Daar raak ek toe wakker sonder dat die operasie met die lang hersteltyd (= drie maande op krukke) gedoen is.
Ongelukkig omdat die been nie geskik is daarvoor nie, nie omdat dit nie nodig was nie. Maar dit ignoreer ons eers voorlopig. 🙂
Sonder die dodelike naarheid wat ek met ʼn vorige bietjie narkose (omtrent honderd jaar gelede) ondervind het.
Ook minus die koppigheid om te probeer uithou sonder pynmedikasie.
Seker een van die lekkerste ontwakings wat ek nog ervaar het.
Daardie oulike pyp wat heerlike warm lug onder jou komberse inpomp, het seker ook gehelp.
Ook die gerusstellende prentjie van die dokter wat in ʼn hoek van die teaters se voorportaal besig was om te skrop vir die volgende tannie se knie. Deeglik skrop hy, was dan oor en oor en oor en nog ʼn keer oor. Ek dink op daardie punt het ek ingesluimer. Maar die prentjie bly: ʼn dokter wat regtig doen wat hy moet doen, in onse land waar alles ongelukkig nie meer gedoen word wat eintlik gedoen moet word nie. (Hoop jy kon kophou deur al die doen’e!)
Die prentjies wat ek oorgehou het van die vooraf wag in daardie einste vertrek is net so gerusstellend: Talle mense met verskillende pligte wat betyds vir werk aankom (ek was gelukkig om eerste in die ry te wees), entoesiasties, professioneel en haastig om aan die gang te kom. ʼn Groot masjien waarvan die ratte effektief aan die draai is. Baie gerusstellend.
ʼn Groot gevoel van dankbaarheid het oorgebly van die ervaring. Daar is baie dinge wat nog REG loop in ons land.
Voeg daarby ook ʼn besef van hoe maklik ons mense kritiseer wat take uitvoer waarvan ons bitter min weet. Die oomblik as jy meer kennis oor ʼn beroep/vaardigheid inwin, besef jy hoe ingewikkeld dit is, wat ʼn lang pad van leer en oefen dit behels om daarby uit te kom, hoeveel geloof, vaardigheid, selfvertroue, deursettingsvermoë, ens. ens. dit vereis. En hoeveel negatiwiteit ons dikwels versprei met ons ondeurdagte kritiek.
Volpunte aan die dokter wat nie bloot voortgegaan het met die operasie wat hom dubbel die fooi in die sak sou gebring het nie. Daar is nog etiese mense in SA. Ek vermoed daar’s nog miljoene van hulle – hulle haal net nie die nuus nie.
Teen my sin moet ek ook sê dat ek in die vervolg minder sal probeer kla oor dokters se fooie. As die narkotiseur ʼn fout maak, is die pasiënt bokveld toe. As die ortopediese chirurg ʼn fout maak, kan die uwe dalk nooit weer loop nie. Die blote feit dat daar mense is wat genoeg vertroue in hul eie vermoëns het om hierdie soort risiko’s te trotseer, is genoeg om my klein te laat voel.
Nee, ek weet nog nie of die dokter se besluit op die langtermyn vir my voordelig gaan wees nie. Net die tyd sal leer. Maar op die oomblik hink ek vrolik sonder krukke voort, wees dankbaar dis my gespaar en hoop die volgende keer hoef nie té gou te wees nie.
Dis so waar – my ma was lief om te sê “beste stuurman staan aan wal”. Soms dink ons ons kan ‘n ander ou se werk beter doen, terwyl ons eintlik nie ‘n clue het nie. Ek hoop die dokter se besluit was toe tog reg op die lange duur 🙂
Ek hoop saam met jou!
jinne !!
Sê ek ook!