In ‘n baie interessante artikel in Die Burger word redes ondersoek waarom skrywers skuilname gebruik: http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Stories-van-pennename-20130105
Ek voeg graag ‘n paar gedagtes daarby:
Eerstens word die term skuilnaam nie meer so algemeen gebruik nie, bloot omdat min skrywers dit werklik meer geheim hou. In ons oper samelewing waar intellektuele snobisme teenoor nie-literêre skryfwerk genadiglik stadig maar seker aan die afneem is, word skrywersname deesdae dikwels om meer praktiese redes gekies.
Die belangrikste rede is waarskynlik dié wat in die artikel genoem word, naamlik waar ‘n skrywer in verskillende genres bedrywig is en dit vir lesers maklik wil maak om te onderskei. Ekself skryf liefdesromans onder my eie naam en romanses onder die skrywersnaam Marilé Cloete. ‘n Leser weet dus wat om te verwag wanneer hy ‘n spesifieke boek optel. Oorspronklik het ek albei name vir my tydskrifverhale gebruik, weens die rede wat ook in die artikel genoem word, naamlik dat té veel verhale onder dieselfde naam nie te naby aan mekaar in dieselfde tydskrif kan verskyn nie. Mettertyd het dit ontwikkel na die gebruik van my eie naam vir redelik ernstige werk en die skrywersnaam vir ligter stories. Dit lei dus logies na die onderskeid wat ek nou tref tussen die liefdesroman en die romanse. (Sien http://skrywerontwikkeling.wordpress.com/skrywerontwikkeling/meer-oor-die-verskille-tussen-die-liefdesroman-en-romanse/ vir ‘n bespreking van die verskille tussen hierdie genres.)
Ek het ook gevind dat verhaleredakteurs soms verkies dat ‘n storie wat uit ‘n manlike oogpunt geskryf is, onder ‘n manlike naam verskyn.Om dié rede het ek al as Koos van der Merwe in Huisgenoot verskyn. Aan die ander kant verkies uitgewers – of die skrywer self – dikwels dat ‘n manlike skrywer van romantiese fiksie ‘n vroulike skrywersnaam gebruik, aangesien vroue meestal (maar nie uitsluitlik nie) die lesers van romantiese lektuur is. Op die internet lees ‘n mens ook dat manlike skrywers van erotiese fiksie dikwels vroulike skrywersname gebruik, omdat die hoofsaaklik vroulike lesers daarvan soms ‘n negatiewe konnotasie heg aan ‘n man wat in hierdie genre bedrywig is.
Wanneer die genres verder van mekaar verwyder is as by myself, word ‘n onderskeiding nog belangriker. ‘n Voorbeeld is Estelle Ryan, die skrywer van die Engelse Genevieve Lenard-reeks. Sy is ook bekend as Linelle Venter, skrywer van Afrikaanse romanses in die Romanzareeks van LAPA Uitgewers. Sy skei die twee genres weens die ooglopende verskille en lê klem daarop dat sy beslis nie skaam is vir die romanses wat sy skryf nie.
Skrywers van romantiese fiksie vind ook soms dat hul werklike name eenvoudig nie goed klink in dié verband nie. Jacoba Robertson het byvoorbeeld eenvoudig nie dieselfde trefkrag as Jackie Roberts nie. (Denkbeeldige voorbeeld.) Dieselfde geld vir skrywers met baie lang, lomp name en/of vanne. Wanneer vroulike skrywers in die huwelik tree en alreeds onder hul nooiensvan bekend is, behou hulle dit gewoonlik ook vir die toekoms, net soos wetenskaplike skrywers dit doen.
Die belangrike punt hier is dat geen romanseskrywer wat ek ken, ‘n skrywersnaam gebruik omdat sy werklik haar identiteit geheim wil hou nie. (Daar kan natuurlik uitsonderings wees waarvan ek nie bewus is nie.) Sosiale media bring natuurlik ook die skrywer en leser nader aan mekaar en maak die gedagte van ‘n skuilnaam nog meer onwaarskynlik. Wanneer dit wel gebruik word, is die lesers oor die algemeen daarvan bewus, asook van die rede daarvoor.
Dankie tog dat geen skrywer deesdae meer hoef weg te kruip nie! Indien daar nog so iemand is, kan hy/sy dit gerus oorweeg om na vore te kom en te deel in die openlikheid wat deesdae die norm is.
Partykeer hap dit jou ook in die boud! Francois bloemhof het ‘n boek geskryf as Leo iemand, en toe is die boek so gewild, dat hy spyt was hy het dit onder ‘n skuilnaam geskryf.
🙂
Koos 🙂 Dis interresant. Ek het maar óók besluit om Loli te gebruik, as ek skryf, wat bloot ‘n bynaam is, en wonder ook of dit dalk later gaan ‘byt’? Maar nou ja, ek kruip miskien weg? Tog is my foto daar?
Ek dink daar is dalk soms ‘n dieper sielkundige rede agter ‘n mens se keuse … Maar ek het nie ‘n idee wat dit is nie!
Wel, miskien hou dit mens op kou tone? Soos ‘n alter ego? Dalk kan mens ander dinge sê, as jy ‘iemand’ anders is? Soos toneelspel. Sit ‘n masker/ grimering op, en speel iemand anders? Dis eintlik baie interresant.
Inderdaad!