RSS

Uittreksel: Seisoen van vervulling

15 Des

Seisoen van vervullingSy het tog weer ingedommel, want toe hy kom groet, is sy vaag en verward.

“Dankie, Emmie, jy sal nooit weet wat jy vannag vir my gedoen het nie.”

Te gou is hy weg, die voordeur se klik skielik hard in die stilte wat soos ys om haar vou. Dis te vinnig, sy kan hom nie só laat gaan nie. Sy vlieg lomp en deurmekaar orent, vou die duvet beskermend om haar lyf, struikel oor die punt en stamp amper haar laptop van die eetkamertafel af. Vir ’n lang oomblik sukkel sy met die sleutel van die balkondeur, en gil amper hardop toe haar kaal voete die sneeu op die balkon tref.

Daar onder skraap Ben nie die sneeu van sy motor af soos sy verwag het nie. Onder haar trek ’n taxi haastig weg, verdwyn die rooi agterliggies om die draai voor sy haar asem kan terugkry. Ben se silwer Volvo staan onaangeraak onder sy sneeukombers, omtrent net die registrasienommer is sigbaar: VF75038. Die diep koue swiep van haar voete af op tot binne-in haar hart. Verward strompel sy binnetoe, gaan sit bibberend die ketel aan, die duvet slepend oor die houtvloer agter haar aan. Die ketel is nie warm nie.

Iets vreemds is hier aan die gang. Ek moet ry, het hy gesê. Maar gery het hy beslis nie, daar onder staan sy motor lewensgroot en yskoud. Hoekom ’n taxi vat as jy jou eie motor het? En hy was so haastig om weg te kom dat hy nie eens koffie gedrink het nie.

Sy staan en staar die onskuldige ketel verstom aan. Wat gaan hier aan? Toe die water kook, maak sy die koffie ekstra sterk en ekstra soet. Toe sak sy met die verspotte Blou Bul-beker op die rusbank neer en trek haar voete ook onder die duvet in. Die koffie brand die nag se loomheid uit haar lyf en uit haar siel. Stadig raak sy baie, baie kwaad. Amper smyt sy die beker teen die muur van pure frustrasie. Sy wat in haar lewe nog nie iets uit woede gebreek het nie.

Om só ’n nag saam met iemand deur te bring en dan so blatant te lieg – dit strook nie met die Ben wat sy ken nie. Of gedink het sy ken nie. Haar taxi kom eers halftien, daar is genoeg tyd om uit te vind wat hier aangaan. Sy sal hom nie hiermee laat wegkom nie, dis ’n klap in haar gesig. Sy is ’n eerlike mens en sy stel ander se eerlikheid op prys. Haar gedagtes sit op loop soos sy trop honde voor ’n slee, sy swaai wild tussen verontwaardiging en ’n verbete poging tot begrip.

Ben is baie dinge, maar ’n tweegatjakkals was hy nog nooit. Iets is iewers vreeslik verkeerd.

Aan die ander kant: Dis sy lewe, sy bewegings het met haar absoluut niks te doen nie. Laas nag was prettige seks tussen twee volwassenes. Seks sonder verpligting, sonder verwagting. Hy gaan bloot voort met sy lewe. Soos sy ook gaan doen.

Maar die wete lê loodswaar op die krop van haar maag: wat sy laas nag gesê het, die vinnige leuentjie wat soos seep uit haar mond geglip het. Ben kan vir haar lieg net soveel hy wil, sy kan niks daarop sê nie. Want sy het self gelieg, oor iets veel groters as die keuse van ’n vervoermiddel. Die besef van wat sy gedoen het, sypel saam met die kafeïen deur haar lyf, die angs laat haar stik en verbouereerd orent vlieg. Liewe Here, sê nou sy is swanger?

Dis mos wat jy wou hê, Emily, ’n kind van jou eie. Jy het die eerste dag toe jy jou voete op hierdie land se grond sit, al gedink Ben sal die ideale skenker uitmaak. En daar speel hy toe so reg in jou hand. Dis die regte tyd van die maand, die ervaring was allesbehalwe onaangenaam. Dit sal wonderlik, wonderlik wees as jy swanger is.

Naar van angs sak sy terug op die bank en trek haar lyf stywer inmekaar onder die oorvloedige duvet. Dit was ’n waansinnige ding om te doen, heeltemal onnodig. Dis te vroeg, sy is maar pas dertig. Sy het nie ordentlik hieroor gedink nie. Daar is nog baie tyd om iemand te ontmoet, doodnormaal te trou en kinders te hê. Hierdie drastiese optrede is vir wanhopige vroue een of meer dekades ouer as sy, vroue wat werklik rede het om te glo die tyd het vir hulle uitgeloop.

Hy gaan haar vermoor. Hy hou nie eens van kinders nie. ’n Stoetbul, het hy gesê. Liewe goeie Vader, wat het sy aangevang? As sy kon lieg, kon hy ook. Wie sê hy is ooit skoon? Wie sê hy slaap nie elke week by ’n ander vriendin nie?

Emily, nou is jy heeltemal die kluts kwyt.

Wat sy nou moet doen, is bedaar. Die nag van haar afwas, klere aan haar bas kry. Iets te ete in haar lyf. Daarmee saam sal perspektief kom.

Pleks mens nie kaal hoef te stort nie. Want haar lyf is nie meer die lyf wat sy geken het nie. Haar lyf het wakker geword, sy sal nooit weer dieselfde wees nie. Die diep versadiging, die onthou van sy hande, die herinnering aan haar wilde oorgawe gaan nie sommer verdwyn nie. Sy kan vir ure onder hierdie stort staan en dit sal aan haar dwaasheid geen jota of tittel verander nie.

En Ben se tandeborsel staan klam en skoon in sy glasie langs die wasbak. Hy is nie regtig vir ’n paar dae weg nie, hy kom vandag nog terug. Tensy hy natuurlik by die hondeplek ook ’n tandeborsel aanhou. Hy kan dwarsoor die dorp tandeborsels in ’n verskeidenheid vroue se badkamers hê, vir al wat sy weet. Vir al wat sy omgee.

Aangetrek, met ’n tweede beker koffie in die hand, gaan kyk sy weer oor die balkonreling. Ja, daar staan die silwer Volvo. VF75038, daar is nie twyfel nie.

Stadig draai sy na die deurmekaar lessenaar in die hoek, begin skuldig die dokumente deurkyk. Onder ’n verskeidenheid onverstaanbare Noorweegse papiere kry sy die dagboek. Mooi kunsleer, glansfoto’s van Afrika-tonele deur die kalenderjaar versprei, propvol sake- en sosiale afsprake. ’n Eensame bestaan voer Ben beslis nie, sy lewe is gepak met mense en aktiwiteit. Senuweeagtig blaai sy, skuldig soos ’n inbreker. By die vorige dag se datum steek sy vas. Onthou: vas van middernag af, staan daar in Ben se uitdagende handskrif. Wat de hel? Vervaard blaai sy om. En daar is dit: St Olav’s, 6:00. Die dorp se opleidingshospitaal, die blonde dokter se werkplek; Martine, Wim se eks, die mooi, ernstige meisie in die tradisionele bunad wat sonder metgesel by die troue was. Ben het dikwels met haar gedans, sy donker kop geboë, ernstig in gesprek met haar. Sy het aangeneem dis oor Wim, oor Martine se besluit om tog die troue by te woon, dat hy haar ondersteun. Sy het die blaaskansies selfs verwelkom, die stekie jaloesie vasberade probeer ignoreer. Nou weet sy nie wat om te dink nie. Ben van Zyl verdwyn in die sneeulandskap en sy is haar vrede geheel en al kwyt.

Wel, sy het nou in sy goed begin krap, sy kan net so wel voortgaan. In die lessenaar se boonste laai kry sy sy selfoon. Watter man bêre sy selfoon so mooi as hy op ’n sakereis gaan? Skuldig rol sy deur die adresboek. Dit voel asof sy afloer, haar neus insteek waar dit nie hoort nie. Maar hoe kan sy hier weggaan as Ben hospitaal toe is? Niemand het ’n woord gesê nie. Nie sy ouers nie, nie Wim of Amanda nie.

Is dit gek om te dink dat hy vir een of ander prosedure moes ingaan? ’n Prosedure waarvan hy niemand vertel het nie? Verpligte vas, sesuur by die hospitaal, die gebruik van die huurmotor – wat anders kan dit wees? Skrikwekkende beelde vlieg deur haar kop, lagwekkende beelde tussenin. Aambeie, prostaat, ingroeitoonnaels? Wat de joos is aan die gang? Dis amper onmoontlik om in die uitgebreide familie- en vriendegroep enige geheim te hou. Daarvoor is die klomp se lewe te verstrengel, die belangstelling in mekaar te veel van ’n lewenswyse. As niemand iets gesê het nie, beteken dit niemand weet iets nie.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , ,

2 responses to “Uittreksel: Seisoen van vervulling

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: