Ek het gemengde gevoelens hieroor. Ja, dis ‘n geleentheid vir ‘n verskeidenheid mense om geld te maak. Baie daarvan. En ‘n geleentheid vir die res van ons om geld uit te gee wat ons nie altyd het nie. Maar wat is verkeerd daarmee om ‘n diens aan te bied en mense daarvoor te laat betaal? Dis tog hoe ons ekonomie werk (of nie werk nie). Niemand dwing so ver ek weet enigiemand om ‘n peperduur rooi roos of sjokoladehartjies of verspotte beertjies te koop en vir ‘n geliefde te gee nie. (Behalwe as subtiele skimpe as dwang gesien kan word.) En ek onthou nou weer hoe die graad 7-seuns in my skoolhoudae die trippie geniet het om hul Valentynskaartjies by die meisieskole te gaan afgee. Sekerlik gaan baie meisies se hartjies vandag bly gemaak word deur iemand van wie hulle baie hou (of dalk nie so baie nie).
Maar baie meisies (en seker manne ook) se hart gaan nié vandag bly gemaak word nie. Daardie spesiale ou gaan nie van hom laat hoor nie. Of die geselskap droog op nog voor die rooi roos behoorlik verlep het. Of die kaartjie beland in verkeerde hande. Of die Valentynsverrassing val plat en die vonkelwyn is lou en die held toon onverwags sy voete van klei.
En baie van ons droom nie meer oor ‘n spesiale persoon nie. Baie van ons het ‘n geliefde verloor of nooit gevind nie – en geleer om solo oor die weg te kom. En nie net oor die weg te kom nie, maar ons vlerke te sprei en hoog te vlieg. Op ons eie. Maar op ‘n dag soos Valentynsdag (soos op ‘n verjaardag, ‘n herdenking, Lentedag of Kersfees) kan solo skielik eensaam word. Vlerke kan lam word, kosbare persoonlike ruimte kan skrikwekkend leeg voel en almal met maatjies kan skielik onbehoorlik gelukkig lyk.
Sien? Ek is sinies. Ek is ‘n liefdesverhaalskrywer wat pynlik bewus is van die feit dat die liefde nie altyd hou nie, dat verliefdheid nie altyd oorgaan in ware liefde nie, dat liefde nie altyd genoeg is nie en dat liefde dikwels, veels te dikwels (of is dit altyd?) na seerkry lei. Want iemand verlaat altyd op die ou end die verhouding, die meeste van ons verloor op een of ander stadium ‘n geliefde – synde dit aan die dood of aan die lewe. Dis maar min van ons wat bevoorreg is om vinnig en betreklik pynloos saam met die liefde van ons lewe te sterf, soos die omie en tannie uit my kinderjare wat saam in ‘n baie onwaarskynlike motorongeluk gesterf het.
Wat probeer ek nou eintlik sê? Dalk maar net dat ons kan saamspeel, maar tog die relatiwiteit van dinge moet aanhou raaksien. Dat ons sensitief moet wees teenoor diegene wat nooit ‘n briefie of ‘n verspotte beertjie kry nie. Dat ons bowenal moet dankbaar wees vir die (soms onwaarskynlike) helde in ons eie lewe. En moet onthou dat ware liefde verder strek en veel harder werk kos as die aandra van die regte kleur roos op die regte dag.
Maar ons hoef ook nie in ons sinisme te verdrink nie. Nee, ons kan maar pret hê. En ons mag onsself ook maar verdiep in ander (fiktiewe) paartjies se angs en ekstase en vryerasies en pret. Met die versekering dat die einde vir hulle waarlik gelukkig gaan wees. Om ietsie hiervan te proe, stuur nou dadelik ‘n e-pos aan lee.kirsten@aol.com vir ‘n GRATIS e-boek van die Suid-Afrikaans gebore Kirsten Lee se heerlike romantiese komedie UNRAVELLED. Gaan loer gerus by www.romanzalesers.wordpress.com vir ‘n idee waaroor al die pret gaan, asook vir ‘n plesierige proestukkie.
En lig ‘n glasie yskoue vonkelwyn op Die Liefde. Want as ons die dag te sinies is om enigsins daardeur aangeraak te word, weet ek nie meer raad met die wêreld nie.
En wat van die arme klein Cupido wat dan werkloos gaan wees?
Oulik geskryf, Alta. Ek kry nie vandag hartjies en tjokkies nie, maar Bemindste koop elke keer wanneer hy winkel toe gaan vir my (!) ‘n plak bittersjokolade. Elke aand neem ons elkeen drie blokkies vir medisinale doeleindes. Dis vir my wat romanse o.a. beteken.
My enigste probleem hiermee is dat bitter sjokolade nie SOET is nie … oor die medisinale waarde kan ek nie stry nie! 🙂
Soos altyd, is ek mal oor jou blog, en is LIKE so onvoldoende.
Lees ook my siening op my blog.
🙂
Dus onverlee
Lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer