RSS

CANSA Shavathon: Maak ‘n bydrae!

24 Feb

CANSA ShavathonEk wil vandag oor kanker skryf. Maar dis so ‘n geweldige onderwerp dat ek nie weet waar om te begin nie. Vir die meeste van ons is dit maar net een van die talle onheile wat ‘n mens kan tref – een waaraan jy so min as moontlik dink. ‘n Mens voel mos so half jy kan jouself beskerm deur nie ‘n ding werklikheid te maak deur daaroor te praat nie.

Ek onthou vae grepe uit die dag toe my pa dood is. Ek was ses jaar oud en volkome onskuldig. Maar ek het verstaan niks sou ooit weer heeltemal dieselfde wees nie. Ek het grootgeword sonder werklike herinneringe aan ‘n verhouding met ‘n pa – die paar prentjies wat in my kop is, het hoofsaaklik met sy siekte te doen. (Hy was darem nie meer so jonk nie, want hy was baie ouer as my ma en ek was ‘n laatlam.)

My suster se dood onthou ek soos gister. Sy was 57 jaar oud en dit het ons as familie uit die bloute getref. Ek het die voorreg gehad om ons bejaarde ma na haar toe te neem en met die hulp van ongelooflike vriende die laaste paar dae aan haar sy deur te bring. Ons sal nooit weet of sy ooit van ons teenwoordigheid bewus was nie. Ek hoop ek hoef nooit weer ‘n oumens saggies in die nag oor haar kind te hoor huil nie.

My tweede suster was darem al ryp in die jare en alreeds afgetakel deur Parkinson’s.  Vir haar het die kanker eintlik as ‘n uitkoms gekom. Die proses om ‘n besige en vol lewe af te skaal tot die omvang van ‘n enkele kamer, was traumaties en ek dink niemand was werklik voorbereid op hoe vinnig dit op die ou end gegaan het nie.

Ag nee, sê jy nou – ás jy ooit nog aan die lees is. Ons is vuisvoos van hartseer stories, ons het regtig nie nog nodig nie.

OK, nou gaan ek jou ‘n wonderlike storie vertel.

Ek het ‘n seunskind – ‘n lieflike, begaafde, ondeunde, musikale, hakkelende, aantreklike, sportiewe, intelligente en hardwerkende jong man. Hy het één ding in sy lewe gedoen waaroor ek vir die res van my dae bly sal wees: Hy het betyds dokter toe gegaan.

Op 24 is testikelkanker by hom gediagnoseer. Ons het absoluut niks van dié siekte geweet nie. Van borskanker weet ons, ja, selfs van prostaatkanker. Maar hierdie ene is inderdaad nog een van die sogenaamde skaam kankers, waaroor mense bitter selde praat. Om verstaanbare redes was hy ook regtig nie lus om dit aan die groot klok te hang nie.

Ons het dus as ‘n gesinnetjie alleen deur die skok, die angs en die ondersoeke en uiteindelik die twee siklusse chemo gegaan. Ons het anderkant uitgekom met ‘n kaalkopkind wat maar net vir mense vertel het hy was ook lus om sy kop kaal te skeer soos soveel ander ouens deesdae doen. En ‘n krulkopkind toe die hare weer uitgroei. Ons het gepraat van sy kankerkrulletjies. Na die eerste sny was dit weer heeltemal weg.

My kind is gesond, heeltemal skoon. Hy gaan genadiglik gereeld vir sy ondersoeke. Dis al omtrent vyf jaar gelede – maar ek vergeet dit nie. Hoe ouer hy word en hoe verder hy in sy lewe vorder, hoe meer kom ek onder die indruk van die skrikwekkende lot wat hy – en ons – vrygespring het. My vreugde word groter en helderder, pleks van vervaag.

Dis hoekom ek vanjaar, na ‘n paar jaar se wik en weeg, besluit het om my hare tydens die CANSA Shavathon kort te laat skeer. En hoekom ek hom oortuig het om teensinnig toe te laat dat ek sy storie kan vertel.

Ek weet voor my siel ek gaan vir myself absoluut aaklig lyk. Ek weet dit gaan maande en maande neem voor my hare min of meer normaal lyk. Maar ek wil dit doen, omdat elke mens met wie ek daaroor praat, iemand is vir wie ek kan sê: Wees ingelig. Gaan dokter toe sodra iets êrens vir jou vreemd lyk of voel. En veral: Sorg dat die  jongmanne in jou lewe weet van die gevaar van testikelkanker. Dis ‘n siekte van jong mans. En dis ‘n siekte wat brein toe versprei.

Wil jy onbetrokke bly? Goed, dis jou goeie reg.

Wil jy iets doen? Gaan dan na hierdie skakel en gee ‘n donasie ten bate van kankernavorsing en die versorging van slagoffers. Die geld gaan direk na CANSA en ek trek geen voordeel daaruit nie. http://www.givengain.com/activist/85119/projects/

Ek belowe om ‘n foto op te sit. Al lyk ek ver verby aaklig.

Dis die minste wat ek kan doen. 

Advertisements
 
8 Kommentaar

Posted by op 24/02/2013 in Gesondheid, Suid-Afrika

 

Sleutelwoordw: , , , , , , ,

8 responses to “CANSA Shavathon: Maak ‘n bydrae!

  1. Lita Hartman

    24/02/2013 at 15:50

    Jy is baie dapper en bid dat jou kind se kanker volkome genees is. Ek het my dierbare Ma aan borskanker verloor toe sy 70 was. Ek sou haar nog so graag hier wou he. Die kanker is eers ontdek toe dit alreeds versprei het na die limfkliere. My suster het longkanker gehad, maar het dit oorleef aangesien hulle ‘n deel van haar long kon verwyder.
    Ek doen ‘n beroep op almal wat moontlik hier mag lees,om baie mooi te kyk na wat hulle eet en drink. Vermy die gemors wat as “kos” aangebied word. Eet vars groente, vrugte, neute, vleis en vis en ordentlike brood sonder preserveermiddel. Drink water, vrugtesap en wyn en los gaskoeldrank en aanmaakkoeldranke. Lees daardie etikette en skrik!

     
    • Alta Cloete

      25/02/2013 at 19:40

      Ja, as ‘n mens eers begin praat, kom jy agter min mense is nog nooit deur die siekte aangeraak nie. En vir elkeen is die pyn uniek.
      Ek stem hartlik saam met jou – ons kos is belangrik. Nie net om kanker te help vermy nie, maar oor die algemeen vir ‘n heilsamer lewe.

       
  2. Nadia de Kock

    24/02/2013 at 17:47

    Julle is baie sterk. xx

     
    • Alta Cloete

      25/02/2013 at 19:42

      Nie rêrig nie. ‘n Mens doen wat jy moet doen. En ek moet darem sê, dit was van die begin af duidelik dat sy prognose uitstekend was. Ons het nooit gedink ons gaan hom verloor nie. Maar ‘n skrik jou nog steeds besimpeld net vir daai woord. Ek het ook wel sy toestemmin gekry en vir ‘n paar uitgesoekte mense vertel – ander sou ek dit nie gemaak het nie. Ek is ‘n prater – stilte werk nie!

       
  3. Lidia Theron

    25/02/2013 at 13:41

    Julle is inderdaad dapper om alles so alleen te dra.

    Jy gaan nie aaklig lyk nie, ek het dit ook gedoen. Mens lyk nie dieselfde as altyd nie, maar beslis ook nie aaklig nie.

     
    • Alta Cloete

      25/02/2013 at 19:43

      Soos ek vir Nadia hierbo gesê het, ek het wel vir ‘n paar uitgesoekte mense vertel. Anders sou ek baie swaarder gekry het – ek is nou eenmaal ‘nprater.
      En ja, ons weet mos beauty (en aakligheid!) is in the eye of the beholder … 🙂

       
  4. Arina van Zyl

    26/02/2013 at 16:59

    Was goed om jou brief te lees. Het nooit van my nefie en sy familie se stille stryd bewus gewees nie en nog nooit as my ma se kanker as ‘n uitkoms vir haar gedink nie. As ek verby haar lyding kan kyk en haar nie so baie mis nie, sal ek seker daar uitkom. Sterkte met jou bewusmakings- veldtog, dit sal beslis vrugte afwerp!

     
    • Alta Cloete

      26/02/2013 at 17:26

      Arina, ek e-pos jou!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: