As jy jou kop gedraai kry nadat jy self verantwoordelikheid geneem het vir jou emosionele en fisieke gesondheid, is dit nie die kitsoplossing vir al jou probleme nie. Nee, dis die begin van ’n lang, lang pad. Heel moontlik lewenslank. Maar nie lewenslank soos in ’n vonnis nie. Nee, lewenslank soos in ’n pad van ontdekking, groei en toenemende lewensblyheid.
Dis natuurlik maklik om vir jouself te sê jy gaan nou verantwoordelikheid neem en daar vas te steek. Die sê is die eerste stap, maar dis nie genoeg nie. En dis alte maklik om jouself te bluf. Nee, verantwoordelikheid neem behels aksie en dit behels harde werk.
Dit behels dat jy ophou wegkyk van jouself af, ophou wag vir die hulp om van elders te kom. Dit behels inkyk in jouself en in jou omstandighede. Maar nie die broeiende, selfgerigte kyk van die depressiewe persoon nie. Nee, hierdie kyk moet vars en helder en krities wees:
• Wat doen ek in my lewe wat my depressie help beveg?
• Wat doen ek wat depressie vererger?
• Is my denkpatrone toksies en afbrekend?
• Vertroetel ek te veel negatiewe mense aan my boesem?
• Kyk ek na my fisieke gesondheid?
Jy sal self hierdie lysie langer kan maak as jy mooi gaan dink.
Dit behels ook dat jy sal ophou wegsteek. Dis nou as jy ’n meester daarin was, soos ek. Nee, jy gaan nie nou by al wat leef en asemhaal, begin kerm en kla nie. Jy gaan egter nie meer lieg as mense na aan jou vra hoe dit gaan nie. (Daar is ’n saak uit te maak vir ’n witleuentjie as die vraag van ’n vreemdeling kom of van iemand wat jy weet nie begrip gaan hê nie.) Voor jy dit nie self ervaar nie, sal jy nie glo hoe bevrydend dit is om jou swakheid te erken nie. Probeer dit sommer vandag nog.
Vir my het die draaipunt deur middel van die Uncommon Knowledge-program gekom. Gaan maak gerus daar ’n draai, dit kan dalk net die ding vir jou wees. Of dalk spreek dit jou nie aan nie. Die keuse is joune. Dit is belangrik om iets te vind wat vir jou werk. Op die internet is heelwat ander moontlikhede ook te vind.
’n Baie belangrike aspek van bogenoemde kursus is die ontspanningsoefeninge wat daarby ingesluit is. Moenie dat die term “selfhipnose” jou afsit nie, hoor. Ons leke is geneig om te dink aan iemand wat op die verhoog gehipnotiseer word en dan by aanskoue van ’n skare vreemdelinge ’n lieflike gek van homself maak. Dis glad nie wat hier bedoel word nie. Selfhipnose is bloot ’n manier om baie diep te ontspan en by die herhaalde toepassing daarvan sekere beginsels deel van jou onderbewussyn te laat word.
Ja, die kopskuif is maar net die begin van ’n proses wat heel moontlik vir die res van jou lewe kan duur. ’n Baie belangrike deel van hierdie proses is om te soek na dinge wat vir jóú die lewe beter maak. Elke mens se lysie sal anders lyk. Dat jy aan daardie lysie begin werk, is wat belangrik is.
As jy gedink het dit gaan van nou af maklik wees, het ek ongelukkig slegte nuus vir jou. Daar lê baie harde werk vir jou voor. Maar ook talle ontdekkings, vele onverwagse vreugdes en ongekende persoonlike groei.
Is dit die moeite werd? Ja, ja en nogmaals ja!
dankie vir jou bemoediging, soos gewoonlik. 🙂
Jy weet beslis waarvan jy praat ne dis die gevolg van ondervinding. Baie dankie dit word waardeer