RSS

Die 13de kaart – Madelein Rust

24 Jun

Die 13de kaartWat laat ‘n nie-tipiese leser van spanningsverhale die een na die ander boek in die genre lees? Waarskynlik blote nuuskierigheid, die vrees om iets te mis. Want met spanningsverhale in Afrikaans is daar beslis iets aan die gang. Om die waarheid te sê, ‘n klein ontploffing is besig om plaas te vind (Ja, daar is ‘n teenstelling in die beeld.) Of kom ons sê dan liewer daar is ‘n verskuiwing aan die gang en spanningsverhale is deel daarvan.
Die verskuiwing beweeg in die rigting van ontspanningsleesstof in Afrikaans. Deesdae verskyn ‘n klein vloed van Afrikaanse genrefiksie by verskeie uitgewers. Heerlike boeke waarvoor niemand skaam hoef te wees nie. Die goeie nuus is dat dit nie ten koste van ons letterkunde gebeur nie. Dalk gebeur dit ten koste van Engels. Want ja, soveel Afrikaanse lesers wat vir jare uitsluitlik Engels gelees het, is besig om terug te keer na Afrikaans. (Dit sou ‘n studie werd wees om uit te vind of dit wel die geval is. Dit kan sekerlik wees dat lesers deesdae meer Afrikaans lees, maar steeds baie Engels. Die een hoef tog sekerlik nie die ander uit te sluit nie.)
Die opkoms van die spanningsgenre is deel van hierdie verskuiwing, met Deon Meyer sekerlik op die voorpunt, maar knap op sy hakke staan al hoe meer vroulike skrywers deesdae hulle man in die genre. (Daar is natuurlik ook talle manlike spanningskrywers, soos Chris Karsten, Peet Venter, Rudie van Rensburg.) Dink maar aan Karin Brynard, Chanette Paul, Bets Smith en andere. By hierdie formidabele vroue het Madelein Rust pas met Die 13de kaart haar naam gevoeg.
Madelein Rust is opgelei in bedryfsielkunde en ken dus die aard van die mens. Sy is ook nie ‘n nuweling in die skryfwêreld nie en het alreeds ‘n aantal uiteenlopende kortverhale gepubliseer. In Die 13de kaart kombineer sy haar vermoëns en ervaring om ‘n ware naelbyter te skep.
Die hoofkarakter is Belia Bell, die fyn blonde forensiese sielkundige met die reputasie dat sy nie opgee voor sy tevrede is met haar profiel van die moordenaar in die betrokke saak nie. Belia is klaarblyklik gehard, taakgedrewe en stel haar werk voor alles. Maar daar is ook Jack Butler, die speurder met die sagte kant, die een wat haar steeds wil beskerm, al het hy met iemand anders getrou. Hy weet van haar nagmerries, hy weet dat drank soms vir haar die beelde van haar werk help verdof.
Die reeksmoordenaar met wie se profiel Belia tot haar groot frustrasie ernstige probleme ondervind, pas nie binne die gewone raamwerk nie. Sy metodes is uniek, die verloop van gebeure is nie voorspelbaar nie. Die skets wat meestal in die mond van die slagoffer gelaat word, verskaf op die oog af geen leidrade nie. Tot Belia die boek oor die Tarot tussen een van die slagoffers se boeke ontdek. Hiervandaan neem dit haar nie lank om te besef die moordenaar weet van haar en betrek haar doelbewus by sy siek spel nie. Dis nou te sê, as hy ooit ‘n hy is. Wanneer sy boonop besef sy word vooraf gewaarsku wie die volgende slagoffer gaan wees, plaas dit ‘n onregverdige verantwoordelikheid op haar skouers.
Die verhaal lewe met ‘n hele aantal interessante, oortuigende newekarakters wat menslikheid en egtheid in die milieu van wreedheid en moord indra. Benewens Jack is daar Belia se blinde pa en sy gidshond, Peaches, asook die weduwee wat haar flikkers vir hom gooi; daar is haar joernalisvriend Barry Stander wat soos altyd op soek is na ‘n scoop; daar is die grillerige Deacon met sy verliefdheid op haar en sy weersin in seks; daar is die vaderlike George Goosen en daar is Henk Massyn, wat nie Jack se plek in haar lewe kon volstaan nie, Die bejaarde Duitse herdershond Taxi is die een wat haar gebrekkige persoonlike lewe met haar deel en haar donkerste oomblikke sien.
Die verhaal speel in ‘n ysige Bloemfonteinse winter af en lesers wat die omgewing ken, sal waarskynlik nog sterker met die situasie kan identifiseer. Die koue onderstreep deurgaans die meedoënloosheid van die moordenaar en die weerloosheid van die slagoffers.
Die persoonlike spanning tussen Belia en Jack eggo die spanning van die onopgeloste moorde en plaas ekstra druk op albei. Die fyn draad van romanse wat deur die spannende verhaal loop, is net genoeg om die leser af en toe ‘n blaaskansie te gee tussen die grusame moorde.
Hier en daar is wel kleinigheidjies wat hinder, soos die verouderde benaming van alsation wat vir die Duitse herdershond gebruik word, die paar kere wanneer Belia ‘skielik’ iets besef en die geforseerde manier waarop haar weerkaatsing in die ketel beskryf word.
Die 13de kaart hou die leser van begin tot einde gevange en – wees gewaarsku – kan tot nagmerries lei, soos hierdie leser eerstehands uitgevind het. Dit is waarskynlik ‘n groot kompliment vir ‘n spanningskrywer as die leser haar man in die nag wakker gil. Genadiglik onthou genoemde leser niks daarvan nie en is geen blywende skade aangerig nie, behalwe dat sy die naam Madelein Rust sal onthou en sal uitkyk vir ‘n volgende naelbyter uit haar pen.

 
2 Kommentaar

Posted by op 24/06/2014 in Boeke, Lees, Skrywers, Suid-Afrika

 

Etikette: , , , , , ,

2 responses to “Die 13de kaart – Madelein Rust

  1. ddupl3ss1s

    25/06/2014 at 08:43

    Ek kan nie wag om hierdie boek vir my aan te skaf nie… erken ruiterlik nog nooit M Rust kortverhale gelees nie… waar het ek haar misgeloop( ai tog!)

     
    • Alta Cloete

      25/06/2014 at 09:06

      Haar kortverhale is nie baie nie, maar blykbaar van baie goeie gehalte.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: