RSS

Vaarwel aan 2013!

31 Dec

Wat my skryfwerk betref, was 2013 ʼn geseënde jaar met baie om voor dankbaar te wees.

482236_10151580992643223_1926667681_nDie uitdagings van klein openbare optredes het gewissel van ʼn leeskring wat eintlik letterkunde lees (ja, ek het effens bedreig gevoel, maar individueel was almal baie vriendelik) tot ʼn biblioteekkuier waar ek (en Kristel Loots) soos ʼn koningin ontvang is (dankie Goodwood), ʼn kuier by die grondslagfase van ʼn meisieskool (meisietjies in feetjierokkies, met net een lieflike heks), ʼn kuier by Madri Victor se skryfkursus (ek onthou haar sexy skoene!) en ʼn gesprek oor die liefde saam met Kristel Loots en Elsa Winckler in ʼn lieflike kerkie by die Tulbagh Lentefees. Elkeen spesiaal op sy eie manier. Elkeen ʼn goeie herinnering op sy eie manier. By elkeen het ek iets geleer en iets van myself ontdek.

Seisoen van Vergifnis - Copy - CopyDie tweede Seisoen-boek (Seisoen van vergifnis – Amanda en Wim se storie) het na heelwat pyn en trane in Februarie verskyn en was ook die eerste Lekkerlitboek van die jaar. Die grootste werk hieraan is natuurlik al in 2012 gedoen. Skryf is nie ʼn ding waar ʼn mens op instant gratification moet hoop nie, die beloning kom eers met verloop van tyd. Wat dit soveel soeter maak.

Die derde Seisoen-boek (Seisoen van vervulling) het met betreklik min pyn die geboorteproses, afronding en al die stappe tot by verskyning in Oktober deurgegaan. Na ʼn laagtepunt laat in 2012 moes ek die moed om die storie aan te pak diep en ver gaan haal. Dis ʼn groot vreugde dat dit toe eintlik (relatief) maklik gegaan het. Daarvoor kan ek net vir Ben en Emily dankie sê (al bestaan hulle nie regtig nie). Hulle storie het my eenvoudig aangegryp, dalk maar omdat daar soveel raakpunte met my eie storie is.

Van êrens het ek die moed (of die koppigheid) gekry om ʼn mislukte romanse van ʼn jaar of twee gelede uit die laai te haal en nie net af te stof nie, maar deeglik uitmekaar te pluk. Dis besonder bevredigend as mens na ʼn tyd kan sien wat is met ʼn manuskrip verkeerd en na baie wroeging en pyn kan weet jy het dit regtig verbeter. Eindelik liefde verskyn DV in Maart 2014, speel hoofsaaklik in Leipzig af en slaag (hopelik) daarin om van toegewyde wetenskaplikes ʼn romantiese held en heldin te maak. (Dat hulle besonder baie na my geliefde Springsteen en my passievolle Poolse skryfvriendin lyk, het natuurlik gehelp.)

Die besluit om ʼn vierde boek by die Seisoen-reeks te voeg, is nie ligtelik geneem nie. Te veel van ʼn goeie ding kan sekerlik gevaarlik wees, maar daar was hierdie drie (ja, drie – en dit was juis my probleem) lieflike jongmense wat ek tog nie sonder maatjies deur die lewe kon laat gaan nie. Herman, Jennifer en Liesel se storie het na die aanvanklike moeilike besluit geneem is, relatief (baie relatief) maklik vorm aangeneem. Soos jy dalk nou al kan raai, is daar hartseer dinge in die storie. Maar daar is altyd hoop in my stories, want self kan ek nie sonder daardie hoop lewe nie. As dinge reg verloop, sal Seisoen van lig en donker hopelik laat in 2014 verskyn. As dinge nie reg verloop nie, wag daar ʼn ekstra uitdaging vir my.

