Vang ek verlede week op rsg net die stertkant van Martelize Brink se gereelde gesprek met Heleen Meyer en hulle is met hul gewone entoesiasme oor ‘n resep vir groentekerrie aan die praat. Die gedagte aan ‘n vegetariese gereg gee natuurlik hierdie Karookind die wilde weghol. Maar ons probeer mos onse grense gereeld verskuif, so ek hou aan luister.
Toe Helene sê ‘n mens kan die eiervrug in die resep met iets anders vervang, het sy dadelik my aandag. Nie net omdat ek nie erg oor eiervrug is nie. Ek hou eenvoudig daarvan om aan resepte te peuter. Weet nie altyd of dit van slimgeit of domgeit is nie. En ek hou van goeters wat ek na willekeur minder of meer kan maak.
Hier is die basiese resep:
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
3 wortels, in blokkies gesny
2,5 ml (½ t) borrie
15 ml (1 e) kerriepoeier of na smaak
5 ml (1 t) masala van jou keuse
3 tamaties, in blokkies gesny
2 aartappels, geskil en in blokkies gesny of 300 g botterskorsie, in blokkies gesny (Ek het sommer albei gebruik.)
1 eiervrug, in blokkies gesny (Uitgelaat – eiervrug is vir my mooier as wat dit lekker is.)
125 ml (½ k) water
2,5 ml (½ t) sout
250 ml (1 k) blomkool, in blommetjies gesny of groenboontjies, in derdes gesny (Ek het sampioene en blomkool gebruik.)
¼ middelsag-kool, in repe gesny (Van die kool onder in die yskas het ek heeltemal vergeet.)
1 x 410 g-blik gebakte boontjies in tamatiesous (Weens my ewige renons in baked beans het ek kekerertjies probeer en ek dink dit werk baie lekker.)
suurlemoen en swartpeper na smaak
Ek het ‘n sterk vermoede ‘n mens kan basies maar enige groente van jou keuse gebruik.
- Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en soteer ui, knoffel, wortels en speserye.
- Voeg tamaties by en prut vir ’n paar minute.
- Roer aartappels of botterskorsie, eiervrug, water en sout by.
- Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 20 minute.
- Voeg blomkool of groenboontjies, kool en boontjies by en prut nog 20 minute of tot groente sag is
- Geur na smaak en sit warm met ’n handvol koljanderblare voor.
Die resultaat was ‘n heerlike en vullende pot kos vir ‘n nat Bolandse winteraand.
Die oorspronklike resep is op Heleen se blog by: http://www.heleenmeyer.co.za/kospos-blog/2013/08/20/rsg-21-augustus-2013-groentekerrie/
Daar is ook lekker wenke vir groen leef.
NS. Die prentjie is nie van die werklike resep nie, hoor.