RSS

Wat is die verskil tussen ’n depressielyer en ’n depressievegter?

04 Mei

Worst enemyHier is ʼn paar punte van verskil:
• ’n Depressielyer verduur haar siekte passief. Sy sluk (hopelik) haar pille en hoop vir die beste. Sy besef nie daar is veel meer wat sy kan doen nie. Of heel moontlik besef sy dit, maar kan eenvoudig nie die energie bymekaarskraap nie. ’n Depressievegter is aktief, of nog beter: proaktief. Sy sit nie en wag vir beter dae nie. Sy benut die dae wat wel goed (of draaglik) is en doen wat sy kan om dinge beter te maak.
• Die diagnose van depressie kan vir die depressielyer ’n vonnis wees, selfs ’n doodsvonnis. Jy kan voel jy het nou hierdie siekte en daar gaan nooit weer lig en ware vreugde op jou pad wees nie. Vir die vegter is die diagnose die begin van ’n nuwe pad. Nie ’n maklike pad nie, maar ten minste nie ’n doodloopstraat nie.
• Die depressielyer het die einde in gedagte. Die een moontlikheid is so erg soos die ander: Jy gaan óf dood (en dalk kom die afskuwelike gedagte van selfdood selfs in jou kop op) óf jy gaan lewe en ly tot in lengte van dae. Die depressievegter aanvaar (of probeer aanvaar) dat die stryd moontlik lewenslank sal wees. Maar daar sal vreugde ook in die geveg wees, klein oorwinnings wat saam-saam dalk ’n groot verskil kan maak, ontdekking van jou innerlike krag wat jy nooit vermoed het nie, diep vreugde as jy dalk vir die eerste keer besef hoeveel mense gee regtig vir jou om. Dis die verskil tussen uitsigloos lewe en met hoop lewe.
• Die depressielyer voel dikwels soos ’n magtelose slagoffer. Die depressievegter bemagtig haarself op elke denkbare manier. Sy sien elke nederlaag as ’n kans om weer op te staan, sy sien elke klein oorwinning as ’n stappie na ’n beter, vreugdevoller lewe. En as sy dit nie regkry nie, máák sy of sy dit regkry!
• Die depressielyer voel dikwels alleen. Die vegter voel ook soms alleen, maar sy doen wat sy kan om dit nie in chroniese eensaamheid te laat oorslaan nie. Sy werk doelbewus aan haar verhoudings en doen alles moontlik om haar met positiewe mense te omring. Sy is veral nie te trots om hulp te vra en te aanvaar nie. En as sy is, dan sluk sy eenvoudig daardie trots.
• Die depressielyer kan maklik soos ’n verloorder voel. Die woord “loser” is eintlik die beste een hier. Die vegter verloor ook soms, maar sy laat haar nie deur haar nederlae definieer nie. Nee, sy sien haarself as ’n wenner en doen haar absolute bes om deurgaans so op te tree. (Nou weet jy seker al wat kom: As sy nie soos ’n wenner voel nie, máák sy of sy een is. Glo my, dit werk om so ’n bietjie met jou eie kop te smokkel.)
• Van definieer gepraat, die depressielyer kan haar maklik deur haar siekte laat definieer. Jy IS naderhand jou siekte. Die vegter werk hard om die twee apart te hou: Jy HET die siekte, jy IS nie die siekte nie. ’n Subtiele, maar beslissende verskil.
• Die depressielyer is dikwels skaam vir haar toestand. Sy loop die gevaar om naderhand te begin glo sy hoort maar eintlik daar onder in die put waar sy so dikwels is. Die vegter probeer haar menslike swakheid aanvaar, maar weer eens, sy laat haarself nie daardeur definieer nie.
• Die depressielyer vind dit dikwels amper onmoontlik om hulp te vra. Die vegter weet geen soldaat kan alleen die geveg wen nie. (Lees weer die direk voorafgaande punt.)
• Die depressielyer kan soms in die versoeking kom om agter haar siekte te skuil. Die vegter neem verantwoordelikheid vir wat sy doen en nie doen nie.
Nee, hierdie ingrypende veranderings vind nie in ’n dag of ’n uur of selfs ’n maand of ’n jaar plaas nie. Vir die meeste van ons is dit waarskynlik ’n lewenslange proses. Niemand het gesê dit gaan ’n maklike pad wees nie. Maar dit kan ’n baie opwindende pad wees. ’n Pad met vele belonings.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , ,

4 responses to “Wat is die verskil tussen ’n depressielyer en ’n depressievegter?

  1. Charlotte van der Berg

    04/05/2014 at 19:21

    Alta

    Baie dankie vir die post. Baie goeie punte. Ek is vir die eerste keer in my lewe met depressie gediagnoseer (Ek is 57) en probeer dit alleen te bowe kom

    Nog nie eens vir my familie vertel nie en dit raak by die dag moeiliker net om te oorleef en met die lewe te probeer aangaan.

    Ek gaan beslis probeer om om n vegter te raak. Ek dink op die oomblik is ek my grootste viand.

    Groete

    Charlotte

    t

     
    • Alta Cloete

      05/05/2014 at 12:29

      Hallo Charlotte! So bly as dit jou ‘n bietjie kan help. Oorweeg asb om die mense heel naaste aan jou te vertel. Bewapen jou eers met kennis oor die siekte sodat jy feite kan gee as iemand nie verstaan nie. Baie sterkte vir jou en groete!

       
  2. colourmecrazee

    06/05/2014 at 15:56

    veg sal ek veg.

     
    • Alta Cloete

      06/05/2014 at 16:43

      You go, girl!!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: