Ja, daar was al tye toe ek ook gewonder het of liefdesverhale nie eintlik maar betreklik simpel is nie. Veral die outydse soort waar die tweetjies deur ʼn klomp (vir die moderne leser) redelik sinlose misverstande uitmekaar gehou word – om dan later redelik ongemotiveerd in mekaar se arms te val en vir ewig gelukkig te wees.
Probeer ʼn mens self ʼn liefdesverhaal skryf, kom jy natuurlik agter dis baie maklik om te kritiseer (soos met enigiets in die lewe), maar heeltemal ʼn ander saak om dit self baas te raak. As jou karakters nie simpel misverstande mag hê nie, hoe hou jy hulle dan uitmekaar tot jy darem ʼn boek van die uitmekaarhouery kan maak? Want dis nie die bymekaarkom wat die storie maak nie – dis die ellende vooraf. ʼn Storie moet konflik en spanning hê, anders is dit nie ʼn storie nie.
Een manier is om te konsentreer op die ingeboude weerstand wat die karakters daarteen het om hulleself volledig tot ʼn verhouding te verbind. (Hier pas die lekker woord commit die beste.) Ons almal weet dat baie mans deur die eeue al met daardie weerstand sukkel. Of glad nie sukkel nie, maar dit vertroetel en tot ʼn bielie van ʼn boom laat groei. Vroue was dankbaar as daar ʼn man na hulle kant toe kom – net so hier en daar het ʼn individu dit gewaag om te wonder of daar dalk nie ʼn lewe buite die huwelik kan wees nie. Maar vir die moderne vrou kan commitment sekerlik ook ʼn harde neut wees om te kraak. Vroue wéét nou daar kan ʼn ryk en bevredigende en baie sinvolle lewe buite die huwelik wees. En jongmense is vandag so sinies oor die huwelik (met goeie rede ook) dat hulle nie meer so maklik met blink oë en blinde optimisme in ʼn verhouding ingaan soos die jongmense van ʼn geslag terug nie.
Daar is dus twee pole wat die mens in verskillende rigtings trek. Die een bied onafhanklikheid, die vryheid om te leef nes jy wil. Die ander bind jou, maar bring ook die belonings van behoort, van deel van ʼn gesin wees, van kinders grootmaak. En elkeen wat die besluit neem om volkome te commit binne ʼn verhouding, staan en wieg vir ʼn oomblik of tien op die randjie van hierdie afgrond.
Hoekom? Want ons is bang. Ons is bang vir wat die prys van daardie toewyding kan wees.
Die kern hiervan is ons vrees vir die einde van die verhouding. Want dis die harde werklikheid – elke verhouding kom iewers tot ʼn einde. Dit kan binnekort wees of dit kan oor sestig jaar wees. Maar iemand verlaat op die ou end vir iemand. Hetsy deur die dood of die lewe. Net hier en daar is ʼn paartjie gelukkig genoeg om skielik en saam te sterf, wat vir my na die enigste manier lyk om die pyn van ʼn afskeid te vermy.
Die skrikwekkende is dat hoe gelukkiger ons in ʼn verhouding is, hoe pynliker is die einde daarvan. Hoe meer ons daaruit kon put, hoe groter is die verlies, hoe swaarder is die afskeid en hoe langer neem herstel. Op ʼn manier is dit soos ʼn straf wat ons opgelê word omdat ons dit gewaag het om met oorgawe lief te hê.
En dis die rede waarom ek voel liefdesverhale het soveel sin. Elke verhouding waar twee mense werklik commit, behels die maak van daardie sprong teen alle vrees in. Elke persoon wat dit waag om sy/haar innerlike lewe aan ʼn ander toe te vertrou, is eintlik ʼn held of heldin in my oë. (Ek sluit nou diegene uit wat maak of hulle commit, maar eintlik die agterdeur wawyd oop hou.)
Om verlore en verlief te wees, help ʼn mens natuurlik om daardie sprong te maak. Anders sou die meeste van ons dit dalk nooit reggekry het nie. Gelukkig of ongelukkig is ons hormone steeds sterk genoeg om ons dwarsdeur ons vrese en voorbehoude te laat spring – tot selfs voor die kansel.
Vir my bly dit ʼn vreugde om denkbeeldige karakters daardie sprong te help maak. Met die hoop dat mense dit in die werklikheid ook met waagmoed en hoop sal doen. En die prys met waardigheid sal betaal wanneer die tyd dalk daarvoor kom.
Reblogged this on SKRYWERS SKRYF and commented:
So uit die perd se bek. Alta Cloete, wat eers naam gemaak het as romanseskrywer onder die naam Marile Cloete en nou weer vinng besig is om opgang te maak as liefdesromanskrywer aan die woord:
Dankie, Madelie!
Joe, Alta, jy sê dit so raak!! Dankie aan jou!
Dit is alles so waar, Alta. Om lief te hê beteken nie al die pad op ‘n afdraande glybaan nie. Mens moet soms beur om op die hoogtes te kom, maar as jy eers daar is, sien jy baie ver en wyd en was die klim dit werd.
Dankie vir die inloer, Annetjie!
So raak opgesom, dat ek dit moes deel op ’n blad van my op Facebook! (Penpunt Skryfskool). Ek het my verkneukel aan die uitmekaarhouery wat n boek moet maak 🙂
Dankie vir die inloer, Amanda!
Hierdie is ‘n baie goeie beskrywing. Dankie hiervoor Alta 🙂
Dankie, 3kies!