RSS

Oor moeders en dogters

12 May

Seisoen van Vergifnis - Copy - CopyIn my boeke word die karakter Amanda groot met ʼn ma van twyfelagtige sedes en onvoorspelbare buie, ʼn ma wat nie eintlik ʼn positiewe bydrae tot haar karaktervorming maak nie. Uiteindelik sterf die arme vrou in twyfelagtige omstandighede en laat haar kind vol woede agter.

Ek wens eintlik ek kon maar vir Maryna ook ʼn storie van haar eie gee. Want ek glo geen mens is net sleg nie en in die werklike lewe sou daar sekerlik ook redes vir haar lewenstyl gewees het. In lyn met die baie inligting wat deesdae daaroor beskikbaar is, kon sy heel moontlik bipolêr gewees het.

Wat die invloed regtig is van ʼn ma wat meer sleg as goed tot jou lewe toevoeg, kan ek myself glad nie voorstel nie. Ek ken om die waarheid te sê niemand wie se ma nie tonne positiewe dinge vir hom/haar gedoen het nie. (Wat seker net wys in watter bevoorregte kringe ek leef.) Al het hulle almal foute – ek dink die definisie van ʼn goeie ma is dalk maar net dat sy altyd haar uiterste bes vir haar kind doen. Onder watter omstandighede ook al.

Dat ʼn ma se negatiewe input ʼn kind se lewe op ʼn dwaalspoor kan stuur, is seker nie te betwyfel nie. Amanda is dan ook aanvanklik (Geur van genade) ʼn wilde meisiekind wat gesag uitdaag en dit lyk of sy haar lewe aan die weggooi is. In die ou dae sou die baba wat sy by een van haar dosente het (Ja, daar gebeur in die werklike lewe ook hierdie soort van goed!) seker vir die samelewing getoon het sy is nou totaal die spoor kwyt. En sou sy heel moontlik subtiel gedwing wees om die baba vir aanneming op te gee. Wat vir my na ʼn lot erger as die dood klink.

Maar gelukkig het die skrywer die keuse en kon ek Amanda daardie lot spaar. En toe verras sy my – sy word so stilletjies tussen al die aanpassing en chaos deur ʼn toegewyde ma. Klein Herman gee ʼn doel en rigting aan haar lewe en sy word as’t ware groot saam met haar kind. Natuurlik help die koms van ʼn wonderlike grootmaakpa en twee hunks as stiefbroers haar ook op hierdie pad. (Geur van vervulling).

In die nuutste boek, waarin sy die hoofkarakter is, is Amanda dus ʼn selfstandige en verstandige beroepsvrou en ʼn toegewyde ma. Wat natuurlik weer ʼn eie stel uitdagings meebring. Maar sy kies om daardie uitdagings te hanteer en nie op ʼn hopie te gaan sit nie.

Wat ek dus via hierdie karakter kon ontgin, is sekerlik die vernietigende invloed wat die gebrek aan ʼn sterk moederfiguur op ʼn kind kan hê. Maar ook dat dit nie onmoontlik is om ʼn vervulde lewe op te bou ten spyte van so ʼn agterstand nie. En dat daar dikwels ander mense in die wyer kring rondom jou is wat ʼn ietsie kan doen om daardie leemte te vul.

Die belangrikste les wat Amanda my geleer het? ʼn Mens het altyd ʼn keuse HOE jy jou omstandighede hanteer. Altyd.

 

Etikette: , , , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: