Eienskappe van Mandela: 10 – 12

Mandela 110. Weet wanneer om nee te sê:
Nelson Mandela is nie ‘n man wat van miskien hou nie.
Hy is dalk stil. Hy is dalk ontwykend. Hy sal soms uitstel en sloer en probeer om jou te vermy. Maar op die ou end sal hy nie sê wat jy wil hoor net omdat jy dit wil hoor nie.
Hoewel hy ‘n buitengewone begeerte het om mense te behaag, hoewel hy dit haat om mense teleur te stel, is Nelson Mandela baie goed daarmee om nee te sê. Daar is tye wanneer hy sal sê: “Laat ek daaroor dink,” maar wanneer hy weet die antwoord is nee, dan sê hy nee. Dit is nie so eenvoudig of maklik soos dit klink nie. Mense vergeet soms dat Nee ‘n volsin is.
Mandela hou nie daarvan om nee te sê nie; jy kan sien hoe hy sukkel om dit op ‘n hoflike manier te doen.Maar hy weet dat uitstel dit later selfs nog moeiliker maak. Dis beter om iemand vroeër, eerder as later teleur te stel. En Mandela sal nie die boodskap versuiker of aan iemand anders oorlaat nie. Wanneer hy nee sê, wil hy graag hê die boodskap moet duidelik en ondubbelsinnig wees. Hy bied nooit vals hoop nie en los nooit die deur op ‘n skrefie oop nie.

11. Haas jou langsaam:
Sewe-en-twintig jaar in die tronk leer ‘n mens baie dinge, en een daarvan is om nie oorhaastig te wees nie. As jong man was Mandela ongeduldig: verandering moes gister al plaasgevind het. Die tronk het hom geleer om versigtiger te wees en dit by hom tuisgebring dat oorhaastigheid tot foute en swak besluite lei. Bowenal het hy geleer hoe om beloning uit te stel – iets wat deur sy hele lewe verpersoonlik word.
Die meeste van ons is gewoond aan presies die teenoorgestelde. Omdat ons kultuur spoed beloon, sien ons ongeduld as ‘n pluspunt. Ons verwar onmiddellike bevrediging met ‘n manier om onsself uit te druk. Ons leer om ‘n kans aan te gryp die oomblik dat dit hom voordoen, om op elke twiet en teksboodskap te reageer sonder om ‘n oomblik te besin.
Mandela sou ons aanraai om nie toe te laat dat die skyn van dringendheid ons dwing om besluite te neem voordat ons gereed is daarvoor nie … Dis beter om stadig en oorwoë op te tree as om oorhaastig te wees bloot soday jy doelgerig sal lyk.

12. Liefde maak die verskil:
Wanneer dit by die liefde kom, is Mandela ‘n romantikus. Maar ‘n pragmatiese een. Hy het immers geen ander keuse gehad nie.
Vir ‘n groot deel van sy lewe was liefde in die verskiet, iets wat eerder in sy verbeelding en herinneringe bestaan het as in die werklikheid. En wanneer die liefde wel ‘n werklikheid was, was dit dikwels ‘n bron van pyn, eerder as vertroosting. Tog hy hy nooit die droom laat vaar dat hy liefde sou vind nie.
Apartheid in SA het dit vir hom onmoontlik gemaak om ‘n openbare en ‘n privaat lewe te hê. Sy openbare lewe het hom sewe-en-twintig jaar lank in die tronk laat beland, waar hy geen privaat lewe gehad het nie en baie min vertroosting. Deel van die diaboliese aard van apartheid was om swart Suid-Afrikaners te dwing om hul werk en gesin te skei. Dit het in Mandela se geval geslaag – nie omdat hy, soos so baie ander, gedwing is om in die stad te gaan werk terwyl sy gesin in ‘n tuisland agtergebly het nie, maar omdat dit onmoontlik was om vir vryheid te veg en terselfdertyd as vry man te lewe.

Direk aangehaal uit: Op pad met Mandela – Richard Stengel

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s