RSS

Litnet: Onderhoud oor Beveg depressie en leef voluit

01 Jun

Hallo Alta, jou boek Beveg depressie – en leef voluit! het pas verskyn. Sê net eers: hoe weet iemand hy ly aan depressie en hy is nie sommer net vandag af of gaan deur ’n slegte tyd nie?

Daar is talle professionele definisies van depressie in boeke soos Piet Oosthuizen se Ontsnap van depressie enIL de Villiers se bekende Oorkom depressie: die siekte van ons tyd,asook op die internet beskikbaar.

Hier onder is ’n paar van my eie definisies in leketaal, soos in my boek opgeneem:

    • Jy is moontlik depressief as jy oor ’n lang tydperk weinig vreugde ervaar, geen sin in die lewe sien nie en alles om jou donker lyk, ten spyte van die feit dat daar oënskynlik geen rede voor is nie.
    • Jy is moontlik depressief as jy vir dae of weke of maande of jare liewer wil doodgaan, al weet jy voor jou siel jy het baie om voor te leef.
    • Jy is moontlik depressief as die vreugde vir jou uit die lewe verdwyn het en jou beste pogings dit nie terug kan bring nie.

Die kerngedagte is dus dat depressie iets is wat aanhou en áánhou en dit vir die persoon moeilik maak om normaalweg te funksioneer. (Hierby moet ek voeg dat depressielyers dikwels meesters is in die kuns van wegsteek en ’n goeie front voorhou.) Iemand kan dus bitter swaar kry en steeds baie min tekens na buite wys.

Kyk gerus ook na hierdie skakel: http://www.webmd.com/depression/is-it-depression-or-the-blues.

Alta Cloete (Foto: Naomi Bruwer)

Depressie is baie algemeen en tog praat mense skynbaar nie genoeg daaroor nie. Is dit waar, en waarom is dit die geval?

Dit is ongelukkig baie waar. Ek self was vir baie jare ’n voorbeeld daarvan (tot my eie nadeel).

Daar is baie moontlike redes. Hier is ’n paar:

      • Mense is skaam daarvoor, want hulle wil nie as ’n swakkeling beskou word nie.
      • Daar kleef steeds ’n stigma aan enige geestesiekte. Daar is ongelukkig steeds mense wat negatief, afwysend en selfs veroordelend reageer wanneer iemand van depressie praat.
      • Mense is bang dit benadeel hulle posisie by die werk.
      • In ons tyd van individualisme en die klem wat die media op die goeie lewe lê, sien mense nie kans om te wys hulle lewe is nie volmaak nie.

Dit kom dus maar neer op die vrees vir verwerping: ons is bang ons word veroordeel as ons ons swakheid toon. Ongelukkig is dit nog tot ’n mate ’n grondige vrees. My voorstel is dus dat mense nie wild en wakker vir almal van hulle depressie moet vertel nie, maar ’n paar spesiale persone moet uitkies om hulle swaarkry mee te deel.

Lesers kan gerus na hierdie skakel kyk: http://www.trailblazingwoman.com.au/resources/breaking-the-code-of-silence.

As depressie een gesinslid tref, ly almal daaronder. En dit beïnvloed ook die wyer gemeenskap, want dit spoel oor in die samelewing. Wat is vir jou die eerste gevaarligte waarvan mense bewus moet wees?

Dit kan help as ons oor die algemeen deur die lewe gaan met ’n oog en ’n oor vir ons medemens. Ons is so geneig om op onsself ingestel te wees en nie te let op diegene rondom ons nie. Soms gaan dit juis oor wat die persoon nié sê of doen nie.

Enige verandering in ’n persoon se gedrag kan ’n gevaarteken vir depressie (of ander dinge soos verslawings) wees:

      • Is die persoon stiller as gewoonlik?
      • Verloor sy** gewig of sit juis gewig aan?
      • Het haar slaappatrone verander?
      • Is ’n voorheen energieke persoon moeg en lusteloos en onentoesiasties oor lekker dinge soos uitstappies of kuier?

Op die internet is baie sinvolle inligting hieroor beskikbaar. Ek volstaan met hierdie skakel: http://health.yahoo.net/articles/depression/11-warning-signs-depression.

Vertel vir ons lesers wat die verskil is tussen ’n depressielyer en ’n depressievegter.

Dankie aan Jeanne Els vir die term depressievegter. Lesers kan gerus kyk na haar waardevolle boeke Ligdans en As die stroom jou vat.

Hier is ’n klompie verskille tussen depressielyers en depressievegters wat in my lewe na vore gekom het:

      • ’n Depressielyer verduur haar siekte passief. Sy sluk (hopelik) haar pille en hoop vir die beste. Sy besef nie daar is veel meer wat sy kan dóén nie.
      • Die diagnose van depressie kan vir die depressielyer ’n vonnis wees, selfs ’n doodsvonnis. Vir die vegter is die diagnose die begin van ’n nuwe pad. Nie ’n maklike pad nie, maar ten minste nie ’n doodloopstraat nie.
      • Die depressielyer wil ten alle koste onmiddellik gesond wees. Die depressievegter aanvaar (of probeer aanvaar) dat die stryd moontlik lewenslank sal wees. Dis die verskil tussen uitsigloos lewe en met hoop lewe.
      • Die depressielyer voel dikwels soos ’n magtelose slagoffer. Die depressievegter bemagtig haarself op elke denkbare manier.
      • Die depressielyer voel dikwels intens eensaam. Die vegter voel ook soms alleen, maar sy doen wat sy kan om dit nie in chroniese eensaamheid te laat oorslaan nie.
      • Die depressielyer kan maklik soos ’n verloorder voel. Die vegter verloor ook soms, maar sy staan weer op, al is dit met groot moeite en vasbyt.
      • Die depressielyer kan haar maklik deur haar siekte laat definieer. Jy is naderhand jou siekte. Die vegter werk hard om die twee apart te hou: Jy het die siekte, jy is nie die siekte nie. ’n Subtiele, maar beslissende verskil.
      • Die depressielyer is dikwels skaam vir haar toestand en steek dit ten alle koste weg. Die vegter neem uitgesoekte mense in haar vertroue en laat hulle toe om haar by te staan.
      • Die depressielyer vind dit dikwels amper onmoontlik om hulp te vra. Die vegter weet geen soldaat kan alleen die geveg wen nie en dwing haarself om soms hulp te vra.
      • Die depressielyer kan soms in die versoeking kom om agter haar siekte te skuil. Die vegter aanvaar verantwoordelikheid vir wat sy doen en nie doen nie.

Hierdie ingrypende verandering vind nie in ’n dag of ’n uur of selfs ’n maand of ’n jaar plaas nie. Vir die meeste van ons is dit waarskynlik ’n lewenslange proses. Niemand het gesê dit gaan ’n maklike pad wees nie. Maar dit kan ’n baie opwindende pad wees. ’n Pad met vele belonings.

Hier is praktiese wenke vir die stryd teen depressie: http://www.health.com/health/gallery/0,,20312087,00.html
http://www.webmd.com/depression/features/natural-treatments

Dis egter uiters belangrik om die regte medikasie en die regte terapeut te vind. Ek raai niemand aan om depressie op haar eie te probeer hanteer nie.

Kan jou boek slegs op Amazon afgelaai word, of waar is dit orals beskikbaar?

Goeie nuus is dat daar ook nou ’n beperkte aantal gedrukte kopieë teen ’n redelike prys beskikbaar is. Kontak my gerus by alta1@telkomsa.net vir bestellings.

Nog beter nuus is dat dit nou ook vanaf Graffiti Books & Stationery bestel kan word. Hulle bekwame personeel pos dit sommer gou-gou vir jou. http://graffitibooks.co.za/index.php?page_id=book&book_id=18065

Die e-boek kan benewens by Amazon (skakel hier onder) ook by Kalahari en Leserskring afgelaai word.

** Ek verwys bloot om praktiese redes telkens na die vroulike persoon. Mans is egter net so vatbaar vir depressie en dikwels onwilliger as vroue om hulp te soek. Hier is waardevolle inligting oor depressie by mans:

http://www.helpguide.org/mental/depression_men_male.htm
http://www.health.com/health/gallery/0,,20521449,00.ht.

Die oorspronklike artikel het by http://www.litnet.co.za/Article/beveg-depressie–en-leef-voluit verskyn. Dankie aan Naomi Meyer!

 

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: