Een van die besware wat die meeste teen ‘soetsappige liefdesverhale’ ingebring word, is die voorspelbaarheid daarvan. Wat ons natuurlik sommer ook by die vermeende soetsappigheid uitbring.
Soos met baie ander dinge, is dit met boeke ook goed om die spreekwoordelike appels met appels te vergelyk en nie met ander vrugte nie, hoe eksoties (en anglisisties) ook al. Wanneer romantiese fiksie met ander (sub)genres van ontspanningslektuur of met letterkunde vergelyk word, is die vrugte nie dieselfde nie en word albei soorte ‘n onreg aangedoen.
As romantiese fiksie met letterkunde vergelyk word, kan dit sekerlik soetsappig of sentimenteel lyk, omdat die romantiese skrywer en leser verkies om die harde werklikheid in ‘n (dik of dun) lagie watte toe te draai. Die letterkundige skrywer beeld meestal die werklikheid in al sy felheid uit en lesers van letterkunde verkies dit meestal so. Wanneer ‘n liefdesverhaal met ‘n spanningsverhaal vergelyk word, kan dit sekerlik voorspelbaar lyk, want by ‘n spanningsverhaal verskaf die skrywer ‘n verrassende ontknoping. Die leser wil graag naels kou en verkieslik verras word deur die slot van die verhaal.
Ek dink dus dit gaan tot ‘n groot mate oor die verwagtinge van die leser. Tot ‘n mindere of meerdere mate word verskillende genres met ‘n leser in gedagte geskryf. Dit geld natuurlik veral vir genrefiksie soos die liefdesroman, romanse, spanningsverhaal, historiese roman, erotika, ens. As die leser met letterkundige verwagtinge na ‘n liefdesroman kyk, gaan laasgenoemde te kort skiet. As die leser met romantiese verwagtinge na die letterkunde gaan, gaan hy teleurgesteld wees.
By ‘n liefdesverhaal gaan dit nie om die verrassingselement nie. Dit gaan nie oor ‘n onverwagse ontknoping teen die einde nie. Dit gaan in der waarheid nie oor die einde nie, maar oor die reis na die einde. Die meeste lesers van romantiese fiksie verkies om te weet wie aan die einde by mekaar gaan uitkom. Die plesier van die liefdesverhaalleser lê in die reis saam met die karakters, in die meelewing aan die ontwikkeling van die karakters as individue en die ontwikkeling van die verhouding tussen die hoofkarakters. Vir die leser van liefdesverhale gaan dit nie eerstens oor die eindbestemming nie, maar oor die proses waardeur die eindbestemming bereik word. Hoewel die werklikheid met ‘n fyn pienk lagie getint mag word, moet romantiese fiksie steeds realisties wees. Ongeloofwaardighede hoort daar net so min as in enige ander genre.
Lesers lees genrefiksie in die eerste plek om te ontspan en nie om intellektueel gestimuleer te word nie. Lesers lees romantiese fiksie omdat hulle in die goeie bly glo – of omdat hulle hard probeer om steeds in die goeie te glo. Hulle ontken nie die werklikheid nie, hulle wil net soms vir ʼn uur of wat daarvan wegkom op ʼn manier wat niemand skade aandoen nie.
Vir die leser (en skrywer) van romantiese fiksie gaan dit nie eerstens oor ‘n verwikkelde verhaallyn, oor aksie of ontknoping nie. Dit gaan hoofsaaklik oor twee dinge: verhoudings en emosies.
Verhoudings en emosies is bitter moeilik om geloofwaardig en onderhoudend uit te beeld, bloot omdat dit subjektiewe dinge is wat moeilik vasgevang kan word. Daarom is die beoordeling daarvan ook subjektief van aard. Wat vir een leser voorspelbaar gaan wees, gaan vir ‘n ander geloofwaardig wees. Wat vir een leser soetsappig gaan wees, gaan vir ‘n ander bloot emosioneel gelaai wees. Natuurlik is daar ‘n lyn wat nie oorgesteek moet word nie, maar die lyn gaan nie noodwendig vir alma op dieselfde plek wees nie.
