Oppervlakkig beskou het ek nie die fliek besonder baie geniet nie. Eintlik is dit nie juis ‘n fliek om te geniet nie, daarvoor is daar te veel bloed, sweet en trane. Die akteurs wat self sing, is natuurlik iets besonders, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle altyd ewe goed sing nie (nie dat ek nou juis ‘n kenner is nie). En daarby is dit lank. Báie lank, vir ‘n haastige mens wie se bene begin pyn as sy lank stilsit. (Ek het natuurlik my breiwerk saamgeneem – en toe is ek te skaam om dit uit te haal, want daar is te veel ander mense redelik naby aan my. En met die uitkomslag kom ek agter die mens naaste aan my was toe al die tyd ‘n bekende.) Daarby is die karakters die meeste van die tyd so vuil en dikwels redelik aanstootlik (sekerlik baie realisties) dat dit regtig nie altyd ‘n plesier is om daarna te kyk nie. Dit was natuurlik ‘n tyd toe elke Jan Rap en sy maat nie ‘n huis met twee badkamers en permanente warm water gehad het nie. Om nie te praat van mediese dienste en regte van allerlei aard nie. Mense was sekerlik vuil, sekerlik dikwels gebreklik en in Europa sekerlik baie dikwels half verkluim.
Ek het ook al lank gelede (spesifiek tydens twee Afrikaanse musiekspele by die KKNK) besluit die musical as genre is regtig nie vir my nie en ek gaan ook nie skuldig voel daaroor nie. (Behalwe vir The Sound of Music – dit tel nie. The Sound of Music bring myself as elfjarige terug, aan die kuier op Speekhoutfontein in die Oos-Kaap, waar daar buiten die stilte en die boekrak vol hardeband Afrikaanse liefdesverhale, ook ‘n platespeler en ‘n hopie plate was. Daardie omslag sal ek nooit vergeet nie, Julie Andrews met die kinders jolig aan die hardloop oor die groen weivelde. Dalk is dit waar ek die eerste keer werklik bewus geraak het van hoeveel groen weivelde daar in die wêreld is waarvan ek toe nog nie vaagste benul gehad het nie.) In Le Miserables het hulle dit tot die uiterste gevoer – nie net op belangrike oomblikke gaan die karakters aan die sing nie, nee, hulle sing die hele tyd. Wel, seker 97% van die tyd. Elke mededeling, elke gesprek, met ‘n onverwagse, verlossende uitsondering hier en daar, word gesing. Vir my, musikale barbaar ten spyte van twee musikale kinders, was dit eenvoudig too much. Dis eenvoudig te onnatuurlik om vir ure aanmekaar te verduur.
Ek het dus redelik verlig terug gekom huis toe en met my lewe voortgegaan. Maar na ‘n paar uur al besef iets het tog vasgesteek, iets onverwags – eintlik meer as een ding. En soos die dae verby gaan, besef ek meer en meer dit sal bly vassteek. En dis natuurlik wat die storie sy waarde deur soveel jare gee – die universele aard daarvan.
En hiermee volstaan ek vandag – hoop jy kom volgende Sondag terug om verder te lees!
Die fliek het my sprakeloos gehad. Die eerste rukkie het die gesingery vir my geforseerd voorgekom, maar later het dit vir my so deel van de storie geword dat ek dit nie meer agtergekom het nie. Wat ‘n fliek. Die tyd het vir my omgevlieg, ek was gevange en bevange! Dis die heel eerste weergawe ooit wat ek gesien het. Ek kan dus met niks vergelyk nie. Given that, was dit vir my aangegrypend!
Ek is eintlik mal oor musicals, maar nie die Afrikaanse soort nie. Miskien klink dit meer onwaarskynlik om by elke geleentheid in sang uit te bars, omdat dit in my eie taal is.Maar ek ken elke ander musical uit my kop en besit dit ook. My kinders het daarmee grootgeword en so ook my kleinkinders. Sound of Music was toe hulle klein was Die Tannie van die Berge, maar ek moes altyd die video “forward” verby die rondhollery op die berge. Dit was vir hulle vervelig.
Les Mis is op ons kyk-lysie.
Ek het dit nog nie self gesien nie. Het wel die fliek met Liam Neeson in die hoofrol gesien, op sigself ‘n ervaring. Het ook grepe uit die verhoogstuk ‘raakgeblaai’ op die Skottel, maar kon nie die hele een klaarkyk nie. Ek dood nie oor musicals nie, maar kan dit verdra as daar sinvolle gesprekke ook is soos in Sound of Music. Vir ‘n hele opera het ek (nog nie) ooghare nie. Maar Le Mes wil ek gekgraag sien, bloot omdat sommige van die musieksnitte reeds so bekend is dat dit my hoendervleis gee.
Dankie vir julle inloer!
ha-ha alta – sou baie snaaks gewees het as jy begin brei het. soos ons op die ander forum gese het – ek dink hierdie fliek is een van daai wat jy of mal is oor, of niks van hou nie.
ek het die musical in londen gesien, so dis maar die rede hoekom ek nie die fliek wil sien nie. en okay, ook omdat ek nie vir russell crowe en hugh jackman wil hoor sing nie – hulle gaan hulle sex appeal vir my verloor … 😉
🙂