content/wie-ek

Die beeld van ‘n driebeenpot word telkens gebruik om probleemvelde te illustreer. Gevoel, denke en gedrag vorm die bene van die pot. Die onbewuste kan met die (kokende) inhoud van die pot vergelyk word en die buitedeel verwys na die bewuste. Wanneer die inhoud begin oorkook, is die persoon nie meer in staat om sy probleme te hanteer nie en kan dit die stabiliteit van die drie bene (gevoel, denke, gedrag) in gedrang bring. Deur telkens die stand van die drie bene te evalueer, kan mens ‘n aanduiding kry wanneer dinge vir jou begin verkeerd loop en hopelik betyds optree om ‘n algehele instorting te voorkom.

In Deel Twee word die bekende siekte van ons tyd depressie, asook die minder bekende algemene angsversteuring kortliks behandel. By depressie word spesifiek gekyk na major depressie en bipolariteit en by angs na algemene angsversteuring en posttraumtiese stresversteuring.

In Deel Drie word die belangrikheid van professionele hulp, onspanningsoefeninge en ‘n sterk ondersteuningstruktuur uitgelig. Hieruit is dit duidelik dat eensame persone besonder weerloos teenoor geestessiektes staan en kom mens opnuut onder die indruk van die belangrikheid van sterk interpersoonlike verhoudings. Indirek word mens ook bewus van die beperkte hulp wat daar vir minder gegoede mense bestaan. Mens wonder watter ontsettende afmetings depressie en algemene angs moontlik onder arm en/of werklose mense aanneem. Hier doen organisasies soos Goeie Hoop Sielkundige Dienste o.l.v. die ervare sielkundige Elzabé kosbare werk, maar veel meer is waarskynlik nodig. Meer inligting hieroor is te kry by http://www.ghps.co.za/

Wie is ek? verskaf verstaanbare inligting omtrent geestessiektes wat steeds toeneem en kan van waarde wees om onkunde en skeptisisme onder die algemene publiek teen te werk. As jy meer inligting oor geestessiektes nodig het, maar nie kans sien vir ‘n lywige publikasie of die oorvloed van inligting op die internet nie, is Wie is ek? die aangewese plek om te begin.

Die program word tans Vrydae om 12:00 uitgesaai en talle toestande is al daarop bespreek. Potgooie van al hierdie programme is op RSG se webwerf beskikbaar by http://www.rsg.co.za/

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s