Depressie het al bekend geword as die siekte van ons tyd. Dit laat ’n mens wonder: Hoekom juis nou? Hoekom nie honderd jaar gelede nie? Het hulle toe maar net nie ’n naam daarvoor gehad nie? Is ons deesdae pieperiger? Is dit iets in ons lewenswyse of in die samelewing wat dit bevorder? Of dalk ’n kombinasie van al hierdie dinge?Volgens die Uncommon Knowledge Depression Learning Path is daar veral vyf faktore wat deesdae depressie bevorder. Heelwat daarvan hou met verstedeliking verband. Volgens statistiek het twee en sestig persent van die Suid-Afrikaanse bevolking in 2011 in stedelike gebiede gewoon en neem dit steeds toe.
Die onderstaande is uit Uncommon Knowledge verwerk:
Die verdwyning van die uitgebreide gesin
- Veral in die ontwikkelde wêreld bly verskillende geslagte nie meer dikwels saam onder een dak nie. Kinders trek ver weg van ouers, dikwels na ander lande. Bejaardes gaan na tehuise pleks van om by die kinders in te trek. En as ouers wel by kinders woon, is daar dikwels groot uitdagings as gevolg van die geweldige gaping tussen die verskillende generasies se opvattings en lewenstyl.
- Enkelouergesinne is algemeen. Dikwels het die enkelouer ook nie die ondersteuning van grootouers naby hom/haar nie.
- Die urban clan – ’n groep stedelike vriende wat mekaar gereeld ontmoet en funksioneer soos ’n gesin wat nie saamwoon nie – moes grotendeels die plek van die uitgebreide familie inneem. Mense heg in hierdie urban clan soms meer waarde aan hulle vriendskappe as aan familiebande.
Die verbrokkeling van hegte gemeenskappe
- Hegte plattelandse gemeenskappe waar almal alles van almal weet, bestaan nie in die stad nie. Hoewel ons dit soms idealiseer, is min mense deesdae regtig nog lus om in so ’n gemeenskap te woon. Hegte, klein gemeenskappe kan benouend wees. Ons het baie privaat geword, ons is nie lus om voortdurend onder die oë van sedebewakers te leef nie.
- Konserwatiewe gemeenskappe bring ondersteuning mee, maar ongelukkig dikwels ook skinderstories en veroordeling. Dink maar aan die ongehude vroue wat desjare in geheimhouding weggestuur is om hul babas in ’n tehuis of by ’n familielid wat ver woon in die lewe te bring.
- ’n Gemeenskap waarin almal mekaar ken, kan egter ’n kragtige basis wees wanneer die individu in moeilike tye beland.
Die geweldige fokus op materiële welvaart
- Vroeër jare was ’n redelik lae lewenstandaard dikwels vir hele gemeenskappe die norm. Dit het armoede sekerlik nie maklik of lekker gemaak nie, maar mense het oor die algemeen net minder besittings as vandag gehad. Vandag is die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, groter en opvallender as ooit.Materialisme het egter vandag ’n lewenswyse geword. Elke moontlike ding wat jy kan begeer, is in die winkels te kry. Teen ’n prys, natuurlik. Die advertensiewese is ’n magtige masjien wat niemand ontsien nie. Elke liewe advertensie is ontwerp om jou die gevoel te gee jy gaan vir ewig gelukkig, geliefd, gewild en maer wees as jy net hierdie koeldrank of gesondheidsdrankie drink of daardie motor besit. Dis ’n onbegonne taak om nie oorbewus te word van wat andere het en wat jy nie het nie. Om kinders groot te maak sonder ’n materiële instelling, moet vandag ’n nagmerrie wees. Ons het ’n verbruikersamelewing geword wat ons geluk in besittings soek, of ons dit nou wil erken of nie. Ons het onbewustelik ’n verband gelê tussen besittings en geluk.
- Statistiek toon egter dat mense hoegenaamd nie gelukkiger word as hulle al hoe meer besittings het nie. Wanneer iemand van brandarm na genoeg vir ’n goeie lewe vorder, verhoog sy geluk wel. Hoër op teen die leer van welvaart word die ervaring van geluk egter geensins meer nie. Meer besittings bring in werklikheid meer verantwoordelikheid, risiko’s en spanning mee. Dat geluk noodwendig met rykdom verband hou, is ’n illusie, maar ons is vandag geneig om daardie illusie te glo.
Die krag van die media
- In tydskrifte, op die internet en veral op TV word ons gebombardeer met inligting oor hoe om mooi te wees, ryk te wees, gelukkig te wees. In die armste huise wys die TV in die hoek vir mense hoe die rykes en gelukkiges lewe. Mammas speel blinkoog met beeldskone babas, modelle is brandmaer terwyl hulle sjokolade eet, stralende huisvroue leun verleidelik teen blinkskoon kombuiskaste. Sonder dat ons dit eens besef, word dit in ons koppe ingehamer dat die gebruik van ’n sekere produk vir ons sukses en geluk sal bring. Advertensies is ontwerp om ons ontevrede te maak met wat ons het en ons na meer te laat smag.
- Op die sosiale media oorweldig ons mekaar met foto’s van al die pret en plesier in ons lewe. Niemand plaas egter ’n foto van homself alleen in die donkerte van sy persoonlike probleme nie. Onbewustelik begin ons dink almal daar buite is gelukkiger as ons. Die gevolg? Ons word meer en meer ontevrede met ons eie lewe, al kom ons in werklikheid niks kort nie.
Die toenemende selfgerigtheid van die moderne mens
- Individualisme is aan die orde van die dag. Waar die individu vroeër dikwels as ondergeskik aan groepsbelang beskou is, is min van ons vandag nog bereid om ter wille van die groter geheel op te offer. Ons soek na persoonlike vervulling en geluk en ons skroom dikwels nie om die groep te benadeel in ons soeke nie.
- Daar is sekerlik baie te sê vir die groter bewuswording van die self en die strewe na geluk en vervulling. Maar wanneer die individu vandag in die moeilikheid (van watter aard ook al) beland, beskik hy dikwels nie meer oor die uitgebreide ondersteuningstelsel wat ’n vroeër geslag gehad het nie. Daarby vind hy dit in elk geval moeilik om hulp te vra, want die meeste van ons probeer maar die illusie in stand hou dat ons alles kan hanteer wat die lewe na ons kant toe gooi.
Tot hiertoe Uncommon Knowledge se baie geldige idees. Hier is nog ʼn paar gedagtes wat uit my eie ervaring ontstaan het:
Onrealistiese verwagtings
- Die individu in die ontwikkelde wêreld koester dikwels geweldige hoë verwagtings van die lewe. Ons is nie meer soos ’n vroeër (en armer) geslag maar net te dankbaar om kos en klere en ’n werk te hê nie. Nee, ons wil die beste kos, ’n oorvloed van die modernste klere en die heel beste werk hê.
Nimmereindigende kompetisie
- Nie net wil ons graag ’n volmaakte lewe hê nie, ons is konstant in kompetisie met almal rondom ons (bewustelik of onbewustelik). Ons moet ten alle koste byhou met die Joneses en die Van der Merwes. Nie net moet ons motor en ons swembad groter as die bure s’n wees nie, ons huwelik moet ook gelukkiger wees, ons kinders slimmer en ons vakansies lekkerder.
- Natuurlik gee almal hulle nie volkome aan hierdie lewenstyl oor nie, maar die potensiaal van ongesonde kompetisie sit in ons almal se psige en dit blaas daardie vlammetjie gretig aan.
- Die probleem is nie noodwendig verwagtinge nie. As ons geen verwagtinge gehad het nie, sou niemand ooit iets bereik het nie. Die probleem is wanneer die verwagtinge onrealisties word. Wanneer ons onsself voortdurend opweeg teen vriende op Facebook, maer modelle in advertensies en bure se oënskynlike idilliese huwelik, kom ons altyd êrens tweede.
Ons leef in ’n veranderende wêreld, maar fisiek het ons grotendeels dieselfde gebly
- Ons veg-en-vlug-instink funksioneer nog net soos ’n duisend jaar of wat gelede toe ons moes besluit of ons vir die leeu gaan weghardloop of dit probeer doodmaak.
- Vandag, veral in die beroepswêreld, is die bedreigings veel subtieler en die korrekte reaksies veel ingewikkelder. Baie van ons spanning het vandag nog te doen met hierdie diepgewortelde reaksies, maar ons kan nie meer op die ou manier daarop reageer nie.
- Ons word ook baie selde opgelei om hierdie nuwe situasies op nuwe maniere te hanteer. Nee, ons foeter maar voort na die beste van ons vermoë en chroniese angs, akute angsaanvalle en depressie is soms die gevolg hiervan.
UIt: Beveg depressie en leef voluit!
E-boek beskikbaar by http://www.amazon.com/Beveg-depressie-voluit-Afrikaans-ebook/dp/B00G8OBXXK/ref=sr_1_1?s=digital-text&ie=UTF8&qid=1382942285&sr=1-1&keywords=alta+cloete
Papierboek beskikbaar by alta1@telkomsa.net
so paar dae terug jou boek klaar gelees. sjoe – ek dink ‘n ieder en ‘n elk moet hierdie boek lees – die wat depressie het, en die wat familielede en vriende het wat depressie het – en dis almal !!
as ons van die stigma kan ontslae raak, sal dit wonderlik wees. dis ‘n siekte soos enige ander siekte.
Baie dankie vir jou ondersteuning – waardeer dit!