Meer as een geslag (meestal vroulike, maar nie uitsluitlik nie) Afrikaanse lesers het grootgeword met die liefdesverhale van ‘n ouer geslag skrywers. Wie ken nie vir Tryna du Toit, Ena Murry, Dricky Beukes, Susanna M. Lingua en Ettie Bierman nie? Ongelukkig het daar na hulle ietwat van ‘n lugleegte ontstaan. Maar deesdae word daardie lugleegte met moderne romantiese fiksie gevul wat nie vir hulle voorgangers hoef terug te staan nie. Dis vir vandag se skrywers van romantiese fiksie (mense soos Sophia Kapp, Kristel Loots, Chanette Paul, die uwe en verskeie ander) ‘n vreugde om deel te wees van die oplewing in Afrikaanse lekkerleesboeke.
Niemand hoef meer vandag in die biblioteek of boekwinkel ‘n lekkerleesboek onder ‘n paar dik letterkundige werke weg te steek nie. Ontspanningslektuur is ‘uit die kas’ en staan sy plekkie onder die Afrikaanse son met trots vol. Dis ‘n vreugde om te sien hoe meer Afrikaanse lesers terugkeer na Afrikaans, na ‘n dekade of meer van uitsluitlik Engels lees. (Natuurlik is Engels ‘n wonderlike taal met ʼn geweldige letterkundige verskeidenheid. Niemand probeer dit ontken nie.) Dis ‘n vreugde om te sien hoe dit meer aanvaarbaar word dat selfs lesers wat letterkunde verkies, ook soms openlike genot aan ontspanningsleesstof kan hê. (Natuurlik is die Afrikaanse letterkunde nodig, belangrik, kosbaar en uniek. Niemand ontken dit nie.)
Dit is helaas nie letterkunde wat die nasie aan die lees kry en hou nie. Kyk maar na die stapeltjies waarmee gewone mense by die biblioteek uitkom. Menige gesofistikeerde leser het ook eers sy tande op minder gesofistikeerde leesstof geslyp en mettertyd ‘n smaak vir verwikkelde verhale met verskillende lae van betekenis ontwikkel. Uiteindelik lees die meeste mense agter ‘n lekker STORIE aan.
Wanneer appels met appels vergelyk word, kom mens tot die besef dat daar goeie of swak skryfwerk binne elke subgenre kan wees. Mens kry goeie en swak erotika, spanningsverhale, liefdesromans, historiese romans, romanses en so meer. Elkeen moet met sy eie soort vergelyk word.
Na twintig jaar van demokrasie is ook Afrikaanse ontspanningslektuur uiteindelik vry. Mag ons in die volgende twintig jaar hierdie vryheid meer en meer uitbou en met meer en meer lesers deel.
Mag alle genres sy aan sy staan in hul bydrae tot die verryking van die Afrikaanse taal.
Mag die Afrikaanse son ryk en glansend skyn oor elke skrywer wat sy beste vir die taal lewer.
Mag diskriminasie ook op hierdie gebied uiteindelik heeltemal verdwyn.
Viva, Afrikaans!
Ek is regtig bly dat Afrikaanse literatuur sy hoogmoedige houding laat vaar het en begin erken dat die meeste mense ontspanningsliteratuur verkies. Ek het erens gelees dat Afrikaans die enigste taal is waar daar ‘n onderskeid is’ literatuur’ en ander boeke. Volgens ander tale is alle boeke literatuur. Daar is net veskillende genres.
Die lekkerte van ligte, romantiese stories is dat dit gewoonlik ook goedvoelstories is. Jy is sommer liewer vir jou man as jy dit gelees het. Sien, ‘n maklike huwelikskuur! 🙂