Beveg depressie voorblad 1 - Copy (2)Die proses om my eerste nie-fiksie boek op (Beveg depressie en leef voluit!) op die internet te publiseer, was interessant, stimulerend, tydrowend, uitdagend, opwindend en skrikwekkend. Ek het die moeilike besluit geneem om professionele mense (ontwerper, taalversorger, iemand om die uitleg te doen) te gebruik om te verseker die boekie is van goeie gehalte en ek is nie spyt daaroor nie. Al is verkope op hierdie stadium teleurstellend, sal 2014 hopelik minstens nog een boek in die Leef voluit-reeks bring. ʼn Onverwagse vreugde is die vriende en vreemdes wat via die nuwe depressieblog hul skanse laat sak en my in vertroue neem oor hul eie swaarkry. Dis voorwaar ʼn voorreg wat ek hard probeer om waardig te wees.

Die uithaal en afstof van die nege en dertig tydskrifstories wat tussen 2004 en 2010 in veral Huisgenoot verskyn het, was ʼn groter taak as wat ek voorsien het, maar hopelik sal hulle in 2014 by die gewone internetwinkels beskikbaar word. Die herlees het in elk geval vir my groot plesier gebring. Dis nogal ongelooflik hoe gedateerd sulke verhale eintlik is, daar was dingetjies wat regtig al outyds geklink het. Die versoeking om hulle net so te vat en te laat verskyn, kon ek darem oorkom en hulle is dus op die oomblik by ʼn taalversorger wat my klein sondes met kundige vingers uitstryk.

My blog is na ek dink omtrent vier jaar op die punt dat daar steeds groot getalle lesers inkom, al post ek nie so gereeld soos aan die begin nie. Die nuwe depressieblog is nog in sy kinderskoene, maar die leserstal is stadig maar seker aan die groei. My twee fb-blaaie (Alta Cloete Skrywer en Inspirasie vir depressievegters) se ledetal het deur die plafon gevlieg en verstom my steeds elke dag. Die kontak is kosbaar. Ek is dankbaar vir elke mens wat deur my werk aangeraak word en dubbel dankbaar vir elkeen wat die moeite doen om my te laat weet.

Nog ʼn groot vreugde is die fb-groep Kom ons lees weer Afrikaans! waar ek probeer om elke dag net een nuwe Afrikaanse boek te plaas. Dis nie in die eerste plek ʼn groep vir besprekings nie (hoewel kommentaar altyd welkom is), maar ʼn manier om lesers te help bewus word van wat in Afrikaans verskyn. Die lekkerte is dat daar genoeg nuwe Afrikaanse boeke verskyn dat my voorraad nooit op word nie. Ek verwonder my daagliks aan die getal nuwe lede wat inkom. Dit gee my hoop vir boeke in die algemeen en vir Afrikaans in besonder.

Die paar besprekings wat ek hierdie jaar vir Maandblad Zuid-Afrika kon skryf, was ook ʼn lekker ondervinding. Ek noem dit besprekings, want dis geskryf met die doel om Nederlandse lesers aan te moedig om dit te lees en nie in die eerste plek bedoel as kritiese ontledings nie. Ingrid Glorie doen as redakteur van Maandblad Zuid-Afrika wonderlike werk om Afrikaans en Nederlands opnuut in kontak te bring.

IMG_0663‘n Laaste lekkerte was die geboorte in Junie van die Loslit Leeskring. Ons is ‘n klein, informele groep wat uitsluitlik Afrikaans lees en dinge nie altyd op die tradisionele manier aanpak nie. Lede is uiteenlopende persoonlikhede met uiteenlopende persoonlikhede en leessmaak en is in verskillende lewensfases. Dit maak die uitdaging groter, maar die pret ook soveel lekkerder.

Waarheen in 2014? Ek weet nog nie presies nie. En natuurlik maak dit my baie bang. Maar ek weet dit gaan nie op veilige en gebaande weë wees nie. Dis tyd om vorentoe te beweeg. En ja, natuurlik maak dit my verskriklik bang. Maar skryf is vir my een lang geveg teen die vrees vir mislukking wat mens so maklik so kan verlam dat jy heeltemal niks gedoen kry nie. Ek sal dus die geveg voortsit en kyk waar dit my uitbring.

Hiermee ʼn groot, groot dankie aan my gesin, my uitgebreide familie, kosbare vriendinne, wonderlike fb-maters en getroue lesers wat my deur hierdie jaar opgelig het wanneer ek wou gaan lê, in my geglo het wanneer ek dit nie self kon doen nie en steeds bereid was om groot happe van hul kosbare tyd op my woorde te spandeer.

 

Etikette: , , , , , , , , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: