Fyn porselein – Helena Hugo

Helena Hugo is ‘n veelsydige skrywer wat haar reeds op verskeie terreine onderskei het. Fyn porselein is ‘n sensitiewe roman wat hierdie wye ervaring weerspieël.

Die verhaal van drie geslagte vroue word vertel, maar dis die hoogsbejaarde Hanna wat die sentrale figuur is.’n Kind van die vroeë jare van die vorige eeu, word sy groot in ‘n wêreld waar reg en verkeerd nie onderhandelbaar is nie, waar vroue se rol vir hulle afgebaken is, waar Afrikanerskap eksklusief is en waar oor vele dinge glad nie gepraat word nie.          Oënskynlik pas sy perfek in hierdie wêreld in. Sy word die waardige, vlytige vrou van die man wat haar pa vir haar uitgekies het, ‘n baaskok en raakvatter in talle vroueverenigings. Haar status word gemeet aan haar man se titel en haar onberispelike gedrag in die sosiale milieu waarin hulle beweeg. Maar nou bevind sy haar in die verswakte afdeling van ‘n versorgingsoord, uitgelewer aan die meestal swart en bruin hande wat haar voer en was en aantrek, gestroop van haar titel as vrou van ‘n vooraanstaande man en gereduseer tot ‘n hulpelose liggaam en ‘n woedende, smagtende gees wat sy nie na buite kan toon nie. Niemand vermoed die dubbele lewe wat sy al die jare gelei het en die geweldige wroeging waarin dit haar steeds laat nie.

Hanna se dogter An en kleindogter Mariëtte voer elk hul eie klein stryd om as mens tot hulle reg te kom, verantwoordelikheid vir hulle keuses te aanvaar en moeisaam na hul ma’s uit te reik. Hulle kry slegs ‘n vae idee van die verborge dieptes in Hanna se lewe, die verrassende vermoede dat hierdie moeilike, hulpelose oumens ook eenmaal tot oorweldigende liefde en dwase hartstog in staat was.

Fyn porselein is ‘n roman oor die krag en die swakheid van familie, die versmorende invloed van geheime, die onbegrip en magtelose liefde tussen familielede. Daar is subtiele humor, skreiende ironie en dapper pogings tot begrip tussen die karakters. Uiteindelik doen elkeen wat vir haar reg is en dis waarskynlik waarin die vrede uiteindelik lê.

Verskeie geloofwaardige newekarakters bevolk die verhaal. Gunstelinge is Cheston, An se assistent in haar biblioteek, die enigmatiese butler Claude en vreemd genoeg Hettie, Hanna se irriterende skoondogter. Agter Hettie se krampagtige bekwaamheid skuil soveel hartseer en vertwyfeling dat sy hierdie leser diep aangeraak het. In ‘n sekere sin voltooi sy die sirkel wat by Hanna begin het, want in die moderne stedelike samelewing is sy ook die topgasvrou wat aan haar man uitgelewer is om die bestaan wat sy voer te kan volhou.

En dan is daar  natuurlik Brian Riley, die mooi man met die Clarke Gable-glimlag. Op ‘n manier is hy die mees tragiese figuur in die storie.

Fyn porselein is nie ‘n opgewekte roman nie. Maar dis ‘n storie wat in jou bewussyn bly huiwer, ‘n storie wat jou met benouing aan jou eie behandeling van die bejaardes in jou familie en aan jou eie oudag laat dink. In hierdie opsig herinner dit ook aan boeke soos Die afdraand van die dag is kil van Alba Bouwer, Stippellyn van Erika Murray-Theron en Agaat van Marlene van Niekerk.

 

7 gedagtes oor “Fyn porselein – Helena Hugo

  1. Ek het hierdie boek soveel geniet (nie eintlik regte woordkeuse) net soveel soos Die Afdraande van die dag is kil . Ek het Agaat gelees sal weer moet herlees. Nog nie Erika-Murray-Theron gelees nie..soms voel ek ‘n paniek iewers gaan ek nie genoeg tyd kry om alles te lees wat ek wil lees nie.

  2. BUitstekende boekbespreking en evaluasie van die roman sonder om die werklike inhoud en verloop van die verhaal uit te lap. Kan nie wag om die boek aan te skaf en te lees nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s