Debuutroman: Die sideboard – Simon Bruinders

Die sideboardSimon Bruinders het as akteur geen bekendstelling nodig nie, maar debuteer met Die sideboard ook as skrywer. Met hierdie eerste roman toon hy dat hy hom nie hoef te beperk tot die vertolking van ander mense se stories nie, maar ook oor sy eie arsenaal beskik.

Die sideboard is in die eerste instansie die verhaal van Abraham en Stella en die gesin wat hulle onder immer moeiliker omstandighede opbou. Op die tweede vlak is dit die verhaal van bruinmense in die George-omgewing en die vernietigende impak wat apartheid en gedwonge verskuiwings op gesinne gehad het. Derdens is dit ‘n greep uit die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis en Suid-Afrika se betrokkenheid in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Abraham is ‘n ongeletterde skrynwerker met ‘n liefde vir die grond waarop sy familie onder leiding van die matriarg Ma Miena vrugte en groente verbou om hulle inkomste aan te vul. Ten spyte van armoede en moeilike omstandighede voer hulle ‘n waardige en godvrugtige bestaan, met sterk familiebande en ‘n diep verbondenheid aan hulle kerk en gemeenskap. Abraham word as ‘n onskuldige lydensfiguur geteken wat telkens moet toesien hoe sy droom van ‘n eie stukkie grond deur groter magte vernietig word.

Met hierdie droom in gedagte gaan veg hy en sy broer dan ook in Noord-Afrika en leer ken ‘n groter werklikheid as die betreklik beskermde lewe wat hulle op hul geboorteplek gevoer het. Intussen hou die vroue tuis die fort, soos vroue deur die eeue maar doen. Die vroue in die verhaal is oënskynlik glad nie geëmansipeer nie, maar beskik oor tonne innerlike krag. Ma Miena is ‘n kleurryke karakter wat die leser bybly.

Die liefde tussen Stella en Abraham is ‘n suiwer liefde wat nie bedreig word deur haar hoër vlak van geletterdheid of deur die kinders wat sy gedurende die oorlog sonder hom in die wêreld moet bring en versorg nie. Wanneer hulle eindelik bymekaar is, vorm hulle ‘n gedugte span, maar Stella moet magteloos toekyk hoe Abraham amper vernietig word deur die teleurstellings wat die apartheidsbeleid vir hulle meebring en sy illusies wat een vir een vernietig word. Die ouerwordende Abraham moet ook verwerk dat sy kinders nie tevrede is om sy soort lewe te voer nie en dat elkeen sy eie koers wil gaan soos die vorige geslag nie gedoen het nie.

Abraham se verhaal is die verhaal van ‘n individu met suiwer ideale en groot integriteit wat magteloos staan voor groter magte wat ingrypende besluite oor die enkeling se lewe kan neem. Die keuse van die karakter se  naam kan gesien word as ‘n verwysing na die Bybelse Abraham wat na sy eie land gelei is. Hoewel daar telkens mededoë vir hierdie Abraham se behoefte aan grond is, is niemand werklik bereid om toegewings te maak nie. Ook die individu word dus ‘n pion wat bloot bevele uitvoer. Die verhaal toon hoe individue binne ‘n bepaalde stelsel ook van verantwoordelikheid beroof kan word deur ‘n hoër gesag wat streng beheer toepas en in die proses menslikheid moet inboet.

Uit die aard van die tema word die blankes en in die besonder die boer Koos ongunstig uitgebeeld, maar daar is tog ‘n poging om die Afrikaner se behoefte aan selfbesng en hulle afkeer van die Engelse bewind gebalanseerd uit te beeld. Hierin speel Koos se seun Kobus ‘n rol as die verligte Afrikaner wat Abraham se behoefte verstaan en respekteer, maar egter ook maar magteloos is teen die groter bestel.

Die indrukwekkende meubelstuk wat Abraham in die Noord-Afrika sien en vir sy eie familie kom herkonstrueer, word die simbool van sy strewe na ‘n lewe waar andere nie seggenskap oor sy lot het nie.

Die sideboard is ‘n geïdealiseerde kyk na ‘n onskuldige individu wie se lot deur groter magte bepaal word. Dis ook ‘n blik op die futiliteit van oorlog en die verskuiwende grense van goed en kwaad. Stella gereelde se versugting van “Blerrie oorlog” word die sug van elke individu wat magteloos staan teen groter magte.

2 gedagtes oor “Debuutroman: Die sideboard – Simon Bruinders

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s